The Good, The Bad and the Ugly

2 Desember 2009

Die een ding wat ek weereens geleer het, is dat die moeilike tye die ware karakter in mense uitbring, en dan nie altyd die reaksie wat jy sou verwag van iemand nie. 

Ek sal begin by The Ugly en dit sommer vinnig agter die rug kry, want ek wil nie daarop stilstaan nie.  Die mense wat by jou verby loop, veragtelik aankyk en nie groet nie, wat jou beledigings toesnou en nie werklik belangstel in jou hart nie.  Ek wonder altyd watter gees in hulle woon.  Ek vermoed dat die fariseers ook so opgetree het…  Ek bid dat hulle ‘n smakie van God se Heilige Gees sal kry, en dat hulle ook radikaal sal word vir Jesus.  Dit is partykeer juis hulle wat die grootste werk vir Jesus doen – kyk maar vir Saulus.

“The Bad”

Dit is die dinge wat hartseer maak.  Dit sou maklik wees om net my rug te draai en weg te loop, soos so baie mense voor my, as ek nie omgegee het vir hierdie mense nie.  My bure, my vriende, my pasiënte, almal wat hier in die omgewing bly en ook in ons kerk is.  Al die ure wat ek insit elke week om musiek voor te berei vir die erediens, die gesprekke met die predikante, die selgroep, alles dinge wat ek doen om my liefde vir die Here Jesus met hulle te deel.  Ek het geen behoefte om weg te gaan na ‘n nader kerk of gemeente nie.  Ek verstaan ook waar ons mense vandaan kom en ek het geen behoefte om hulle te verander nie.  Wat wel seermaak is die manier hoe vriende hulle onserheid en vrae hanteer, die hartseer en frustrasie van die drie predikante wat in hierdie jaar ook iets van die werk  wat Die Here besig is om te doen, ervaar het.  Al die onwilligheid om ander denke en fasette van ons geloof te akkomodeer.  My vrou se trane oor die passie wat sy het vir die kinders en mense en die feit dat sy dit nie meer met openlikheid en vrymoedigheid kan deel nie.  Dat sy voel asof sy nêrens hoort of tuis is nie en nie voluit haar geloof kan deel met mense nie.  As mense die Here leer ken en hulle harte vir Hom gee en ek voel nie regtig dat ek hulle na ons kerk toe kan nooi nie – Waar is die visse wat ons vang vir Jesus?  As ou selgroep vriende skielik nie meer gemaklik voel om hulle gedagtes en gevoelens met jou te deel nie.  Is ek dan nie vandag dieselfde Ettienne is ‘n maand of ses terug nie?

The Good

Ek het die gerusstelling dat God nooit op Sy woord teruggaan nie en dat verandering en herleweing met of sonder my sal kom.  Ek het ook soveel liefde en ondersteuning ontvang deur al hierdie omwentelinge dat ek oortuig is dat die groot meerderheid van ons mense verby die verskille kan kyk en die hart van liefde sien.  Hulle voel ook soos ek dat ons eenheid in Jesus baie groter is as ons lojaliteit aan sekere tradisies en gewoontes.  Ook mense ver buite die grense van ons kerk wat SMS, bel of eposse van bemoediging stuur.  Mense wat kom koffie drink en kom kuier.  Vriende wat ook in tye van hulle eie onsekerheid om gesels nie omdat hulle altyd saamstem nie, maar juis om ook hulle vrae openlik te vra en saam te praat oor die wonderlike Here wat on dien.  Drie wonderlike predikante wat met soveel deernis en liefde hierdie kruis dra.  Van hoe wonderlik voorsiennig Jesus my Ma en Pa gestuur het om te kom kuier, skielik 3 weke terug besluit hulle wil bietjie kom, lank voor daar nog eers ‘n embrionale gedagte was oor doop en sulke dinge en hoe hulle ons in liefde ondersteun het.  Vir Wayne en Iana wat dik-en-dun vriende bly.  Aan elkeen van julle wie se ore oop is vir Jesus se stem en Sy liefde elke dag uitleef, mag Ons God, julle oorvloedig seën.  Julle skat in die hemel sal groot wees. 

Ek sien ook dat hierdie gebeure ons voorberei vir groter dinge.  Dit alles bring rustigheid in my gemoed. 

Ek bid opreg tot die enigste Almagtige God dat Hy dieselfde geduld en genade aan ons sal bewys soos aan Noag en dat hy ons in Sy Ark van verlossing sal pak en sal oprig tot ons op die bergtoppe van Arrarat sy Heilige Naam sal besing…


Een Reaksie to “The Good, The Bad and the Ugly”

  1. Hi Ettienne
    Ek is bly jy skryf jou gedagtes neer, want oor ‘n paar weke/maande/jare gaan ons almal terug kyk en sien dat God ‘n wonderlike pad met ons almal gestap het. Alles is nie nou duidelik nie en daar is baie vrae en seerkry. Tog weet ek God is in beheer en ons kan Hom vertrou. Ek is eintlik so opgewonde want dit is net so “amazing” dat soveel mense wat ek ken ‘n nuwe geesvervulde pad stap saam met Jesus. Niks kom naby dit nie – ek het nog nooit iets gedoen wat so lekker is nie. Ek drink uit ‘n fontein en die water is stroopsoet. Terug kan ons nie gaan nie – en ons kry dit reg om dinge in ‘n ander perspektief te sien. Ons is gedurig besig met geestelike oorlogvoering. Wanneer mense ons sleg maak of dit waarvoor jy staan bevraagteken dan sien ‘n mens sommer daardie gees van “godsdienstigheid” wat in daardie persoon se lewe heers. Jy kyk veryby dit en sien hier is iemand wat die Here soek, jy besef dat jy ook ‘n rol gaan speel in die persoon so verlosssing. Julle gesin moet lekker uitrus hier oor die groot dae. Ek hoop dat julle tyd gaan hê vir mekaar en ook tyd saam met God want Hy het groot planne met julle.
    Baie liefde en ek het vir jou kollega gebid. My skoonsuster Ellen wat jy ontmoet het twee dogters waarvan die een gebore is met ‘n gesplete verhemelte. Ek bid saam met jou dat God al die ander goed sal genees. Ellen is ‘n fantastiese Christen en sal BAIE moed kan inpraat vir ‘n jong ma. Haar dogter met die gesplete verhemelte stuit vir niks. Sy is ‘n regte “go getter” en vandag ‘n pragtige meisiekind. Baie operasies maar alles het goed uitgewerk. Baie liefde van huis tot huis. Marietjie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.