Krag van gebed

•December 7, 2011 • Lewer Kommentaar

Ek het die laaste week of twee net weer besef hoeveel krag gebed het en watter verskil dit in mense se lewens kan maak. Twee van die verpleegsters by die hospitaal het met my kom praat oor hulle geestelike lewe. Telkens was die probleem dat daar ‘n gevoel van verwydering van God is, onvermoë om die Bybel of ander geestelike boeke te kan lees, moegheid en gebrek aan konsentrasie as dit tyd is vir stiltetyd en onvermoë om Die Heilige Gees of God se nabyheid te ervaar. Ek vra toe een van hulle kollega’s om saam te bid – niks fensie nie, net soos Die Here op ons hart sit.

Die ander spesiale geleentheid is ‘n dierbare pasiënt van my. Sy is reeds ‘n jaar lank onder my sorg en ons het haar geopereer vir kanker. Sy was een van daardie pasiënte wat ek werklik gedink het sal deur haar chirurgie, chemo en bestraling seil, maar na alles en ten spyte daarvan dat sy eintlik wonderlik goed doen, het sy emosioneel nogal uitmekaar geval. Sy het skielik allerhande gewrigs- en spierpyne gehad en oor die algemeen oud en afgeleef gevoel. Ek het ‘n paar keer maar moed ingepraat en gepaai met wêreldse wysheid, maar met haar laaste besoek het haar fasade van moedigheid weereens afgeval. Hierdie keer het ek regtig ervaar dat Die Here wil hê dat ek Hom met haar moet deel. Dit vat maar elke keer ‘n klomp moed en ‘n stap van geloof om met ‘n pasiënt wat nie duidelik Die Here ken oor geestelike dinge te praat. Op navraag het sy wel in ‘n christen huis groot geword, maar eintlik oor die loop van tyd besluit dat dit nie vir haar is nie.

Toe ek met haar begin praat oor die hoop wat daar in Christus is en die vryheid wat ons net deur Hom kan verkry het sy gesê dat sy die laaste paar weke weer baie begin wonder het oor God en of Hy regtig bestaan en dalk vir haar kan help in hierdie staat van totale mismoedigheid. Sy het vertel hoedat daar, sonder waarskuwing, iets soos ‘n donker wolk oor haar kom, iets wat haar vasdruk. Sy voel dan skielik angstig en of sy maar net sowel kan dood gaan. As sy dan dink aan haar wonderlike kinders en liefdevolle man dan voel sy weer skuldig dat sy sulke goed kan dink.

Nadat ek met haar die belofte wat in Jesus lê gedeel het, het ek vir haar gebid.

Wat die verpleegsters betref het die gebed gemaak dat hulle weer die nabyheid van Die Here kon ervaar en weer ‘n nuwe passie vir Hom begin ervaar het. Die een wat ek gevea het om saam te bid, het tot die oortuiging gekom om haarself te laat doop, iets waaroor sy ook reeds ‘n geruime tyd top. Nie omdat ons gebid het oor die doop nie, maar net omdat ons in eerlikheid saam voor God se troon gekom het.

My pasiënt skakel my vandag en sê so half verleë dat sy die volgemde oggend opgestaan het en gevoel het dat daar iets van haar af gelig het. Sy het soos ‘n nuwe mens gevoel. Haar pyn was weg en sy kon al haar pynpille los. Toe dit nou vir ‘n paar weke steeds goed gaan, het sy besluit om my te skakel. Sy het ook gebid en gevra dat Jesus in haar lewe moet kom en die bybel begin lees. In kort het Jesus deur ‘n eenvoudige gebed gedoen wat ‘n jaar se pille en praatjies nie kon regkry nie. Sy het weer vry en vol vreugde gevoel.

Hoeveel christene loop rond en bid in hulle hele lewe nooit vir iemand anders nie, ons grootste seën kom wanneer ons begin om ander te bedien met die gawes van Die Here. Op die ou einde is dit nie die boodskapper wat die krag het nie, maar die boodskap.

“Dankie Here vir U getrouheid. Mag elke gebed tot eer en uitbou van u Koninkryk strek”

Alles sal ten goede meewerk.

•November 15, 2011 • 4 Kommentaar

Ai, ek kry maar net nie tyd om by die blog besigheid uit te kom nie, maar elke nou en dan gebeur daar iets wat kommentaar verdien; Vir die wat al ‘n bietjie my blog gelees het, weet dalk dat dit begin het met “Die Doop” en ons stryd met vriende en die kerk oor die waarheid van God se woord. Die prys wat betaal is vir waarheid was groot en sommige dae dan voel ‘n mens nog hartseer oor dinge wat verlore is, soos ‘n kinderbedienning van meer as 120 kinders waarvan daar nou amper niks oor is nie.

Daar is mense wat ook saam met ons besluit het om God se Woord ernstig op te neem en ‘n keuse vir Hom gemaak het. Sommige het gegroei in hulle kennis van Die Woord en die ywer vir Die Here. Sommige se inisiële passie het vroeër of later verflou en, alhoewel hulle nie kan teruggaan na waar hulle was nie, smag hulle na die verhouding wat hulle met Jesus ontdek het toe hulle eers besluit het om Hom onverdeeld te begin volg. Daar is van die mense wat, ten spyte van die kennis oor die doop, besluit het om dit net te ignoreer.

Vannaand, by die Bybelskool was die lesing oor die doop. Die spreker het die waarheid rustig en eenvoudig uit die woord gebring, gepraat oor die betekenis daarvan en hoe dit in die Nuwe Testament toegepas is. Veral dat mense in alle gevalle dadelik gedoop is nadat hulle tot bekering gekom het, dat dit die logiese en onmiddelike volgende stap was. Ook dat dit ‘n opdrag is en nie ‘n vriendelike voorstel of aanbeveling nie. Laastens dat dit ‘n toets van gehoorsaamheid is want per slot van sake is geloof sonder dade dood.

Toe ek daar kom, sit van ons goeie vriende daar, twee getroude pare. Beide van die vrouens is reeds gedoop, om die waarheid te sê was een van hulle die groot rede waarom ons voor die inkwisisie gedaag was omdat ek en my vrou haar gedoop het en haar man ons gaan verkla het. Die wonderlike ding is egter dat haar man saam met haar daar gesit het. Hy het die laaste paar maande weer saam met haar en die res van die gesin eredienste begin bywoon by ons (nuwe) kerk en in die laaste week vir die eerste keer sedert 2009 weer begin ondersoek instel na die doop en nou ook die lesing daaroor bygewoon. Die ander paartjie het ook as gesin ‘n nuwe geestelike tuiste gevind en sy is reeds gedoop, maar haar man het tot nou toe nog nooit regtig die behoefte gehad om homself te laat doop nie.

Ek kan nie help om hier in my binneste te glimlag oor die situasie nie, dat al die hoofkarakters van die groot konsternasie in die NG gemeente nou saam, by ‘n nuwe kerk sit en luister na die onderwerp wat gelei het tot al die moeilikheid. Aan die einde was daar ‘n baie positiewe atmosfeer en ek sal glad nie verbaas wees as daar nie binnekort nog een of twee dopelinge is nie.

Ek verwonder my aan God se trou en die werk wat Hy ten midde van die vyand se aanvalle doen om vriende en gesinne te herbou en mense nader te trek aan Hom en mekaar, hoe Hy vergifnis en liefde in die hart kan opwek. Ek kyk na ons vriend wat nou in ons nuwe kerk sit en luister na die doopleer en ek besef dat ek geen bitterheid of verwyt in my hart het oor die verlede nie. My hartsbegeerte vir hom is dat hy ook die passie en vreugde van Jesus kan smaak en in volheid saam met sy gesin Die Here kan dien.

Mag God verheerlik word in dit alles.

In ‘n seker sin sal hierdie hoofstuk sekerlik afgesluit wees as hy gedoop sou word… Hou die spasie dop.

Om mense aan die satan oor te gee

•Augustus 9, 2011 • Lewer Kommentaar

Dit was ‘n lang breek van skryf op my blog – dalk ‘n tyd van rus en refleksie. Nou het my liewe vrou vir my ‘n IPAD gekoop en nou kan ek maklik gedagtes neerpen.

Daar is twee gedagtes wat die laaste paar weke in my kop ronddwaal. Die eerste spruit voort uit die houvas wat vrymesselaary op die NG Kerk het. Die tweede gaan oor die nagevolge van voorgesette willekeurige sonde.

Om te begin – dit voel vir my ons bly in die middel van ‘n vrymessellarsnes hier en ek besef al hoe meer hoe die beloofde en ontkiemende herlewing van 2008/9 gesmoor is deur ‘n georkestreerde teenaanval van die satan deur die hande van ‘n klomp ou messelaars. Die hartseer daarvan is dat die belofte wat vir almal was, uitgestel is vir ‘n volgende generasie en dat die mense wat die waarheid ontdek het, die kerk verlaat het. My vrou bedien in ander areas, soos Durbanville en dit blyk dat daar ‘n groot ontvanklikheid en soeke is vir ware leering oor Heilige Gees en ons plek in die Koninkryk van die God.

Nou besef ek dat die geheime broederskap dit ten doel het om die laer vlakke onder die sluier te hou en ek aanvaar dat daar deur ‘n klomp onkundige en misleide lede is wat onbewus die werk en koninkryk van die satan uitbrei. Ek het selfs vriende wat hewig ontken dat sulke geheime organisasies nog bestaan en funksioneer. Onkunde het seker sy eie voordele, maar ek glo dat Die Here in elkeen se lewe ‘n tyd bring dat Hy die waarheid ontbloot, en dan is die vraag wat jy daarmee doen?

Ek kyk om my rond en sien “mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” (2Tim 3:5). Dit is seker te verstane dat daar dan so baie mense is wat ateïste is. Baie van hulle was hulle lewe lank in ‘n kerk waar daar geen krag in was nie.

Soos ek die woord van God lees, is daar ‘n klompie goed wat my opval:
Die res van 2Tim 3 sê: “Keer jou ook van hierdie mense af. 6 Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, 7 wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.”
Ek lees ook in Openbaring 2 en 3 wat Jesus skryf aan gemeentes wat Sy ware leer nie meer onderhou nie.
“Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. 21 En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. 22 Kyk, Ek werp haar neer op ’n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ’n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. 23 En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” Op 2:19

Vanuit ons Geloof in Jesus wil ons graag almal in die koninkryk intrek en help dat hulle kan glo en in die vloheid van Sy beloftes loop, maar as iemand homself harnekkig teësit, wat dan?
Ek lees dat ek moet bid vir hulle, moet intree sodat hulle nie verlore kan gaan nie, en ek glo ook dat gebed die Satan se toegang tot iemand kan verhinder. Verder verstaan ek dat ons mense moet vermaan wat in sonde verval. Dit is bietjie moeiliker. Ons moet altyd eers ons eie harte ondersoek en seker maak dat ons vermaning ‘n voortvloeisel is van liefde. Dan kom die laaste en moeilikste stap waarvan ek lees in 1Kor 5. Hier vertel Paulus van mense wat kort nadat hulle so vurig tot bekering gekom het, weer in die vreeslikste losbandigheid begin verval, dan daar een man is wat met sy skoonma rondslaap. In vers 3 tot 5 sê hy dan “Want wat my betref, het ek, …besluit … om hom … in die Naam van onse Here Jesus Christus, … aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.”

In 2Tim 1:19-20 skryf Paulus ook “en aan die geloof en ’n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely, onder wie daar is Himenéüs en Alexander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie.”

Op die oog af klink dit na ‘n onchristelike houding, veroordelend en self hooghartig en ek het lank gedink hieroor. Jesus self was nie bang om verdoemende uitsprake te lewer oor die vormgodsdiens van die dag nie, maar Hy is immers die Seun van God aan wie dit gegee is om te oordeel.

Maar kom ons kyk mooi na die skrifgedeeltes. In 1Kor5 is dit duidelik dat Paulus se wens vir hierdie man was dat hy gered sal word wanneer Jesus weer kom. As ons ‘n hart het vir verlorenes, dan sal ons minder omgee oor ‘n persoon se aardse welstand, gesondheid en oorlewing as oor sy ewige verdoemenis? Is dit nie beter om eerder as gelowige te sterf deur die hand van Satan as om in voorspoed te lewe en tot die ewige verderf gevonnis te word nie? As ek Ef 4:17-27 lees dan sien ek die vermaning om in sondige, wêreldse lewe te volhard. As vers 27 sê “gee aan die duiwel geen plek nie.” word daar gepraat van ‘n inwonende besit of beter gestel, demoniese besit. Met ander woorde, as iemand in bewustelike sonde bly voortploeter is dit aanvanklik sy eie besluit, maar later gee dit geregtelike toegang tot beheer deur die satan en dan het hy nie meer ‘n keuse in die saak nie en kan hy dan selfs, onder die beheer van satan, sy verlossing verloor. Omdat Alexander en Himenéüs hulle gewete (die vermaning van Die Heilige Gees) onderdruk het en dus ‘n besluit geneem het om te laster teen die geloof, het Paulus besluit dit is beter dat hulle liggame deur satan verteer, gemartel en self gedood word voordat hulle saligheid in gedrang kom.

Hoe nou gemaak met die mense wat steeds vashou aan die halwe waarhede en die werk van God probeer keer? Daar is nou al lank gebid vir hulle en hul gemeente, daar is al vermaan, daar mag ‘n dag kom waar Die Gees sal sê “Jy hoef nie meer te bid nie en ook nie meer te vermaan nie” God het ook vir Faro 5 kanse gegee om self te kies maar Faro het telkens sy hart verhard en nie die volk laat trek nie. Die laaste 5 kere staan daar dat God Faro se hart vir hom verhard het. 2Tes 2:12-12 sê ook “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”

Vandag is daar nog tyd vir gebed en vermaning…

Te…

•September 4, 2010 • 1 Kommentaar

Die ou spreekwoord sê: “Alles wat  is is nie goed nie, behalwe te voet en te perd.”  Baie mense het al vir my gesê, dis goed om ‘n Christen te wees, jy moet net nie wees.  Jy moet ‘n goeie balans hê.  

Onlangs het hierdie ding weer sy praktiese sy gewys.  Die dame/s wat op Dinsdae die kinders bedien het met ‘n reeks oor Openbaring begin.  Natuurlik hou die ou satan nie daarvan dat hierdie boek so oop en bloot bespreek word nie.  Seker omdat dit die enigste bybelboek is wat sê: “Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan…” (Open 1:3), maar dalk ook omdat dit Satan en sy rebelse engele se finale oorwinning en straf so in detail verklaar.  Dit is een van die dinge waaroor ek nogal spyt is – dat ek eers 39jaar oud moet word voordat ek uitgevind het dat Openbaring en Daniël eintlik essensiële leesstof is vir enige Christen.  Dit gee hoop op ‘n wonderlike toekoms en ’n nuwe vertroue in ‘n God wat bo alles in beheer is.  Ek sal dalk later nog iets meer skryf oor hierdie wonderlike boeke, maar laat ek nou nie weer raak oor bybelprofesie nie…  Soos ek gesê het, wat Satan nie gelukkig dat hierdie goed sommer so met die kinders gedeel word nie en vinnig wat sy (onwetende) soldate opgelyn om dit hand en tand uit te roei.  Om ‘n lang en hartseer storie kort te knip het die oudstes en kerkleiers plegtig besluit dat die lot vroue liewer die pad moet vat, nie oor die feit dat hulle die Bybel leer nie, maar omdat hulle is.  Omdat daar nou niemand is wat die werk toepaslik kan oorneem nie, sal die kinders nou liewer aangery word na die buurgemeente wat darem ‘n meer gematigde program van onderrig sal voorlê.  

Daar is altyd ‘n groot menigte van mense wat Jesus wil volg solank dit by hulle planne inpas.  Sommige vir ‘n paar uur, somminge vir ‘n paar dae en somminge vir ‘n paar jaar, maar dit is vir my duidelik dat daar altyd maar ‘n paar bittereinders oorbly.  Die wat tè was, die wat al hulle goed verkoop het om Jesus te volg, die wat hulle pa onbegrawe gelaat het en agterna is, die wat nog besig was om vis te vang en toe die besigheid sommer net so los, die wat ‘n gesienne en vurige Joodse Fariseer en wetsgeleerde was wat op pad Damaskus toe skielik besef het hy is op die verkeerde pad…  Maar telkens het hierdie manne wat die geheimenis van die koninkryk van die Hemele besef en verstaan het hulself alleen en afgesonder gevind, soms op ‘n boot in ‘n storm, soms in ‘n tronksel, soms in die middel van ‘n groot skare van mense wat hulle wou stenig.  Nou en dan was hulle in die midde van ‘n klomp mense wat dieselfde waarheid as hulle gesien en aangeneem het, hulself laat doop en met die Heilige Gees vervul is.  Hulle kon dan ‘n bietjie rus en vrede ervaar in ware broederskap, maar nie vir lank nie, dan het die valse leraars weer opgedaag.  Telkens het hierdie valse leraars een van twee dinge kom preek: 

  • Jesus is great maar moet asb net nie die ou tradisies weggooi nie!  Hou die wet, word besny, om die waarheid te sê moet julle al Moses se wette hou!
  • Jesus is great en het julle kom vry maak – jy kan dus sonde doen soveel jy wil, om die waarheid te sê, hoe meer sonde jy doen, hoe meer word God se genade!

 Telkens moes Paulus weer na die tyd briewe skryf om die mense te herinner aan die evangelie wat hy gepreek het.  Hy moes self vir die Galasiërs vra of hulle getoor is dat hulle sommer so gou vergeet van alles.  Dit blyk dus vir my dat alhoewel Jesus vra dat ons ALLES vir Hom gee, ons hele lewe, dat ons is vir Hom, die meeste mense graag na Sy boodskap luister, graag vra om vry gemaak te word, solank as hulle net ‘n goeie balans kan behou tussen die wêreld se plesier en diens aan die Seun van God.  Hulle is soos die dwase man wat luister na Jesus se woorde, dit self glo maar dit nie doen nie.  Hulle bou hulle huis op die sand en dan wonder hulle waarom die storms hulle huis omwaai!  Waarskuwings soos in 1 Kor 3:10-15 gaan by hulle verby.  

Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, (11) want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. (12) Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, (13) elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. (14) As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; (15) as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is. 

Weet julle dan nie dat ons almal die ewige lewe sal beërwe deur geloof in Jesus nie, maar dat jou loon, jou beloning bepaal sal word deur hoe jy was nie? Ek sal verkies om die kroon van die lewe te kry, om saam met Jesus op die troon te heers, om voor God se troon te kan staan en hoor: “Goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel.  Gaan in die vreugde van jou Heer”  Ek wil nie soos die Laodicense hoor dat ek lou is en daarom uitgespoeg sal word nie.  Laat die een wat ‘n oor het hoor wat die Gees vir die mense sê: 

Opn 3:14-22 

  • (14) En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: 
  • (15) Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 
  • (16) Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 
  • (17) Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 
  • (18) Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. 
  • (19) Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. 
  • (20) Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. 
  • (21) Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 
  • (22) Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. 


Nee wat, waar dit die Die God van die ewigheid aangaan is daar nie ‘n ding soos tè veel nie, daar is telkens net te min.  Dalk is God se uitnodiging in vers 18 vir jou?

Die Gees van Saulus

•Augustus 25, 2010 • 2 Kommentaar

Is dit verkeerd om godsdienstig te wees?  Wat is dit nou eintlik?  Kan dit eintlik afgodery wees?  Ek ervaar dit die laaste jaar so baie om my. Waar die godsdiens belangriker is as die diens van God!

Ek gee ‘n voorbeeld – ek het vroeër geskryf oor die doop van ons vriendin en hoe haar man saam met ‘n ander gemeenskaplike vriend dadelik die predikante en kerkraad gelas het om die saak aan te spreek en al die hartseer dinge wat daarna gevolg het.  In hierdie tyd het ek regtig gedink dat ons almal tog net die volmaakte wil van God vir ons lewens wil ken en daaraan gehoorsaam wees – dit is tog die basis van geloof, want geloof sonder dade is dood.  Jy kan nie met die mond bely dat jy glo maar dit verander nie jou lewe nie!  Tog het ek gesien hoe mense wat die skrif ken, die dinge wat daarin staan ignoreer sodat die tradisies van die voorvaders onderhou kan word.  Ek het baie gebid dat God Homself aan hulle sou openbaar en die sluier lig.  Dit was net vir my onverstaanbaar tot ek besef het dat daar ‘n gees van godsdienstigheid aan die werk is, ‘n bose gees wat die verstand afstomp vir die waarhede van Jesus se leringe en vir die Heilige Gees se oortuiging.  Ek het vertel van my moedeloosheid by aanskoue van die ongeregtigheid toe Adriana, my vrou, verbied is om betrokke te wees by die kinderbedienning alhoewel al die leidsters wat dit huidiglik bedryf in dieselfde leer van Jesus oor die doop en Heilige Gees glo as sy.  Dat die leierskap van ‘n kerk in die naam van godsdienstigheid die uitbou van die koninkryk van God kan verhinder of beperk! 

Nou sal ek verneem weer dat daar by ons ou gemeente allerhande woelinge is, dat enkele mense, of sal ek sê, dieselfde mense,  weer op ‘n ondersoek aandring na die leidsters wat dan nou die kinders se koppe vol gemors oor Jesus en Die Heilige Gees wil prop.  Ek kan nie help om te dink aan Saulus nie.  Hy was ‘n gesienne en vurige Farriseer, ‘n skrif geleerde wat onder Gemaliël, een van die voorste Rabbi’s van die tyd, sy leringe ontvang het.  Hy was so vurig in sy oortuiging dat hy alles in die stryd gewerp het om hierdie sekte van Jesus aanhangers van die aarde af weg te vee.  Nadat hy toegekyk het hoe Stafanus doodgegooi word met klippe het sy lus vir bloed en vernietiging net toegeneem (klink dit nie ‘n bietjie soos iets wat ‘n demoon sal doen nie?) en het hy gaan briewe vra sodat hy die volgelinge van Jesus ook in die omringende dorpe kon gaan vind en gevange neem.  Hy het natuurlik nooit ‘n klip opgetel en gegooi nie.  Hy het maar net ondersoeke gelas, mense uitgewys en gehelp om hulle gevange te neem.  Die feit dat hulle gekruisig en gestenig sou word of soms in die arena deur wilde diere verslind moes word, was mos nie eintlik sy skuld nie?  Hy wou maar net die wêreld beskerm teen die klomp ketters en lasteraars sodat die Jode die oorgelewerde gebruike van hulle voorvaders kon navolg en daardeur hulle redding bewerkstellig.  Wat sê Jesus nou weer: ” So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het:  Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.(Mat 15:5-9)”  Vir hierdie mense was die skyn van godsdienstigheid belangrik sodat die ander mense baie van hulle kan dink.  Dit het glad nie gegaan om werklik die wil van God te soek en daaraan getrou te wees nie. Jesus noem hulle die geveinsdes, akteurs, mense wat kerk speel vir die vermaak van ander.

Saulus het op pad na Damaskus sy Moses, of sal ek sê sy Jesus teëgeloop toe hy voor die aangesig van die Een wat hy probeer verdelg te staan kom en vir drie dae met blindheid geslaan is.  Hy moes na Damskus gelei word soos die blinde wat hy sy lewe lank was – dit is nou die geestelike blinde. 2 Kor 3:13-14 praat juis daarvan dat die bedekking oor sy oë net deur Jesus gelig kan word.  Daar moes hy wag op die barmhartigheid, liefde en gehoorsaamheid van een van die mense wat hy juis wou kom uitroei, Ananias.

Ek wil tog ‘n woord van vermaning rig aan mense wat in die naam van tradisie en godsdienstigheid die verkondiging van die evangelie wil keer.

Luister na Jesus as Hy sê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!(Mat 7:21-23)” 

Hy sê ook  in Mar 9:42 :”En elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter as ‘n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.”

Die gees van Saulus – die gees van godsdienstigheid het niks te doen met diens aan God nie, dit is die werk van satan, dieselfde gees wat die enigste Seun van God gekruisig het!

 

My liewe Here God, ek vra in die Naam van Jesus Christus dat die gees van godsdienstigheid met ketting vasgebind sal word sodat die waarheid en krag van U koninkryk sal toeneem.  Laat U koninkryk kom op hierdie aarde soos in die hemele.  Dankie Jesus dat U die sluier kan lig sodat ons U in Gees en waarheid kan aanbid.  Amen.

Immunisasie teen Satan

•Augustus 24, 2010 • 1 Kommentaar

Is daar so iets?  In die kerk van my jeug, is ek geleer dat ek glad nie vir Satan hoef te vrees nie en dat demone en bose geeste niks aan my kan doen nie.  Basies is ek geïmmuniseer teen die bose toe ek ‘n Christen geword het.  Intussen het daar egter ‘n ander werklikheid my in die gesig begin staar – goeie, Christen mense wat demonies manifsteer.  Soms subtiel maar soms geweldadig, skreeuend en skuimend.  Goeie wedergebore, Geesvervulde oorgegewe vriende wat onder gebed skielik goed kwytraak wat defnitief nie uit hulle eie gees kom nie.  Wat nou?  Het die immunisasie nie gewerk nie of wat? 

Ek kry vandag ‘n vraag op my blog:

 ”Vanoggend in die kerk het ek geskreeu toe hulle vir my bid. Die pastoor sê dis ‘n demoon. Wat ek nie verstaan is dat ek lees elke dag 10 hoofstukke in Vader se Woord ek trek elke oggend die wapenuitrusting aan ek bid en ek pleit die Bloed van Jesus oor my. Hoe is dit moontlik dat ‘n demoon in my liggaam inkom?”

Ek het as student in Sunnyside in Pretoria gebly.  Dit is sekerlik die kakkerlak hoofkantoor van die wêreld.  Dit het nie saak gemaak hoeveel keer ons die vloer geskrop, die skottelgoed gewas, elke krumeltjie van die kaste af gevee het en die plek met gif bespuit het nie, as jy in die middel van die nag die kombuislig aangeskakel het, dan het jy net kakkerlakke gesien hol.  Ongelukkig bly ons steeds hier op aarde, waar die Satan heerskapy voer en waar hy selfs aan Jesus, die Seun van God, die koninkryke van die aarde aanbied.  Solank ons hier is en tot Jesus kom om die bose magte finaal te verslaan, sal die kakkerlakke tussen ons wees.

Ons moet besef dat daar eintlik ‘n groot stryd is tussen Satan en God vir elke mens op aarde.  As jy nie vir Christus ken nie dan is dit redelik maklik vir Satan om jou in besit te neem- hy het geen kwessie om jou eie wil onder sy slawerny te plaas nie.  Dan is daar die twee bouers van Mat 7 wat beide Jesus se woorde gehoor het maar die een bouer doen dit en pas dit toe en bou sy huis op ‘n rots en die ander pas dit nie in sy lewe toe nie en bou sy huis op die sand.  Die aanvalle (storms) tref beide, maar die wyse man wat Jesus se woorde gehoor het en toegepas het, het staande gebly tewyl die ander een se huis verwoes is.  Die een seker feit vandie lewe is dat ons baie storms sal trotseer!

In ‘n Christen se lewe is demoniese toegang dus nie so maklik nie.  Satan moet telkens voor God se troon gaan toestemming vra voordat hy God se kind kan aanval.  Kyk maar wat sê Jesus vir Petrus in Luk 22:31 of wat staan in Openbaring 12:10.  Hy weet dat God nie sonde ongestraf laat by nie, en dring daarom aan dat ons gestraf word vir ons onbelyde sondes. 

Hoe kry die goed dan ‘n houvas op ons lewens?

  • Deur onbelyde sonde in ons lewe.
    • Onvergifnis is een van die algemeenste – Mat 18-32-35 waarsku ons baie duidelik hieroor.
    • Hiervoor moet Satan telkens voor God se troon vra om die persoon te sif.
  • Deur ons voorvaders se sonde of geregtelike toegang aan die bose.
    • Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; Ex 20.5.
    • Ook in Num 14:18 is dit duidelik dat God die sondes van die vaders aan die kinders besoek.
    • Hierin is daar ook ‘n sekere beskerming dat die demoniese toegang net drie of vier geslagte sal geld.
    • Die algemeenste voorbeeld hiervan is die betrokkenheid by Vrymesselary
  • Deur deel te neem aan enige okkulte aktiwiteite (fortuin vertellers, geeste oproep, glasie-glasie speel ens.)
    • Dit is voor God ‘n gruwel en dit word herhaaldelik verbied. 
    • God is die enigste Alwetende Wese.  Geen demoon of Satan of Engel ken die toekoms sonder God se mededeling nie.
    • Dit gee onmiddelike toegang to demoniese besetting.
  • Deur dwelmgebruik of enige ander middels wat die verstand benewel.
    • Gal 5:20, Op 9:21 en Op 18:23 praat van towerye.  Die Grieks is pharmakeia (waar die woord Pharmacy vandaan kom) en impliseer dus die gebruik van middels wat die verstand benewel.
  • Deur seksuele molestering of verkragting of ander traumatiese gebeure.
    • Seksuele losbandigheid en satanisme gaan hand aan hand.  God het die huwelik ingestel as veilige verhouding waar binne seksuele omgang kan plaasvind.  Dit is opvallend dat  Jesus owerspel as die enigste grondige rede vir egskeiding noem (Mat 19:9)
    • Verkragting gaan nie oor seks nie maar oor geweld deur mense onder beheer van die duiwel.  Diy is met die intensie van Satan om demoniese houvas op ‘n ander se lewe te kry.
  • Deur vloeke wat teen ons gespreek word
    • Paulus skryf aan die Galasiërs oor sy verbasing dat hulle sou gou van God afvallig geword het. In vers 3:1 vra hy wie hulle betower het. Hulle verstand en begrip is deur vloek verduister om nie aan die Evangelie getrou te bly nie.
  • Deur voorwerpe en afgode wat voor God ‘n gruwel is, in ons huis te hou
    • Deut 7:25 en 26 waarsku dat die Israeliete nie die beelde en afgode van die heidene in hulle huise moet inbring nie.  Wat is ‘n Budha beeld anders as ‘n afgodsbeeld?  Hoeveel ander afbeeldings van Griekse gode, oosterse gode Noorweegse gode, ens. nie?  
  • Deur ‘n eed wat jy afgelê het en nie nagekom het nie.
    • Jakobus waarsku dat ons geen eed moet aflê nie (Jak 5:12).  God neem ‘n eed wat gesweer word baie ernstig (Num 30).  Ons sal ook geoordeel word oor eelke woord wat ons spreek (Mat 12:36)

Hoe voorkom ons dat Satan ‘n houvas op ons lewe kry?

Dit is ‘n daaglikse stryd – onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed, maar teen die bose magte in die lug – teen Satan self, want as ons nie vir God is nie, is on teen Hom – om God te dien is nie grys nie, maar wit of swart.  Daar is net twee paaie, breed of smal, net twee poorte wyd of nou. Daar is nie ‘n middel opsie nie!  Aanvaar dus dat niemand immuun is nie, anders sou Jesus nie nodig gewees het nie.  As jy ‘n soladaat in ‘n oorlog is, dan moet jy ‘n paar basiese dinge doen;

  • Trek jou wapenrusting aan elke dag – ‘n kaalnaler op die die oorlogsveld is ‘n maklike teiken!  Lees Ef 6:10-18
  • Maak jou wapen skoon – slyp jou swaard.  Die gesproke Woord van God.  Jy kan net die Woord van God praat as jy die Bybel ken.  ‘n Mens oefen ook eers om die swaard te gebruik in ‘n veilige omgewing waar jou foute nie jou lewe sal kos nie.  Kry dus ‘n klein groep van getroue Christene om die Woord mee te deel waar foute in liefde reggestel kan word.
  • Ken die plan van die Generaal.  God is in beheer – die hele geskiedenis van die wêreld is in Die Boek van die waarheid opgeteken (Dan 10:21).  Hy sal dit op die regte tyd aan ons bekend maak, maar dan moet ons gereeld met Hom praat sodat Hy sy wil en plan vir ons lewe aan ons kan bekand maak.  As ons nie luister na die Generaal se plan nie en op ons eie op maneuvers gaan, mag ons onself dalk in die midde van die vyand bevind.
  • Bly op die smal weg – in Ef 4:25-27 noem Paulus ‘n klompie goed wat daartoe kan lei dat die Satan ‘n “topos (Gr)” in ons lewe kry.  Dit beteken ‘n bewoonde grondgebied of plek. In Satan se terme word so ‘n plek deur demone bewoon.  Ons kan al Jesus se leëringe ken, en dit selfs glo, maar as ons dit nie doen in ons lewe nie, dan bou ons op sand en SAL ons huis tuimel.  Jakobus sê in hoofstuk 2 dat geloof wat nie ons lewe en dade verander nie, dood is.

 

“He came to set the captives free” Jes 53

Bevryding is ons beskore! Jesus belowe in Mark 16:17 dat ons duiwels in Sy Naam sal uitdryf.  Heilige water, purgeer middels en anti-depressante dryf nie duiwels uit nie. Net Jesus Christus, Seun van God het gesag oor Satan en die Bose – Hy alleen het hulle oorwin en soos Openb 19 belowe sal Hy ook die aarde terugwen vir ons.   Hieronder gee ek ‘n paar breë riglyne, maar dit is beter om met iemand te gesels wat ervaring daarmee het.  Wees net bedag dat elkeen wat sê Here, Here nie in die Koninkryk van God sal ingaan nie. (Mat 7:22)  Kyk na die vrug in hule lewe!

 Hoe word ons bevry?  Eerstens moet dit uit liefde vir mede-gelowige gedoen word.  As jy kakkerlakke in jou huis het, is dit nie omdat jou huis vuil is nie! As die duiwel ‘n houvas op jou lewe en liggaam verkry het, bly God steeds lief vir jou en deur Jesus het jy steeds die oordeel vrygespring.  Satan probeer jou oortuig dat jy nie gered kan word nie, dat jy vuil is, dat jy skaam moet wees, bevrees en verskrik, dat jy nie meer tuis kan voel in die gemeenskap van gelowiges nie.  Hy is van altyd af ‘n leuenaar en moordenaar! (Joh 8:44)  Jesus sê: Nee! Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe.  Bevryding sonder liefde is hoogmoed!

Doen dit op Heilige Grond – jy kan nie die vyand aanvat op sy grondgebied nie.  Lucifer wat God se hoogste skepsel.  Hy is slimmer en sterker as enige mens. Heilige Grond beteken ‘n fisiese plek waar God alleen koning is, waar daar geen gruwels voor Hom is nie, afgesonder en verseel deur Jesus se bloed.  Dit kan ‘n kerkgebou wees, maar ek was al in party kerke waar daar snaakse goed teen die mure hang.

Vra dat Die Heilige Gees vir julle wys waar die toegangsplekke is – enige onbelyde sonde moet voor God bely word – onthou trots is Satan se grootste wapen.  Hiermee probeer ons onsself regverdig sodat ons nie hoef te bely nie.  Vra Jesus om elke toegangspoort,  nadat dit  bely is, deur Sy bloed afgeseël word.  Vra Die Heilige Gees om jou te vul en te bewaar.  Bekering beteken om ons weë te verander – om ‘n sonde te bely en dan daarin voort te ploeter help niks, Jesus waarsku in Luk 11:26 dat daardie demoon met sewe slegter as hyself sal terugkom.  Vra die Heilige Gees om jou te vul en beseël sodat jy nie meer sal sondig nie.

Soms voel dit of ons teen ‘n muur vasbid en wil die goed net nie padgee nie.  Jesus se dissipels het dieselfde frustrasies gehad (Mar 9:17-29) Afhanklikheid van God is essensieel.  Soms moet ons vir God vra om te keer dat die demone hulle ore toedruk sodat hulle kan hoor.  Daar is egter tye dat God se antwoord is: “My genade vir jou is genoeg” Paulus het self met hierdie probleem gewroeg.

2Kor 12:6-10 : Want as ek sou wil roem, sou ek nie ‘n dwaas wees nie, want ek sou die waarheid praat; maar ek laat dit ná, sodat niemand my hoër mag skat as wat hy van my sien of wat hy van my hoor nie. En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk

Ek wil tog ‘n laaste woord gee – Jesus het ons meer as oorwinnaars gemaak.  Ek leef nie in vrees nie, ek leef ook nie in ontkenning nie, maar kyk die vyand reguit in die gesig want ek weet met My God loop ek ‘n bende strom en spring ek oor ‘n muur (Ps 18).  Soms is dit net nodig om voor die spieël te staan en die gesag en Naam van Jesus te spreek of dadelik enige onvergifnis of sonde te bely en Jesus se bloed daaroor te smeek en sodoende enige geregtelike toegang te verbreek. 

Gaan kyk gerus op http://www.trumpetcall.co.za vir nog inligting.  daar is ook gebede vir spesifieke goed waarby jy of jou voorvaders dalk betrokke was.

Gehoorsaamheid, Die wedloop en Geloof

•Mei 26, 2010 • Lewer Kommentaar

Ek wonder weer vannaand hier by myself hoekom ons mense wat onsself Christene noem dan so neidig teenoor mekaar is.  Ek is seker as ek die vraag vra: “Glo jy in Jesus Christus?” dan moet elke Christen se antwoord wees “Ja”.  En dan moet ek vra of jy glo dat Jesus Christus God se Seun is wat vlees geword het en gesterf het as perfekte versoeningsoffer vir ons almal se sonde?  Weereens moet enige Christen sê “Ja” en dan of jy glo dat Hy deur God, die Vader uit die dood opgewek is, en dat Hy opgevaar het na die hemel waar Hy nou sit op die troon tot Hy weer sal kom?   

Nou sal ek ‘n dom vraag vra.  Dink jy dat dit belangrik is om aan God gehoorsaam te wees?  Ek vra dit maar net, want dit wil my soms voorkom dat ons een ding met ons mond bely maar ‘n ander ding leef.  Ons kan baie eenvoudige voorbeelde opnoem.  Staan daar nie duidelik in God se woord dat jy nie mag leuens vertel nie en tog praat vele Christene daagliks halwe waarhede of praat sommer blatante leuens.  Nou kan ons ‘n lang lys van goed opnoem wat in die Nuwe Testament genoem word wat nie tuis hoort by ‘n christen nie soos vuil taal, losbandigheid, geldgierigheid, afgodsdiens en nog baie meer.  Die meeste Christene leef nie asof hulle hierdie goed belangrik ag nie, hulle vergewe mekaar nie, bid nie vir hulle vyande nie en verkondig nie die evangelie nie.  Om die waarheid te sê, is daar baie mense wat rondloop en hulle lewe getuig van niks meer as ‘n wêreldse bestaan nie, hulle inspireer niemand om hulle om ook hierdie Jesus aan te neem nie.  

Nou is daar diegene wat wel ernstig soek na God se wil, wat glo dat as hulle Jesus die beginner en voleinder van hul geloof wil maak, wat wil streef om meer en meer soos Hy te word.  Hulle maak hulle harte oop vir hierdie Lewende God wat met hulle praat, nie net deur Sy Woord nie maar ook deur persoonlike oortuiging.  Hulle besef dat hulle te veel vloek en daarmee ophou, hulle gooi die pornografie in die asblik, hulle vergewe die ou skoolhoof vir daardie pak slae in standerd sewe en bid ‘n seëning oor hom en sy familie.  Dit is ‘n moeilike pad want baie dinge moet voor God bely word en daar moet vir baie mense  jammer gesê word.  Soms vat dit dae se moed bymekaar skraap, soms moet bespotting en neerhalende opmerkings getrotseer word.  Maar tog glo hulle dat God ‘n beloner is van die wat Hom soek.   

Die ding wat ek sukkel om te verstaan is dat die mense wat met hulle monde bely dat Jesus die Here is maar met hulle lewe geen getuienis lewer nie, juis die wat Jesus met hulle hele lewe wil dien, probeer keer.  Dit maak nie sin nie, want albei glo inherent aan dieselfde God en dit impliseer dat albei groepe wil doen wat vir Hom aanneemlik is?  Wat beteken dit immers om ‘n God te dien maar geen behae het om Hom te gehoorsaam nie?   Ek onthou toe my vrou die eerste dag vir my gesê het dat sy graag gedoop wil word – boeta, die aarde het geskud.  Ek was kwaad, hartseer, telleurgesteld en sommer net ontstig tot in my diepste wese.  My eerste reaksie was om haar te keer en gelukkig het sy my verdra, maar net omdat ek toe besluit het om uit die Woord van God vir haar te oortuig van haar dwaling.  Die onderwerp het my gedagtes nooit verlaat nie – ek het elke geleentheid gebruik om tekse op te soek.  Ek prys Die Here daarvoor want dit het my gedwing om weer Sy Woord te lees na omtrent 10-jaar van lou en ongeïnspireerde Christenskap.  Hoe meer ek gelees het, hoe meer het ek waarhede uit die Woord begin ondek.  Nie net oor die doop nie, maar ook oor ander dinge.  Dit het ‘n lewe van stelselmatige heiligmaking tot gevolg gehad.  Toe ek tot die gevolg kom dat ek verkeerd was in my sterk opinies, moes ek haar om verskoning vra en kon ek haar doop.  Dit het my nog etlike maande geneem om self die belangrikheid van gehoorsaamheid te besef.  Die punt is, ek wou haar in my onkunde met alle geweld weerhou daarvan om die regte ding te doen tot eer van die God waarvoor ek reeds toe baie lief was.  

Daar is egter sommige mense wat geen belang daarby het om self die waarheid te ondersoek nie en net daarop uit is om hulle broeders en susters in Christus teë  hou.  Paulus praat van die wedloop waarin ons almal is en in my geestesoog sien ek die lot daar langs die pad.  Hulle staan daar met hulle ontwerpersklere en Nike skoene en voel dit hulle plig om die ouens wat verby kom te pootjie .  As jy hulle vra, dan sê hulle dat hulle ook aan die wedloop deelneem, maar hulle lyk nie of hulle enige behoefte het om te hardloop of eens te loop nie.  Hulle is mos nou ingeskryf vir die resies, nou kan hulle ontspan.  Is ons dan nie almal in dieselfde span, oppad na dieselfde doel toe nie?  Is ons nie almal veronderstel om die padkaart te bestudeer, mekaar te help en te luister na ons Aanmoediger (Heilige Gees) nie?  As dit vir my lyk of iemand op die verkeerde plek afdraai, dan moet ek hom probeer reghelp, ja, maar dan eers nadat ek self die padkaart goed bestudeer het.  As ek dit nie doen nie en ek hou hulle terug, wie sal dan verantwoording doen daarvoor op die ou einde?  

As ek sien hoe Die Here Sy hand na mense toe uitsteek en ek sien hoeveel mense geïnspireer word om hulle lewe na die wil van ‘n Heilige God te skik en hoe vinnig dit gebeur, dan weet ek, die einde is naby.  As ek vir jou vandag sou sê dat die Here Jesusop 23 Augustus kom om sy bruid te haal, hoe sou jy voel oor jou saak met Hom.  Sal jy opvaar in die lug, Hom tegemoet?  As Hy jou vra oor jou gehoorsaamheid aan Hom en Sy opdragte, wat sal jy sê.  As Hy die mense wat jy gepootjie en teruggehou het oor jou lewe voor jou bring en verantwoording vra vir elkeen, wat sal jy antwoord?  Kan jy opreg sê dat jy Sy aangesig gesoek het en jy in opregtheid tot aan die einde die wedloop voltooi het?

Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.   1Kor 3:11-15

Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom. Mat 18:7

Pinkster, Gawes van die Gees en Tale

•Mei 24, 2010 • 3 Kommentaar

Wat ‘n wonderlike naweek wat verby is. Twee vriende wat ons baie min te sien kry, eintlik die eerste mense wat ons hier in die Kaap leer ken het, dertien jaar terug, is Sondagaand gedoop.  Saterdag het ek en Adriana by Logos Kerk as deel van hulle Journey to Intimacy, gaan musiek maak.  Sondagoggend was ek by Cape Town Church of Christ en het die aanbidding en boodskap baie geniet, maar meer as dit, het drie vriendinne elkeen afsonderlik  ’n uitstoritng van Geestelike Gawes beleef.  Natuurlik het al die vrae rondom dit weer na vore gekom.  Is dit regtig van God?  Word dit verkeerd gebruik? 

Daar is wyd uiteenlopende dinge gesê en geskryf oor die gawes van die Gees, van “dit het gestaak nadat die kerk gevestig is” tot “elkeen moet elke gawe kan beoefen anders is hy nie ‘n ware Christen nie”.  Natuurlik is albei hierdie pole verkeerd.  Ek het self oor die laaste twee jaar gewroeg oor veral die kwessie van spreek in vreemde tale, omdat dit die gawe is wat ons sekerlik die meeste sien en beleef.  Ek het oor die tyd ’n klompie dinge vir myself uitgesorteer, maar sal glad nie sê dat ek alles verstaan nie.  

Uit die aard van die saak het ek groot geword in ‘n kerk waar die Heilige Gees ‘n abstrakte konsep was en waar ek nooit die gawes waarvan in 1Korinthiërs gepraat was gesien het nie.  Toe ek dus die eerste keer gekonfronteer word met iemand wat in tale praat, was ek redelik onseker oor hoe om dit te hanteer.  Ek het die Woord van God gaan ondersoek om meer te probeer verstaan hieroor.  Ek sê weer dat hierdie ’n onderwerp is met uiteenlopende opinies en ek wil nie enigeen veroordeel laat voel nie.  As jou opinie van myne verskil, dan stel ek voor jy vat jou Bybel en lees so objektief as moontlik al die riglyne wat in die nuwe Testament opgeskryf staan.  Ons glo immers dat dit die Lewende Woord van God is en dat ons ‘n lewende en interaktiewe God aanbid.

Ek sal begin met die volgende stellings:

Die gawes bestaan en funksioneer steeds in die kerk.  Daar staan wel dat “tale sal ophou in 1Kor 13:8, maar vers 10 sê duidelik eers as die Volmaakte (Jesus) gekom het.

Verder sê Paulus ten slotte in sy riglyne oor die gawes dat ons nie die spreek in tale moet verhinder nie (1Kor 14:39).  Baie mense lees hoofstukke 12 en 14 en kom tot die slotsom dat tale nie gebruik moet word nie maar Paulus eindig met die opdrag dat spreek in tale nie verhinder moet word nie maar dat dit ordelik en welvoeglik moet geskied.

Ek verstaan ook dat speek in tale nie vreemde klanke is nie, maar ‘n taal met verskeie woorde. Die Griekse woord, γλωσσα (glossa) word deurgans gebruik. Dit beteken letterlik tong maar in konteks word dit bedoel om ‘n taal of dialek te wees wat duidelik onderskei kan word.  Sommige vertalings praat van ”ongewone tale of klanke” wat nie vir my korrek klink nie.  Ek wil dit net duidelik stel dat iemand nie noodwendig 3000 woorde Afrikaans hoef te kan praat om enkele woorde as Afrikaans te bestempel nie.  Hy kan sê ”Baie Dankie” en niemand sal stry dat hy wel Afrikaans praat nie. My ervaring is dus dat die meeste mense wat in tale spreek, veral in die begin ‘n beperkte woordeskat gebruik.

Die gawes word uit genade gegee.  Charismata, (die Griekse woord) beteken die meervoud van genade.  1Kor 12:4-11 stel dit ook duidelik dat dit vrylik gegee word soos Die Gees dit goed vind.  Dit kan nie verdien word nie en spreek ook nie van die geloof en heiligheid van die ontvanger nie.

Wat is die doel van die geestelike gawes?  Eerstens dwing dit ons om as ‘n eenheid op te tree.  1Kor12:8-30 gaan juis hieroor dat die liggaam net volledig kan funksioneer as elke lid sy deel doen en homself nie hoër ag as die ander nie.  As een persoon al die gawes sou ontvang, dan sou hy niemand anders nodig hê nie, trots word en terugval in die hande van die satan.

Tweedens dien dit tot opbou van die gemeenskap van gelowiges (1Kor 14:3-4)

Verder getuig dit aan nie-gelowiges oor die krag van God (Jes 28:11, Hand 2:5-8).  Die mense het juis die teks in Jes 28 gebruik as argument om in tale te spreek, maar Paulus meen egter dat die tale  na afloop van Handelinge eerder tot opbou van die gemeente en juis ongelowiges kan afskrik.  In hierdie opsig sal profesie hulle juis oortuig van God se alomteenwoordige kennis (1Kor 14:21-25).  Hy eindig weer af in vers 26 dat alles tot opbou moet geskied.

Laastens kan dit dien tot versterking van die gelowige self. (1Kor 14:4)

Wat spreek in tale betref word daar in 1Kor 14 die volgende daaroor gesê:

Dit is tot opbou van die gelowige(4), Die gees van die gelowige spreek verborgenhede, Dit kan ‘n lering, ‘n openbaring, ‘n woord van kennis of ‘n profesie bring(6), Dit is ‘n danksegging tot God(16), Dit van lofliedere sing of bid tot God (15).  As daar in tale gespreek word, bid die gees maar die verstand is onvrugbaar m.a.w. dit lei nie tot dieper kennis of insig van God nie (14)

Hoe behoort dit dan gebruik te word?

As deel van persoonlike aanbidding.   1Kor 14:28 sê duidelik dat die persoon in die afwesigheid van iemand wat kan uitlê moet swyg en persoonlik tot God spreek.  Die persoon hoef nie die gemeente te verlaat nie, maar kan steeds in persoonlike gebed verkeer.

As ‘n bedieningsgawe in klein groepies.  Hier is dit belangrik om aan God te vra vir die gawe van uitleg.  Hoe kom hierdie uitleg, of wat is dit wat dan gespreek word?  Dit bring openbaring, ‘n woord van kennis, profesie of lering.  Wanneer hierdie gawe dus voldoende ontwikkel is, bring dit die vermoë om openbaring van God aan ander te deel.  Uitleg is nie dieselfde as vertaal nie.  Uitleg is om die betekenis of verklaring van iets te gee.  As ek ‘n sin in Engels hoor, dan vertaal ek dit nie woord vir woord oor in Afrikaans voordat ek die betekenis verstaan nie.  Ek verstaan die betekenis daarvan selfs sonder ‘n woord vir woord vertaling, amper asof ek weet wat dit beteken sonder dat ek nodig het om eers die Afrikaanse woorde te dink.  Net so kan iemand weet wat dit beteken sonder om die taal woord vir woord oor te vertaal.  Soms kan dit in die vorm van visioene, gedagtes of ‘n innerlike stem wees.  Soos enige profesie moet dit getoets woord aan die Woord van God en aan die beleidenis van Jesus, daarom sê Paulus in 1Kor 12:3 “Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees”

Bedienning in die gawes tydens eredieneste of groot byeenkomste bring groter uitdagings.  Sekerlik kan elkeen nie opspring en ‘n openbaring deel nie.  Die prediker mag ook vir ‘n tyd in persoonlike gebed (in sy taal) verkeer om ‘n openbaring van God te kry voordat hy begin preek.  Hy sal dit net doen as hy wel ‘n uitleg van God verwag.  Hy deel dan sy openbaring (of uitleg) in sy preek.  Die feit dat niemand opspring en ‘n uitleg gee nie, is nie noodwendig ‘n probleem nie.  Mense in die kerk kan ook soms in persoonlike gebed verkeer tydens die erediens en dit mag in die vorm van hulle taal wees.  Solank dit nie inmeng met die ordelike verloop van die erediens nie, is daar tog geen beletsel daarteen nie?  Ek was verlede jaar by ‘n aanbiddingskonsert van Retief Burger met omtrent tweeduisend mense waar ‘n man ‘n boodskap van God ontvang het en hardop in ’n vreemde taal gedeel het.  Daar het onmiddelik ‘n uitleg gevolg  van iemand anders af. 

Waarvoor moet ons versigtig wees?

Nie vir die gawes nie!  As ek vir my seun ‘n geweer as ‘n geskenk gee, en hy skiet iemand daarmee dood, dan is dit nie die geweer wat sleg is nie, maar my seun.  God gee die gawes vrylik en sonder enige voorwaardes.  Ons sal wel verantwoording moet doen voor Jesus se troon oor hoe ons dit gebruik het.  Het ons dit vir selfsugtige redes gebruik, of om God se koninktyk uit te brei?  Was dit ‘n getuienis vir ander?  Satan sal altyd die onbekende gebruik om vrees en angstigheid by ons uit te lok.  Ons as gelowiges moet sensitief wees om nie vir hom meer ammunisie te gee as wat hy verdien nie.

Ek het self al ontoereikend gevoel oor my gawes of gebrek daaraan.  Ek kon van kleins af myself vir ure lank vermaak deur in allerlei vreemde tale en aksente te praat, self liedjies te sing in hierdie tale.  Dit het baie natuurklik gekom.  Soos ek groter geword het, was dit nie so “cool” om met jouself te praat nie, veral nie in snaakse tale nie en het ek dit minder en minder gedoen.  Toe ek meer van die Heilige Gees bewus begin raak het, het ek gevra oor hierdie tale, want telkens as ek gebid het vir ‘n taal, was dit maar hierdie ou bekende woord en tale wat by my opgekom het en ek het dit onmiddelik verwerp as vleeslik.  Daar is ook al vir my gesê dat dit nie die ware Jakob kan wees nie, dat dit bloot my ryke verbeelding was.  Dit het baie vertwyfeling in my gebring.

Toe het ek begin beleef hoedat die heilige Gees kragtig deur my kan werk, soms terwyl ek in een van hierdie tale van my bid tot God (as persoonlike gebed), hoe mense omval in die Gees met aanraking en hoe baba’s soos klein Carla gesond word.  Ek weet die Heilige Gees is in my en gee Sy Gawes aan my soos dit nuttig is.  Meestal pla die tale my nie so baie nie, maar soms wonder ek tog.  Ek het geen groot begeerte om tydig en ontydig vir ander in tale te bid nie, want ek assosieer die werkinge van die Heilige Gees nie net daarmee nie maar met intieme, afhanklike gebed teenoor God.  Hy werk ongeag van my tale!

Dinge wat my wel kwel en ek glo vir baie mense ‘n struikelblok word in hulle geloofslewe is die volgende:

Waar daar vir iemand gebid word vir ‘n taal en die persoon ervaar druk en verwagting dat hy nou moet produseer en dan ‘n groot telleurstelling as daar niks gebeur nie.  My verstaan van die Bybel is dat nie elkeen die gawe ontvang nie.  Al ontvang meeste dit dalk, is dit nog nie almal nie en die Heilige Gees se arm kan en behoort nie gedraai te word nie. 

Verder moet die waarde van lof, aanbidding en danksegging in jou eie moedertaal nie onderskat word nie.  God luister nie na die woord nie maar na die hart.  Waar daar dan hande opgelê word of gesamentlike gebed plaasvind, moet elkeen kan sê Amen op die woorde wat gespreek word.  Amen beteken immers “Laat dit so wees” of “laat dit volbring word”  As daar dus in hierdie omstandighede in tale gebid word, hoe kan die een vir wie gebid word dan sê Amen?

Laastens moet daar gewaak word teen ‘n boodskap van gawes = tale of self een stappie verder, Om Christen te wees = Tale.  Dit kan maklik so voel en kan lei tot groot vertwyfeling veral as jy klaar gedoop is met water en met die Gees en steeds nie ‘n taal praat nie.

Ek sluit af met 1Kor 14: 39 en 40: “Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.  Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”

Een Gees

•Mei 16, 2010 • Lewer Kommentaar

Die afgelope paar weke het ek net weer ervaar hoe Ons Here Sy hand uitryk na mense toe.  Mense vol vrae en vertwyfeling.  My vrou doen “Touching Hearts”, ‘n kursus om die ou wonde en gebreke in jou lewe te herstel en af te reken met die laaste houvas wat die ou slang nog op ons lewens kan hê.  Alhoewel ek nie regtig dink dat sy iets nuuts daar hoor nie, het sy tog baie baat gevind by die bedienning en ek sien die veranderinge wat in haar plaasvind.  Sy het ook ‘n klompie vroue ontmoet wat nou een keer per week onder Adriana se leiding saam die Here aanbid, intree vir hul manne en luister na die Woord.  Deel van die kursus behels ‘n kamp naweek wat oor die huwelik handel en waarop die mans en vroue van die kursusgangers saamgenooi word.  Ek moet erken ek was nie baie lus daarvoor nie maar het tog gevoel dat ek moet gaan – deels uit ondersteuning vir my vrou en ook deels omdat ek gevoel het dat Die Here my daar wil hê.  So word ons genooi deur een van die dames, Monika, wat saam met Adriana die kursus doen om sommer by hulle in ‘n strandhuis op Sandbaai (net voor Hermanus) te kom bly.  Monika is een van die skakels in die netwerk van mense wat daartoe gelei het dat ek vir klein Carla gaan bid het.  (Lees die hele storie hier).  Tot nou toe het ek haar een keer ontmoet toe ons die dank en lofprys-aand gehou het na Carla se genesing.

Monika se man, soek ook na ‘n dieper verhouding met God en het ook maar sy deel van seer beleef.  Hy het baie vrae oor goed soos doop, geeste, God en nog baie meer.  Ons het toe geleentheid om lekker te gesels.  Op die Touching Hearts kamp word daar baie (geestelike) oorlog gemaak en demoniese vestings word aangespreek.  Die mense wat die hele kursus bywoon het natuurlik stelselmatig meer en meer van die goed geleer en vind dit minder vreemd (alhoewel somming steeds baie ontsteld daar weg is) maar die wederhelftes is kop eerste ingegooi en gekonfronteer met goed wat in baie kerke totaal ontken word.  Op die Sondag was daar twee dames wat behoorlik gemanifesteer het met gillende, brollende, grommende geeste wat met alle geweld wil bly klou terwyl Jesus hulle uitskop uit hulle ou tuiste.  Die Vrydag- en Saterdagaand het ons egter tot in die vroeë oggendure om die kombuistafel gekuier en gesels oor die hele evangelie en nog wat, insluitend bose geeste en hulle interaksie met ons as christene.  Dit is vir my opvallend hoe verkeie mans dieselfde wroegings ervaar en baie dieselfde respons daarop het.  Elke keer waar ek in die laaste twee maande by sulke gesprekke betrokke was, kon ek myself  van twee jaar gelede amper woordeliks hoor praat.  Dit is ook vir my wonderlik om die waarhede  en antwoorde wat Die Here vir my na baie smekinge en trane oor tyd  gegee het, te kan deel met ander mans.  Die kursus self se lesings wat heeltemal te lang vir enigeen om te kan konsentreer en ek kan nie getuig dat ek daar groot deurbrake gemaak het nie, maar daardie laataand gesprekke was goud werk, vir my en hopelik vir hulle.  Monika en haar man was steeds ‘n bietjie onkant gevang deur die hele bevrysingsbesigheid op die Sondag, maar dit het tog die realiteit van ons gesprek tuis gebring.  Al was dit die enigstge rede dat ek moes saamgaan, was dit die moeite werd.

In die afgelope week het ons ook met twee mense ontmoet wat graag gedoop wil word.  ‘n Egpaar wat ook deur Die Here gedra is in moeilike tye en nou ‘n nuwe nader pad met Hom stap.  Die gesprek oor die doop en ander geestelike dinge was so lekker en regtig tot opbou van myself net soveel as vir hulle.  Vandag was die groot dag, op sy verjaarsdag.  Ek vra nogaal vir Jesus vir ‘n teks vir hulle en kry Deut 8:1-10.  Ek kies ‘n paar liedere om te sing en sit die boekmerkies reg in my bybel. 

Toe die deurklokkie lui, staan hulle twee daar met hulle twee kinders en drie Braziliane.  Hulle huisves die drie mense van Brazilië wat as deel van ‘n sportbedienning kom evangelisasie werk doen onder die toeskouers by die sokker wêreldbeker.  Hulle praat beswaarlik Engels en my Portugees bestaan uit “Hoe gaan dit” en “Dankie”.  Ek het altyd gedog hulle praat Spaans daar, maar dit blyk hulle tweede taal te wees en hulle praat eintlik Portugees.  Die klein verrassing bring toe nou ‘n paar nuwe uitdagings na vore.  Ek moet skielik Engels gooi en baie, baie stadiger praat.  Gelukkig het die een pastoor uit Rio De Janeiro, ‘n Bybel wat Enges en Portugees in parallel het en ek kon toe daaruit voorlees en hulle kon in hulle eie taal saam lees.  Ek het meestel in Engels gebid, maar het met tye maar na Afrikaans oorgeslaan.  Toe doop ons en voel net hoe Jesus self die dopelinge ontvang en daarna sing ons ‘n klompie lofliedere.  Ek kies toe gou ‘n paar ander Engelse liedere wat ek hoop hulle dalk ook sal ken.

Nou kom ons by die “Een Gees” ding.  1Kor 12:4 en 5 praat van verskillende gawes, maar net een Gees en verskillende bedieninge maar net een Here en vandag het ek dit beleef.  Daar was van die eerste gebed af  ’n broederskap, ‘n eenheid, ‘n onvoorwaardelike liefde wat net van God af kon kom.  Of ek nou Engels,  Afrikaans of in ‘n taal bid, dieselfde Gees was deurgans daar.  Toe ons sing, begin ek eers met goed soos “Awesome God” maar toe ek “Shout to the Lord” sing en hulle val in volle bors in Portugees weg en ek hoor die lofsange wat in verskillende tale na God opstyg toe weet ek wat Ps 133 beteken.  Ek trek toe sommer O Heer my God nader, want dit is ook tog sererlik in omtrent elke taal vertaal, dog ek, en jou waarlik, weer meng die Afrikaanse woorde met die Suid-Amerikaans klanke tot ‘n geuring lofoffer vir God.  Die lekker in my hart kan ek nie beskryf nie.  Nadat ons klaar nagmaal saam gebruik het en elkeen vir Jesus in sy eie taal dank vir Sy liggaam en bloed wat Hy vir ons gegee het, drink ons koffie en spontaan gryp hulle die kitaar en begin van hulle lofliedere sing.  Later val ek weer in met ‘n paar van ons goed.  Ons luister na een van hulle se getuienis wat met groot moeite in beperkte woordeskat vertaal word sodat ons iets kan verstaan van God wat iemand uit die kloue van drank, dwelms en geweld kom bevry deur ‘n mede sokkerspeler wat vir hom sê: “Jy het Jesus nodig in jou lewe”  Nou behoort hy en sy hele lewe aan Jesus ek hy gaan oor die wêreld rond om onder die Sport-vaandel die evangelie te verkondig.

Hoe wonderlik was dit nie om ‘n middag van geestelike eenheid te spandeer met familie in Christus en iets te beleef van Die Een Gees wat in ons almal woon.  Hulle maak nogaal die opmerking dat hulle hier in Suid-Afrika sit, vêr van die huis, maar voel asof hulle by familie kuier.  Net deur Jesus se bloed is dit moontlik!

Psa 133

‘n Bedevaartslied. Van Dawid. Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! (2) Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere. (3) Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid!

My woord is my eer

•April 29, 2010 • Lewer Kommentaar

Dit klink na die leuse van een of ander skool of iets.  Dit is ‘n leuse waarmee ek groot geword het, een wat ek aanvaar het as die norm.  Soos ons groter word, begin die wêreld al meer relatief word.  Waar is die dae van ‘n transaksie en ooreenkoms wat met ‘n man se woord en ‘n handskud beklink is?  Warren Buffet, het gesê; “In looking for people to hire, you look for three qualities: integrity, intelligence, and energy. And if they don’t have the first, the other two will kill you.”  Ons lees elke dag in die koerant van korupsie, bedrog en diefstal.  Ons verwag altyd die slegste van almal.  Is dit wat God wil hê? 

God wil hê dat ons in Hom moet glo en moet weet dat Hy ons sal beloon daarvoor (Heb 11.6)  Lucifer weet dat God bestaan en vra selfs toestemming by Hom om ons aan te val maar hy glo nie dat God sy beste belange op die hart dra nie.  Hy sal veel eerder sy eie ding probeer doen en hy hou vas aan die gedagte dat hy homself bo die troon van God wil verhef.  Trots en selfstandigheid is dus die ding wat Lucifer sy plek aan God se regterhand gekos het en uiteindelik daartoe sal lei dat hy vir ewigheid die helse vuur sal moet verduur.  Wat het dit dan nou te doen met woord en eer?  Wat is die wortel van oneerlikheid, bedrog en valsheid?  Eerstens getuig dit dat so ‘n mens nie glo dat God hom/haar werklik kan beloon vir eerlikheid en getrouheid nie.  In stede daarvan voel hy dat hy deur sy oneerlike dade juis vir homself ‘n beter toekoms kan verseker, een waarin hy nie afhanlik is van God nie en dus vry is van die wette en verwagtinge wat God sou stel.  Hierdie mentaliteit is nie uniek tot ateïste en sataniste nie.  Self in die vroegste kerk het dit kop uitgesteek onder die mense wat hulself Christene genoem het.  Lees maar Handelinge 5.  Hier kom Ananias en Saffira tot die oortuiging dat hulle, hulle grond moet verkoop en die geld aan die Apostels gee.  Tog besluit hulle om ‘n deel vir hulle self te hou.  Op die oog af nie ‘n groot probleem nie.  Dit is tog hulle grond en hulle kan maak daarmee wat hulle wil?  Tog word beide van hulle met die dood gestraf daarvoor.  Nou hoor ek al sommig sê wat se onregverdige God ek dien, maar die bedrog spruit daaruit dat hulle vir Petrus sê dat hulle die volle bedrag vir hulle bring.  Hier is dus twee beginsels ter sprake: 

Jesus praat in Mat 6:1-2 van mesne wat goed in die openbaar doen sodat hulle lof en aanprysing kan kry van ander mense en Hy sê hulle het hulle loon klaar weg en dat hulle in die Hemel geen loon kan verwag nie.  Ananias hou dus geld terug maar verklaar aan almal dat hy al die geld gee.  Verwag hy dan nie dalk lof van die mede-gelowighes nie?  

Tweedens bedrieg hy vir God.  God ondersoek die hart en weet alles.  Wat ons soms uit die oog verloor is dat God ‘n Heilige God is.  Hy is nie ‘n mens nie en dink nie soos ‘n mens nie en alhoewel ons Hom nie kan beïndruk met ons dade nie, kan Hy nie ongeregtighede teen Hom oorsien nie.  In Num 30:1 waarsku God dat Hy elkeen wat ‘n eed teenoor Hom aflê geoordeel word volgens elke woord wat hy teenoor God gespreek het.  God vergeet nooit.  daarom waarsku Jesus self in Mat 5:34-37 dat ons geen eed moet aflê voor die hemel of die aarde nie.  Ons “Ja” moet eenvoudig “Ja” wees en ons “Nee” moet “Nee” wees. 

Daarinteen maak God baie beloftes in Sy Woord en Hy is altyd getrou.  So belowe Hy in Mal 3:8-11 sy seën as Hy spreek: 

Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare. 

Hoeveel Christene is daar wat hulle volle tiende na God se huis bring?  Is dit omdat ons nie regtig glo dat God die beloner is van die wat Hom soek nie?  Is dit omdat ons nie glo dat Hy ons oes oorvloedig kan seën en vermeerder as ons ons eerste vrugte aan Hom gee nie? 

Jesus self sê iets baie interresant oor oneerlike bestuurders in Luk 16.  Eers vermoed die oneerlike bestuurder (CEO) dat sy baas (CEO) hom wil afdank.  Gou roep hy al die maatskapy se debiteure in en hy kook ‘n bietjie die rekeninge sodat dit blyk dat hulle die maatskapy minder skuld.  Wat met die oortollige skuld gebeur word nie gesê nie, maar ek kyk na die dinge om my, dan sal ek nie verbaas wees as dit in die bestuurder se persoonlike rekening betaal word nie (of dalk kry hy ‘n goeie klompie afslag op sy nuwe Mercedes donkiekar?) Nou doen die CEO iets onverwags in vers 8.  Hy prys die CEO omdat hy so slim opgetree het.  In die wêreld van vyandige oornames en roekelose besigheid is dit tog goed om die slimste skelm aan jou kant te hê?  Jesus se opmerking oor hierdie stand van sake is dat kinders van hierdie wêreld (die koningkryk van elke man vir homself en die enigste reël is; “moet nie gevang word nie”) slimmer is as die kinders van die Lig (God se koningkryk)  Die oneerlike klomp maak vir hulle skatte en rykdom bymekaar om die donker wêreld waar jy geen ware vriende het nie vir huleself ‘n goeie toekoms te probeer verseker terwyl die Christene nie bou aan skatte en seëninge binne die Koningkryk van God nie.  Hy waarsku in Mark 10:24 dat die baie swaar is vir die wat op die aardse besittings vertrou om die Koninkryk van God binne te gaan.  Hierdie Koninkryk is ‘n toekomstige plek in die Hemel nie, maar dit is reeds hier, binne-in ons (Luk 17:21).  God se beloftes begin die dag dat ons Jesus aanneem en volgens God se Woord begin leef maar in Luk 16:10-12 sê Jesus: “ Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?” Ons moet eers in die klein dinge getrou wees, voor God ons kan vertrou met die groot skatte van Sy koninkryk. 

Prakties:  As jy nie by die spoedgrens hou nie en nie by die stopstraat op die hoek stop nie dan breek jy die wet.  Jy sê dus dat seker wette nie op jou van toepassing is nie.  Die man wat vannaand jou huis beroof of jou kar steel glo ook dat daardie wet nie op hom van toepassing is nie.  As jy sy kind doodry terwyl jy oor die stopstraat jaag, sal hy baie ongelukkig wees dat jy nie gestop het soos jy moes nie.  Net so sal jy dit nie kan glo dat iemand dan by jou huis kom inbreek en jou TV steel nie.  

Op ‘n meer geestelike vlak gee ons daagliks aan satan geregtelike gronde om ons voor God se troon aan te kla en self te eis om ons te beproef deurdat ons bewustelik Sy verordeninge verontagsaam.  Verder waarsku Jesus ook in Mar 4:18-19 dat die verleiding van die rykdom die dorings is wat die saad onvrugbaar maak m.a.w. dat die Woord van God geen vrug in ons lewens kan dra nie.  Saggéüs het dit geweet.  Nadat hy Jesus ontmoet het, het hy almal wat hy verneuk het vierdubbel vergoed en helfte van sy goed aan die armes gegee.  Net soos die oneerlike mense vandag is ek seker dat hy die geld wat hy oneerlik bekom het, lankal opgebruik het en sy belofte aan Die Here nie maklik was om deur te voer nie.

As ek lees van die Onbeskaamd Etiese veldtog wat nou internasionaal geloods word en gedryf word deur groot name in besigheid dan weet ek die tyd het gekom om ons weer te verbind aan ‘n lewe waar my woord my eer is, waar almal onvoorwaardelik op my “Ja” kan staat maak en waar ek daarna streef om in die klein dinge getrou te wees sodat God my kan vertrou met die groot skatte. 

Here, God.  U is nie ‘n God wat ongeregtigheid kan verduur  nie.  Wys vir ons elkeen waar ons vir U of ons naaste bedreig het.  U is die beloner van elkeen wat in geloof na U soek.  Ek weet dat U deur Jesus se bloed ons sal vergewe vir ons ongeregtighede, klein en groot, as ons dit bely.  Lei ons deur U Gees om Onbeskaamd Eties te leef tot verheerliking van U Heilige Naam.  Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus, U Seun en opgestane Verlosser.  Amen.

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.