My woord is my eer

Dit klink na die leuse van een of ander skool of iets.  Dit is ‘n leuse waarmee ek groot geword het, een wat ek aanvaar het as die norm.  Soos ons groter word, begin die wêreld al meer relatief word.  Waar is die dae van ‘n transaksie en ooreenkoms wat met ‘n man se woord en ‘n handskud beklink is?  Warren Buffet, het gesê; “In looking for people to hire, you look for three qualities: integrity, intelligence, and energy. And if they don’t have the first, the other two will kill you.”  Ons lees elke dag in die koerant van korupsie, bedrog en diefstal.  Ons verwag altyd die slegste van almal.  Is dit wat God wil hê? 

God wil hê dat ons in Hom moet glo en moet weet dat Hy ons sal beloon daarvoor (Heb 11.6)  Lucifer weet dat God bestaan en vra selfs toestemming by Hom om ons aan te val maar hy glo nie dat God sy beste belange op die hart dra nie.  Hy sal veel eerder sy eie ding probeer doen en hy hou vas aan die gedagte dat hy homself bo die troon van God wil verhef.  Trots en selfstandigheid is dus die ding wat Lucifer sy plek aan God se regterhand gekos het en uiteindelik daartoe sal lei dat hy vir ewigheid die helse vuur sal moet verduur.  Wat het dit dan nou te doen met woord en eer?  Wat is die wortel van oneerlikheid, bedrog en valsheid?  Eerstens getuig dit dat so ‘n mens nie glo dat God hom/haar werklik kan beloon vir eerlikheid en getrouheid nie.  In stede daarvan voel hy dat hy deur sy oneerlike dade juis vir homself ‘n beter toekoms kan verseker, een waarin hy nie afhanlik is van God nie en dus vry is van die wette en verwagtinge wat God sou stel.  Hierdie mentaliteit is nie uniek tot ateïste en sataniste nie.  Self in die vroegste kerk het dit kop uitgesteek onder die mense wat hulself Christene genoem het.  Lees maar Handelinge 5.  Hier kom Ananias en Saffira tot die oortuiging dat hulle, hulle grond moet verkoop en die geld aan die Apostels gee.  Tog besluit hulle om ‘n deel vir hulle self te hou.  Op die oog af nie ‘n groot probleem nie.  Dit is tog hulle grond en hulle kan maak daarmee wat hulle wil?  Tog word beide van hulle met die dood gestraf daarvoor.  Nou hoor ek al sommig sê wat se onregverdige God ek dien, maar die bedrog spruit daaruit dat hulle vir Petrus sê dat hulle die volle bedrag vir hulle bring.  Hier is dus twee beginsels ter sprake: 

Jesus praat in Mat 6:1-2 van mesne wat goed in die openbaar doen sodat hulle lof en aanprysing kan kry van ander mense en Hy sê hulle het hulle loon klaar weg en dat hulle in die Hemel geen loon kan verwag nie.  Ananias hou dus geld terug maar verklaar aan almal dat hy al die geld gee.  Verwag hy dan nie dalk lof van die mede-gelowighes nie?  

Tweedens bedrieg hy vir God.  God ondersoek die hart en weet alles.  Wat ons soms uit die oog verloor is dat God ‘n Heilige God is.  Hy is nie ‘n mens nie en dink nie soos ‘n mens nie en alhoewel ons Hom nie kan beïndruk met ons dade nie, kan Hy nie ongeregtighede teen Hom oorsien nie.  In Num 30:1 waarsku God dat Hy elkeen wat ‘n eed teenoor Hom aflê geoordeel word volgens elke woord wat hy teenoor God gespreek het.  God vergeet nooit.  daarom waarsku Jesus self in Mat 5:34-37 dat ons geen eed moet aflê voor die hemel of die aarde nie.  Ons “Ja” moet eenvoudig “Ja” wees en ons “Nee” moet “Nee” wees. 

Daarinteen maak God baie beloftes in Sy Woord en Hy is altyd getrou.  So belowe Hy in Mal 3:8-11 sy seën as Hy spreek: 

Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare. 

Hoeveel Christene is daar wat hulle volle tiende na God se huis bring?  Is dit omdat ons nie regtig glo dat God die beloner is van die wat Hom soek nie?  Is dit omdat ons nie glo dat Hy ons oes oorvloedig kan seën en vermeerder as ons ons eerste vrugte aan Hom gee nie? 

Jesus self sê iets baie interresant oor oneerlike bestuurders in Luk 16.  Eers vermoed die oneerlike bestuurder (CEO) dat sy baas (CEO) hom wil afdank.  Gou roep hy al die maatskapy se debiteure in en hy kook ‘n bietjie die rekeninge sodat dit blyk dat hulle die maatskapy minder skuld.  Wat met die oortollige skuld gebeur word nie gesê nie, maar ek kyk na die dinge om my, dan sal ek nie verbaas wees as dit in die bestuurder se persoonlike rekening betaal word nie (of dalk kry hy ‘n goeie klompie afslag op sy nuwe Mercedes donkiekar?) Nou doen die CEO iets onverwags in vers 8.  Hy prys die CEO omdat hy so slim opgetree het.  In die wêreld van vyandige oornames en roekelose besigheid is dit tog goed om die slimste skelm aan jou kant te hê?  Jesus se opmerking oor hierdie stand van sake is dat kinders van hierdie wêreld (die koningkryk van elke man vir homself en die enigste reël is; “moet nie gevang word nie”) slimmer is as die kinders van die Lig (God se koningkryk)  Die oneerlike klomp maak vir hulle skatte en rykdom bymekaar om die donker wêreld waar jy geen ware vriende het nie vir huleself ‘n goeie toekoms te probeer verseker terwyl die Christene nie bou aan skatte en seëninge binne die Koningkryk van God nie.  Hy waarsku in Mark 10:24 dat die baie swaar is vir die wat op die aardse besittings vertrou om die Koninkryk van God binne te gaan.  Hierdie Koninkryk is ‘n toekomstige plek in die Hemel nie, maar dit is reeds hier, binne-in ons (Luk 17:21).  God se beloftes begin die dag dat ons Jesus aanneem en volgens God se Woord begin leef maar in Luk 16:10-12 sê Jesus: ” Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?” Ons moet eers in die klein dinge getrou wees, voor God ons kan vertrou met die groot skatte van Sy koninkryk. 

Prakties:  As jy nie by die spoedgrens hou nie en nie by die stopstraat op die hoek stop nie dan breek jy die wet.  Jy sê dus dat seker wette nie op jou van toepassing is nie.  Die man wat vannaand jou huis beroof of jou kar steel glo ook dat daardie wet nie op hom van toepassing is nie.  As jy sy kind doodry terwyl jy oor die stopstraat jaag, sal hy baie ongelukkig wees dat jy nie gestop het soos jy moes nie.  Net so sal jy dit nie kan glo dat iemand dan by jou huis kom inbreek en jou TV steel nie.  

Op ‘n meer geestelike vlak gee ons daagliks aan satan geregtelike gronde om ons voor God se troon aan te kla en self te eis om ons te beproef deurdat ons bewustelik Sy verordeninge verontagsaam.  Verder waarsku Jesus ook in Mar 4:18-19 dat die verleiding van die rykdom die dorings is wat die saad onvrugbaar maak m.a.w. dat die Woord van God geen vrug in ons lewens kan dra nie.  Saggéüs het dit geweet.  Nadat hy Jesus ontmoet het, het hy almal wat hy verneuk het vierdubbel vergoed en helfte van sy goed aan die armes gegee.  Net soos die oneerlike mense vandag is ek seker dat hy die geld wat hy oneerlik bekom het, lankal opgebruik het en sy belofte aan Die Here nie maklik was om deur te voer nie.

As ek lees van die Onbeskaamd Etiese veldtog wat nou internasionaal geloods word en gedryf word deur groot name in besigheid dan weet ek die tyd het gekom om ons weer te verbind aan ‘n lewe waar my woord my eer is, waar almal onvoorwaardelik op my “Ja” kan staat maak en waar ek daarna streef om in die klein dinge getrou te wees sodat God my kan vertrou met die groot skatte. 

Here, God.  U is nie ‘n God wat ongeregtigheid kan verduur  nie.  Wys vir ons elkeen waar ons vir U of ons naaste bedreig het.  U is die beloner van elkeen wat in geloof na U soek.  Ek weet dat U deur Jesus se bloed ons sal vergewe vir ons ongeregtighede, klein en groot, as ons dit bely.  Lei ons deur U Gees om Onbeskaamd Eties te leef tot verheerliking van U Heilige Naam.  Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus, U Seun en opgestane Verlosser.  Amen.

~ deur Khosaan op April 29, 2010.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

%d bloggers like this: