E-pos uit die lug.

10 Desember 2009

Die storie begin Dinsdag voor die omstrede dopery (lees daaroor op “Die haar wat die kameel se rug gebreek het“).  Ek was nog besig met ‘n heel ander opdrag van God vir ons gegee het (ek sal dalk nog later daaroor gesels).  Ek staan langs die teater tafel en vra die mense of iemand ‘n groot belangstelling in simbole of vrymesselary het want daar is ‘n sekere simbool waarvan ek die betekenis soek.  So sê die skropsuster dat ek haar selgroepleier moet kontak want sy is baie “Geesvervuld”.  Sy vertel my toe ook van ‘n DVD wat sy gekyk het oor “The Pilgrims Progress”. 

Twee dae later vind ek ‘n DVD in my spreekkamer oor “The Pilgrims Progress”.  Ek vra wie dit afgelaai het en my ontvangsdame sê dat dit een van teater se susters was (nie my skropsuster van Dinsdag nie).   Ek vat dit huis toe en daardie aand kyk almal die DVD.  Voor in is ‘n e-pos adres op ‘n klein papiertjie geskibbel.  Teen Vrydag vra die eienaar van die DVD of ek dit gekry het en ook of ek die e-pos adres gevind het.  Sy noem weer dat ek vir die dame moet kontak oor die simbool.  Ek was toe nog nie seker of dit toepaslik sou wees nie, ek ken eintlik nie een van die mense op ‘n geestelike vlak nie en weet nie eens in watter kerk hulle is nie.

Die naweek bars die waterbom (of is dit nou doopbom) met alles wat volg daarna.  Mense SMS en bel van heinde en verre met woorde van bemoediging.  So kom Hanelie Gouws en haar man Barry ook Woensdag kuier.  Ek praat sommer oor herlewing en hoe die NG kerke nou op ‘n klomp plekke deur dieselfde ding gaan en hoe ek nie kan glo dat daar nie tussen die verskeie gemeentes gekommunikeer word nie.  Sy vertel van ‘n vriendin van hulle wat in ‘n NG-gemeente in Brackenfell is wat ook deur ‘n hele doop polimiek gegaan het.  Toe hulle haar naam sê, onthou ek die e-pos adres – dit is dieselfde naam.  Net daardie nag stuur ek ‘n e-pos, nie oor simbole nie, maar oor doopsake en hoe hulle dit hanteer het. Hier is haar antwoord, eintlik haar getuienis:

Vriende in Christus

Ek is totaal en al ‘n buitestaander…. of so het ek gedink.  Maar die Heilige Gees werk soveel groter as wat ons ooit kan dink.  Ons God word nie vasgevang in die dimensies van tyd of plek nie.  Hy sien ‘n veel groter prentjie en uiteindelik is ons almal maar net pionne in dieselfde skaakspel.

Nou, meeste van julle het geen benul wie ek is of hoe ek in die prentjie pas nie.  Ek wil tog met julle so ietsie deel, want ek glo dat God in gees en deur die Gees twee gemeentes en verskeie rolspelers aan mekaar kom bind het.  Verstommend hoe mens dinge geestelik waarneem en dan net aan God al die eer kan gee.  NIKS is toevallig nie!

Kom ek begin met ‘n bietjie agtergrond rondom myself.  Ek is lidmaat van ‘n NGK.  ’n Kerk wat nou herlewing smaak en daagliks vernuwe in die koninkryk.  Dit beteken dat ons onder die 5% NGK’e val wat nie kwyn of toemaak nie.  Ek glo dat ons hierdie seen aan drie dinge te danke het: (1) genade, (2) gehoorsaamheid en (3) omdat ons ‘n koninkryksfokus het!  So paar jaar gelede het die Here my lewe onherroeplik kom verander.  Ja, ek was ‘n Christen; ‘n bekeerde.  Maar ek was ‘n lou christen; ‘n maagd wat nie genoeg olie in haar lampie gehad het nie.  Die laaste 2 jaar was egter ‘n amazing journey.  ’n Reis van persoonlike vernuwing, herlewing en passie vir Jesus!

Waartoe lei bogenoemde toe?  My bekeringsdoop.  Sjoe, ek was deur ‘n vuurdoop by ons gemeente!  Ek was seker die eerste wat die openlik gedoen en daarvan getuig het.  Ek het nie daarin geglo om dit agteraf te doen en/of van kerk te verander nie.  As bedieningsleier en selleier het ek ‘skorsing’ in die gesig gestaar, maar ek het geweet: my toekoms en pad vorentoe is in die hande van God.  Nie die kerk of mense nie.  My uitgangspunt op daardie stadium: ek het nie ‘n leiersposisie nodig om diensbaar in die koninkryk te wees nie.  Come what may, ek was in my gees oortuig dat ek die regte ding gedoen het.  Die storms was uiteindelik uitgewoed en die kerk het besluit dat dit veel belangriker is om ons oog op God se koninkryk te hou as om toe te laat dat satan skeuring bring as gevolg hiervan.  Persoonlik glo ek dat hierdie besluit seen en guns vir ons gemeente tot gevolg gehad het.  Want ons fokus was op Jesus en nie op dit wat die vyand ons wou laat fokus nie.  

Intussen het 18+mnde verloop.  Maande waarin die Here verder met ons gemeente kom werk het.  Ag, hieroor kan ek baie skryf, maar glo nie dis op die oomblik ter sprake nie.  Wat ek wel kan noem is dat hy by ons leraars begin het (en steeds met hulle besig is).  Sien, daar is 2 strome lewende water in ‘n gemeente: die leraars en die P&W.  Wanneer die gemeente kom vir voeding en hierdie bronne is droog of bitter, gaan die skape dors en ongevoed huis toe.  So, raai waar is die grootste aanvalle/teenkanting?  Satan weet mos dit en sal alles probeer om hulle te verblind deur godsdiens, tradisie, Jezebel, ens.  Maar Goddank, ons is bewus hiervan en Hy wat in ons is, is groter as die duiwel wat in die wereld is!!  Ons een leraar getuig so 5 mnde gelede van die preekstoel af: “die Here het my kom verander; vir die eerste keer in 18jr preek ek deur die Heilige Gees.”  Nou… dit neem oortuiging en ‘n ware hartsverandering!  Dan gaan dit oor God en nie homself nie.  Ek kry steeds hoendervleis as ek hieraan dink!

Ongeveer ‘n maand gelede bied ek ‘n vrouekamp aan.  Die Here wys duidelik aan ons vrouebediening wat Hy wil doen, maar dat ek mense van buite moet kry om te help met geestelike bediening.  My paaie het so tydjie voor dit met Zoe en Hannelie gekruis en die Here wys hulle baie duidelik aan my uit.  Sjoe, ek was nie seker hoe hierdie gaan realiseer en uitspeel nie, maar…. as dinge van God kom, dan open deure en dinge val net in plek.  Lang storie kort…. AMAZING kamp gewees.  50 Vroue onherroeplik verander, Geesvervuld en uit hulle tradisionele boksies.  Die uiteinde van hierdie kamp…. ‘n geleentheid vir die bekeringsdoop.  Gehoorsaam (nadat ek die koste bereken het), doop ek na afloop van die kamp ‘n klompie vroue.  Wetende wat op my wag, want nou het ek dit onder die naam van ‘n NGK gedoen en werklik my leierskap in ‘n moeilike posisie geplaas.  Maar weereens, ek was gehoorsaam en het dus geweet God is aan my kant.  Ek was gereed vir wat ookal op my wag, want my toekoms is in God se hande – net Hy bepaal my pad!

Die Maandagaand getuig ek by ons leiersvergadering van die gebeure van die naweek.  Ook van die doop.  Onnodig om te se… ek het hulle in ‘n baie ongemaklike situasie geplaas.  Intussen het vele mense van ons gemeente persoonlike herlewing begin ervaar en die bekeringsdoop ondergaan.  Sommige het aangebly, maar ander gaan weg.  Dis so jammer dat die doop veroorsaak dat passievolle mense vir Jesus die NGK moet verlaat.  Ek dank die Here dat ons kerk dit besef het en besluit het om die vyand teen te gaan.  Die doopbeleid is hersien!  Sjoe, net die feit dat hulle dit hersien het, het al die geestelike realms beweeg!!  Soos verwag, volstaan en onderskryf ons NGK steeds die sprinkeldoop, maar geen persoon wat die bekeringsdoop ondergaan sal gevra word om die kerk te verlaat of vervolg word nie (dit is nou die kort van ‘n baie lank).  Geen grootdoop mag egter onder die naam van ons kerk plaasvind nie.  Wat was die fokus…?  God se koninkryk!  Ons het geweier om toe te laat dat die vyand die doop gebruik om herlewing te stop of ‘n gemeente te skeur.  En so vergroot die venster van goedheid en guns oor ons gemeente.  

Intussen ontvang ek (redelik onlangs) ‘n mail van ‘n selvriendin.  Iemand het haar vertel van ‘n kerk waar ‘n vrou opgestaan het en… (ag julle ken die storie).  Kan sy die persoon met my in kontak plaas?  Sien, gedurende die laaste twee jaar het die Here my op ‘n pad gevat waar nie baie mense wil gaan nie… die pad van geestelike oorlogvoering, die geestelike realms, bindings en bose geeste, satanisme, die antichris, vals profete, ens ens.  Die weke gaan verby, maar die persoon maak nie kontak nie.  Ek vergeet eintlik hiervan.

Maandagaand drink ek tee saam met ‘n vriendin, Hannelie.  Sy vertel my van ‘n voorval in hulle kerk!  Ek val byna van my stoel af.  Dis dan haar kerk.  Vader, kan U hand so pertinent hierin wees?  Mens staan klein voor ons almagtige God.  Ken ek en sy mekaar toevallig?  Toevallig dat die chirurg en my selvriendin mekaar ken?  Toevallig dat ons kerk ‘n voorloper was van ‘n soortgelyke pad wat julle nou gaan volg? Nope!

Hoekom skryf ek dit alles?  Omdat ek net vir julle wil se: God is in beheer. Hy is besig om Sy kerk, Sy liggaam en Sy bruid te suiwer.  Hy het ook julle kerk gekies as ‘n plek waar Hy wil vernuwe, herlewing bring en Sy Gees uitstort.  Soveel mense in julle kerk is al in posisie geskuif (dink aan ‘n skaakspel).  Sommige pionne word in plek geskuif vir ‘n plan wat later tot uitvoering kom.  Julle oe sal nou open vir hierdie rolspelers.  Dank die Vader, want Hy is die ultimate Skaakspeler!

In Vadersnaam, wees asb bewus van julle vyand wat rondloop soos ‘n brullende leeu.  Hy gaan nie net terugstaan terwyl julle hierdie ongelooflike pad stap nie.  Dit gaan nie ‘n maklike ene wees nie.  Maar hou asb julle oe op God en Sy koninkryk; bid, bid, bid; wees asb gehoorsaam ten alle koste, en weet…. God beloon gehoorsaamheid – ALTYD.  Sy goedheid en guns is hangende oor julle gemeente – stap die pad van gehoorsaamheid, boldness en geloof en ervaar hoe Hy julle elkeen persoonlik, asook die gemeente, na nuwe hoogtes neem.  Steun op intersessors wat met hulle ore na aan die Here leef!  Eet die olifant stukkie vir stukkie, maar moenie koud staan en toelaat dat die gees van tradisie en godsdiens julle terughou nie.  

Ons beweeg in die laaste tye; God is in die proses om Sy Gees uit te stort.  Staan asb ontvanklik hiervoor en moet Hom nie teenstaan nie.  Die Here bring nooit iets oor jou pad wat Hy jou nie die genade gee om ook te hanteer nie.  My Skrif aan julle gemeente:
1 Kor 10:13  ”Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie.  God is getrou.  Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”  
Onthou…. ons krag is van Hom en IN Hom.  Hy is GETROU!  Hy het ‘n plan met julle elkeen persoonlik, maar spesifiek met NG Welgelen.  Vat mekaar se hande en versterk die front teen die vyand.  Staan saam, bid saam en veg saam!  Stap die amazing pad in gehoorsaamheid, geloof en gebed!

Wat saak maak is nie ons ou tradiesies of nuwe sieninge nie… dis nie ter sprake wie reg of verkeerd is nie…. Wat ter sprake is, is wat is God se wil?  Wat is Sy plan?  What would Jesus want us to do?  Onderskei asb tussen die wil van God en die strategie van die vyand.

Ek bid julle ALLE seen toe.  God begin niks wat Hy nie voltooi nie.  Mag julle elkeen die teenwoordigheid van die Heilige Gees beleef – selfs net in die lees van hierdie skrywe!  En moet die vyand geen verdere vatkans gee nie.  Herken wat aan julle uitgewys is, verwyder dit sodat die Heilige Gees kragtig kan beweeg!  Iets is of 100% reg of weg!  Wat is vals lering anders as iets wat nie 100% die Waarheid verteenwoordig nie?  Moenie dat die vyand julle mislei nie.  Dit is baie, baie maklik om te af te maak of toe te smeer.  Buitendien…. die behangsels is werelds!  Mag julle elke toets van gehoorsaamheid slaag – op ‘n persoonlike vlak, maar ook op gemeentelike vlak.  Begin net met die suiweringsproses.  En onthou… dis is ‘n proses - nie iets wat eensklaps gebeur nie!

Ek eer en spreek seen uit oor elkeen wat tot dusver in boldness en geloof vir hierdie saak gestaan het.  Die hemele juig oor julle!

Is ons God nie wonderlik nie?  Sy Gees is in ons almal.  Hy hoor ons hulpkrete nog voor ons weet ons is in die moeilikheid!  Ek weet een ding, vir hierdie God sal ek my lewe aflê.  Sy naam is Groot bo alles…


Een Reaksie to “E-pos uit die lug.”

  1. wil graag e posse ontvang van al die wonderlike dinge wat gebeur. Dankie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.