Die nuwe wyn en die ou wynsak

Dit klink amper soos een van Worsie Visser se Weskus vastrap treffers… maar ek wonder tog oor hierdie ding wat staan in Luk 5:37.  Dan staan daar ook nog in vers 39 dat niemand wat gedrink het van die ou wyn van die nuwe wyn wil hê want hulle sê die oue is goed.  Is dit dan nie ook maar so oor die doop nie? Want sien, daar was nou weer die naweek ‘n “Retha kamp” soos dit nou genoem word – Retha McPherson, ou NG-meisie wat nou hoog in aanvraag is oor die hele land.  Sy is die geestelike ekwivalent van Woolworths vir Nuwe wyn.  Nie minder as 30 mense van 7 of 8 tot 70 is gedoop die naweek.  Meeste van hulle uit die NG-kerk.  Een van my goeie vriende en kollega’s het ook die stap geneem, nadat hy ook lank met sy eie predikant hieroor geworstel het.  Die wat nie gedoop is nie, dink sterk daaroor en sê selfs dat hulle weet dit is die regte ding maar hulle voel nog net nie reg daaroor nie.  Alles wonderlik tot nou toe – soos ek elders gesê het, stuk-stuk gaan ons in die beloofde land in..

Nou lyk dit my het ek so ‘n bietjie galsterigheid hier onder in my wynsak proe.  Van al hierdie mense wat nou vol nuwe wyn is, is daar nou diegene wat nie wil terug in die ou sak nie.  Net soos die byeboerliedjie sê: “Sy’t vas besluit sy trek hieruit want sy wil na die vlaktes gaan…” het my vrou reeds besluit sy soek ‘n nuwe velsak (kerk).  My vriend lê sterk aan by die 7de dag se adventiste.  Ek kan nou nie help om te wonder oor ou Joshua, toe hy sê “Ek en my gesin, ons sal die Here dien”, na watter kerk toe het hy en sy vrou gegaan nie, of was hy maar net te skaam om te sê:” Ek en my gesin, ons sal die Here dien, so elkeen op sy eie…”  Hoe kan soveel goed, dan nou soveel sleg saambring?  Het die nuwe beloofde land dan nie eintlik rus vir sy mense nie?  Is dit te veel vir my om te vra:”Here, ek en my gesin, ons WIL U graag saam dien!”

~ deur Khosaan op Desember 7, 2009.

2 Responses to “Die nuwe wyn en die ou wynsak”

  1. Ettiene
    e-pos bly maar sleg om te kommunikeer. Die hele gedeelte van Luk 5 verwys na die ou en nuwe verbond/bedeling (metafore). Jesus het gekom en alles nuut gemaak. Ja daar sal mense wees wat aan die ou bedeling (wettiese) bly vashou en die voorbeelde wat Jesus gebruik is maar om dit in daardie tyd se idioom te plaas. Ons kerk is ook, getrou aan die reformasie, op ‘n voortdurende pad van vernuwing – sommige vinniger as ander maar dit is maar die instituut/struktuur waarvan ons praat en waarvan ons deel is. Miskien moet ‘n mens by die instituut verby kyk en hoor waar die Here jou nou wil gebruik, veral as jy in die huidige instituut nie kan bedien nie. Jou versugting vra vir ‘n regte gesprek.

    • Dit gaan nie vir my soveel oor die veranderinge en nuwe denke (wat goed is) as wat dit gaan oor die skeiding wat dit oor die eeue gebring het nie. Ek staan nou weer stil by Filipense en die tema is so sterk dat ons, ons in die Here moet verbly en dan die oproep tot eensgesindheid. My vraag is dit: “Hoe kan ons strewe na eensgesindheid binne die kerk as ons dit nie eens in ons huis kan beryk nie?” Ek weet ons moet hierdie dinge in die hande van Jesus los, maar soms wonder ek oor Sy eie woorde oor die velsakke en die nuwe wyn en wonder dan as Hy self sê dit is onmoontlik, wie is ons dan om te stry?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: