Van nuwe lewe en diepe seer

My hart bloei – dit is so ‘n ou gesegde, maar tog so raak.  In die loop van tyd stap ek weekliks ‘n pad saam met so baie mense, ook die wonderlike personeel in teater waar ek werk.  Drie van die mense daar het kort na mekaar swanger geraak, elkeen met haar tweede kind.  So groei ons saam met hierdie klein lewetjies, eers net die nuus van “ek is swanger”  Dan kom die eerste sonar foto – omtrent net ‘n spikkel in ‘n sneeustorm maar dit is haar kind.  Gesprekke om die teater tafel draai na name kies, baba kamers versier,  Ou-boet of Ou-sus wat nog elke aand by Mamma kom slaap en so borrel die opgewondenheid voort.  Magies word al groter en later kom die datum al nader.  Twee van die mense se baba’s, spek vet en gesond, is so drie maande terug gebore en almal blom.  Die derde meisie (Ek weet nie, dame of vrou klink net nie reg nie)  wag nog rustig toe daar op die detail sonar gesien word dat haar ongebore meisiekind ‘n gesplete verhemelte het.  Daar word beplan vir vroeër verlossing en skielik verander die ligte borrels van vreugde en afwagting  in dik stroop van angs en kommer – jy weet mos hoe stroop so stadig oor iets vloei en dit dan so taai bedek?  Daardie gevoel van “Ag nee!  Of soos Jesus self aan die kruis gevra het; My God, My God, waarom het U my verlaat?”   Soos ‘n dik swart gordyn hang dit oor jou.

Haar baba is gebore, kleine meisiekind met etlike afwykings – natuurlik een of ander sindroom – ek het nog nie eens die moed gehad het om haar te vra nie.  Al wat ek hoor is dat die baba nou in die neonatale eenheid lê.  Sy kan nie lekker suig of drink nie weens die gesplete verhemelte en hulle sukkel met haar lugweg en asemhaling.

Ek loop haar vandag raak in teater nadat sy weer van haar jongeling af gekom het en my hart bloei – my woorde droog op.  Ek vra hoe gaan dit en sy is heel moedig – vertel van die nuwe plaatjie wat die verhemelte moet toe hou maar hoe hulle nog sukkel met haar drink en asem.  Sy praat van iemand wat van Rooi Kruis Kinderhospitaal gaan kom om raad te gee en ek sien hoe sy verbete klou aan elke stukkie hoop wat daar is.  Hierdie is immers haar kind, meer werd as goud, die een waarmee sy nou al vir 8 maande saam aankom, oor wie sy al baie drome gedroom het en wat al so diep in haar hart ingekruip het.

Wat sê ek vir haar – van ‘n Goeie God, wat omgee, wat Lief is vir ons, wat seer gesond maak en stroop afwas?  Al wat ek kan doen is haar ‘n stywe druk gee – dit voel soos my eie dogter vir wie ek nie kan help nie.  My hart bloei.  ‘n Lang stywe druk wat probeer sê: “Ek gee om!”

Ek Bid, my Here God, Liewe, Wonderlike Here Jesus, dat U hierdie ma styf sal vashou – Here ons smag na U wondermag op hierdie aarde.  Stuur die Engele om haar te vertroos en te versterk, soos toe U self in Getsemane bedroef en beangs op U knieë tot ons Abba Vader gebid het.  Skepper Gees, Elohim, red hierdie kleine kind, blaas U asem van lewe en genesing in haar kleine lyfie sodat sy ‘n getuienis van U liefde en krag kan wees.  In die naam Jesus, van my enigste verlosser bid ek dit.  Amen!

~ deur Khosaan op Desember 8, 2009.

One Response to “Van nuwe lewe en diepe seer”

  1. Ettienne ek sal haar opdra aan die Here want ek weet verseker die Here maak nie foute nie. Wanneer ek jou woorde lees raak dit my baie diep en kan ek nie help om saam met daardie mamma te voel nie. As jy vir daardie mamma kan sê (want nou help profesie nie – ‘n mamma bly ‘n mamma) dat ons partykeer nie God se weë verstaan nie maar die beste getuienis vir Hom het sover gekom uit mense se gebrokkenheid uit. Daar is defnitief ‘n pad wat God met daardie dogtertjie wil stap. Dit is allermins Sy kindjie wat net vir die mamma en pappa geleen is. Al wat ek weet is dat daardie kindjie lewens gaan verander. Ek bid dat God se wil sal geskied en dat wat ookal gebeur en die swaar pad wat ookal voorlê, die ouers deur ons Abba Vader gedra sal word, nuwe krag, nuwe moed, nuwe geduld…… Al daardie dinge wat vir ons probeer ondertrek. God sit nooit iets op ons skouers wat Hy nie self weet ons kan dra nie. Sy bly in my gebede.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: