Pinkster, Gawes van die Gees en Tale
Wat ‘n wonderlike naweek wat verby is. Twee vriende wat ons baie min te sien kry, eintlik die eerste mense wat ons hier in die Kaap leer ken het, dertien jaar terug, is Sondagaand gedoop. Saterdag het ek en Adriana by Logos Kerk as deel van hulle Journey to Intimacy, gaan musiek maak. Sondagoggend was ek by Cape Town Church of Christ en het die aanbidding en boodskap baie geniet, maar meer as dit, het drie vriendinne elkeen afsonderlik ’n uitstoritng van Geestelike Gawes beleef. Natuurlik het al die vrae rondom dit weer na vore gekom. Is dit regtig van God? Word dit verkeerd gebruik?
Daar is wyd uiteenlopende dinge gesê en geskryf oor die gawes van die Gees, van “dit het gestaak nadat die kerk gevestig is” tot “elkeen moet elke gawe kan beoefen anders is hy nie ‘n ware Christen nie”. Natuurlik is albei hierdie pole verkeerd. Ek het self oor die laaste twee jaar gewroeg oor veral die kwessie van spreek in vreemde tale, omdat dit die gawe is wat ons sekerlik die meeste sien en beleef. Ek het oor die tyd ’n klompie dinge vir myself uitgesorteer, maar sal glad nie sê dat ek alles verstaan nie.
Uit die aard van die saak het ek groot geword in ‘n kerk waar die Heilige Gees ‘n abstrakte konsep was en waar ek nooit die gawes waarvan in 1Korinthiërs gepraat was gesien het nie. Toe ek dus die eerste keer gekonfronteer word met iemand wat in tale praat, was ek redelik onseker oor hoe om dit te hanteer. Ek het die Woord van God gaan ondersoek om meer te probeer verstaan hieroor. Ek sê weer dat hierdie ’n onderwerp is met uiteenlopende opinies en ek wil nie enigeen veroordeel laat voel nie. As jou opinie van myne verskil, dan stel ek voor jy vat jou Bybel en lees so objektief as moontlik al die riglyne wat in die nuwe Testament opgeskryf staan. Ons glo immers dat dit die Lewende Woord van God is en dat ons ‘n lewende en interaktiewe God aanbid.
Ek sal begin met die volgende stellings:
Die gawes bestaan en funksioneer steeds in die kerk. Daar staan wel dat “tale sal ophou in 1Kor 13:8, maar vers 10 sê duidelik eers as die Volmaakte (Jesus) gekom het.
Verder sê Paulus ten slotte in sy riglyne oor die gawes dat ons nie die spreek in tale moet verhinder nie (1Kor 14:39). Baie mense lees hoofstukke 12 en 14 en kom tot die slotsom dat tale nie gebruik moet word nie maar Paulus eindig met die opdrag dat spreek in tale nie verhinder moet word nie maar dat dit ordelik en welvoeglik moet geskied.
Ek verstaan ook dat speek in tale nie vreemde klanke is nie, maar ‘n taal met verskeie woorde. Die Griekse woord, γλωσσα (glossa) word deurgans gebruik. Dit beteken letterlik tong maar in konteks word dit bedoel om ‘n taal of dialek te wees wat duidelik onderskei kan word. Sommige vertalings praat van ”ongewone tale of klanke” wat nie vir my korrek klink nie. Ek wil dit net duidelik stel dat iemand nie noodwendig 3000 woorde Afrikaans hoef te kan praat om enkele woorde as Afrikaans te bestempel nie. Hy kan sê ”Baie Dankie” en niemand sal stry dat hy wel Afrikaans praat nie. My ervaring is dus dat die meeste mense wat in tale spreek, veral in die begin ‘n beperkte woordeskat gebruik.
Die gawes word uit genade gegee. Charismata, (die Griekse woord) beteken die meervoud van genade. 1Kor 12:4-11 stel dit ook duidelik dat dit vrylik gegee word soos Die Gees dit goed vind. Dit kan nie verdien word nie en spreek ook nie van die geloof en heiligheid van die ontvanger nie.
Wat is die doel van die geestelike gawes? Eerstens dwing dit ons om as ‘n eenheid op te tree. 1Kor12:8-30 gaan juis hieroor dat die liggaam net volledig kan funksioneer as elke lid sy deel doen en homself nie hoër ag as die ander nie. As een persoon al die gawes sou ontvang, dan sou hy niemand anders nodig hê nie, trots word en terugval in die hande van die satan.
Tweedens dien dit tot opbou van die gemeenskap van gelowiges (1Kor 14:3-4)
Verder getuig dit aan nie-gelowiges oor die krag van God (Jes 28:11, Hand 2:5-8). Die mense het juis die teks in Jes 28 gebruik as argument om in tale te spreek, maar Paulus meen egter dat die tale na afloop van Handelinge eerder tot opbou van die gemeente en juis ongelowiges kan afskrik. In hierdie opsig sal profesie hulle juis oortuig van God se alomteenwoordige kennis (1Kor 14:21-25). Hy eindig weer af in vers 26 dat alles tot opbou moet geskied.
Laastens kan dit dien tot versterking van die gelowige self. (1Kor 14:4)
Wat spreek in tale betref word daar in 1Kor 14 die volgende daaroor gesê:
Dit is tot opbou van die gelowige(4), Die gees van die gelowige spreek verborgenhede, Dit kan ‘n lering, ‘n openbaring, ‘n woord van kennis of ‘n profesie bring(6), Dit is ‘n danksegging tot God(16), Dit van lofliedere sing of bid tot God (15). As daar in tale gespreek word, bid die gees maar die verstand is onvrugbaar m.a.w. dit lei nie tot dieper kennis of insig van God nie (14)
Hoe behoort dit dan gebruik te word?
As deel van persoonlike aanbidding. 1Kor 14:28 sê duidelik dat die persoon in die afwesigheid van iemand wat kan uitlê moet swyg en persoonlik tot God spreek. Die persoon hoef nie die gemeente te verlaat nie, maar kan steeds in persoonlike gebed verkeer.
As ‘n bedieningsgawe in klein groepies. Hier is dit belangrik om aan God te vra vir die gawe van uitleg. Hoe kom hierdie uitleg, of wat is dit wat dan gespreek word? Dit bring openbaring, ‘n woord van kennis, profesie of lering. Wanneer hierdie gawe dus voldoende ontwikkel is, bring dit die vermoë om openbaring van God aan ander te deel. Uitleg is nie dieselfde as vertaal nie. Uitleg is om die betekenis of verklaring van iets te gee. As ek ‘n sin in Engels hoor, dan vertaal ek dit nie woord vir woord oor in Afrikaans voordat ek die betekenis verstaan nie. Ek verstaan die betekenis daarvan selfs sonder ‘n woord vir woord vertaling, amper asof ek weet wat dit beteken sonder dat ek nodig het om eers die Afrikaanse woorde te dink. Net so kan iemand weet wat dit beteken sonder om die taal woord vir woord oor te vertaal. Soms kan dit in die vorm van visioene, gedagtes of ‘n innerlike stem wees. Soos enige profesie moet dit getoets woord aan die Woord van God en aan die beleidenis van Jesus, daarom sê Paulus in 1Kor 12:3 “Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees”
Bedienning in die gawes tydens eredieneste of groot byeenkomste bring groter uitdagings. Sekerlik kan elkeen nie opspring en ‘n openbaring deel nie. Die prediker mag ook vir ‘n tyd in persoonlike gebed (in sy taal) verkeer om ‘n openbaring van God te kry voordat hy begin preek. Hy sal dit net doen as hy wel ‘n uitleg van God verwag. Hy deel dan sy openbaring (of uitleg) in sy preek. Die feit dat niemand opspring en ‘n uitleg gee nie, is nie noodwendig ‘n probleem nie. Mense in die kerk kan ook soms in persoonlike gebed verkeer tydens die erediens en dit mag in die vorm van hulle taal wees. Solank dit nie inmeng met die ordelike verloop van die erediens nie, is daar tog geen beletsel daarteen nie? Ek was verlede jaar by ‘n aanbiddingskonsert van Retief Burger met omtrent tweeduisend mense waar ‘n man ‘n boodskap van God ontvang het en hardop in ’n vreemde taal gedeel het. Daar het onmiddelik ‘n uitleg gevolg van iemand anders af.
Waarvoor moet ons versigtig wees?
Nie vir die gawes nie! As ek vir my seun ‘n geweer as ‘n geskenk gee, en hy skiet iemand daarmee dood, dan is dit nie die geweer wat sleg is nie, maar my seun. God gee die gawes vrylik en sonder enige voorwaardes. Ons sal wel verantwoording moet doen voor Jesus se troon oor hoe ons dit gebruik het. Het ons dit vir selfsugtige redes gebruik, of om God se koninktyk uit te brei? Was dit ‘n getuienis vir ander? Satan sal altyd die onbekende gebruik om vrees en angstigheid by ons uit te lok. Ons as gelowiges moet sensitief wees om nie vir hom meer ammunisie te gee as wat hy verdien nie.
Ek het self al ontoereikend gevoel oor my gawes of gebrek daaraan. Ek kon van kleins af myself vir ure lank vermaak deur in allerlei vreemde tale en aksente te praat, self liedjies te sing in hierdie tale. Dit het baie natuurklik gekom. Soos ek groter geword het, was dit nie so “cool” om met jouself te praat nie, veral nie in snaakse tale nie en het ek dit minder en minder gedoen. Toe ek meer van die Heilige Gees bewus begin raak het, het ek gevra oor hierdie tale, want telkens as ek gebid het vir ‘n taal, was dit maar hierdie ou bekende woord en tale wat by my opgekom het en ek het dit onmiddelik verwerp as vleeslik. Daar is ook al vir my gesê dat dit nie die ware Jakob kan wees nie, dat dit bloot my ryke verbeelding was. Dit het baie vertwyfeling in my gebring.
Toe het ek begin beleef hoedat die heilige Gees kragtig deur my kan werk, soms terwyl ek in een van hierdie tale van my bid tot God (as persoonlike gebed), hoe mense omval in die Gees met aanraking en hoe baba’s soos klein Carla gesond word. Ek weet die Heilige Gees is in my en gee Sy Gawes aan my soos dit nuttig is. Meestal pla die tale my nie so baie nie, maar soms wonder ek tog. Ek het geen groot begeerte om tydig en ontydig vir ander in tale te bid nie, want ek assosieer die werkinge van die Heilige Gees nie net daarmee nie maar met intieme, afhanklike gebed teenoor God. Hy werk ongeag van my tale!
Dinge wat my wel kwel en ek glo vir baie mense ‘n struikelblok word in hulle geloofslewe is die volgende:
Waar daar vir iemand gebid word vir ‘n taal en die persoon ervaar druk en verwagting dat hy nou moet produseer en dan ‘n groot telleurstelling as daar niks gebeur nie. My verstaan van die Bybel is dat nie elkeen die gawe ontvang nie. Al ontvang meeste dit dalk, is dit nog nie almal nie en die Heilige Gees se arm kan en behoort nie gedraai te word nie.
Verder moet die waarde van lof, aanbidding en danksegging in jou eie moedertaal nie onderskat word nie. God luister nie na die woord nie maar na die hart. Waar daar dan hande opgelê word of gesamentlike gebed plaasvind, moet elkeen kan sê Amen op die woorde wat gespreek word. Amen beteken immers “Laat dit so wees” of “laat dit volbring word” As daar dus in hierdie omstandighede in tale gebid word, hoe kan die een vir wie gebid word dan sê Amen?
Laastens moet daar gewaak word teen ‘n boodskap van gawes = tale of self een stappie verder, Om Christen te wees = Tale. Dit kan maklik so voel en kan lei tot groot vertwyfeling veral as jy klaar gedoop is met water en met die Gees en steeds nie ‘n taal praat nie.
Ek sluit af met 1Kor 14: 39 en 40: “Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie. Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”

Angesien tale vir die ongelowiges is (1 Kor. 14), hoe lank moet een ongelowig bly?
Ek sien by groot byeenkomste, spreek daar somer ‘n klomp gelyk in tale, sonder dat daar uitleg vir elkeen gegee word. Hoekom spreek hulle nie een op ‘n slag en hoogstens drie soos in 1 Kor. 14 dit as ‘n punt van orde meld?
Wanneer gaan daar gelowiges wees wat profeteer?
As ek 1Kor 14:20-26 lees, dan is dit duidelik dat Paulus antwoord op ‘n verskoning wat die Korinthiërs gebruik het vir hulle ondeurdagte gebruik van die tale. Jes 28 sê wel dat daar in tale tot die volk gespreek sal word en dat hulle steeds Christus sal verwerp en in handelinge 2 word dit dan ook so volbring, maar dan sê Paulus dat iemand wat onkundig of ongelowig is juis deur die aanhoor van die tale die indruk kan kry dat die klomp mense half mal is. Daar teenoor sal ‘n profesie ‘n woord van kennis bring wat aan die ongelowige sal bewys dat God die geheime van sy hart ken en tot bekering kom. In hierdie opsig verduidelik Paulus dan dat die tale juis die ongelowige sal wegdryf. Hy eindig die argument in vers 26 as hy sê dat al die gawes tot opbou van die mense, by implikasie gelowig en ongelowig, moet lei.
Dit is belangrik on 1Kor 12, 13 en 14 saam te lees en met die gedagte dat ons nie die gawes moet verhoed of teë werk nie. Jy vra wanneer sal gelowiges begin profeteer? Ek weet nie in watter kringe jy beweeg nie, maar dit gebeur gereeld om my. Ek het in die laaste paar maande elkeen van die gawes persoonlik ervaar op verskillende geleenthede. Dit is egter belangrik dat daar ‘n veilige omgewing moet wees waar mede-gelowiges in liefde hulle gawes kan beoefen en kan leer van mekaar. Ons almal groei tog konstant in ons geloof. Paulus praat ook in 1Kor 13:11-12 daarvan dat sy verstaan van die gawes oor tyd verbeter het maar dat hy steeds nie alles verstaan het nie.
Elke persoon ontvang sy eie taal, soms ook meer as een taal. As dit vir ander deurmekaar klink is dit maar net omdat elkeen direk tot God in sy eie taal wat hy ontvang het praat. Wanneer ‘n profesie van God gespreek word sal die persoon se stem duidelik bo die ander mense se stemme uit staan en die gemeentelede sal stil word, waarna daar gewoonlik die uitleg sal volg. Gewoonlik sal dit net 2 of 3 keer per vergadering gebeur.