Kinderkersfees

Ouma Gerrie en Ouma Pat 1951Ek sit vandag en dink aan Kersfees – nie aan die diep en geestelike deel daarvan nie, maar sommer aan die gevoelens en flitse van ersfees as kind.  Wat maak die ding nou eintlik so spesiaal?  Wat maak dat ek meer van Kersfees kan onthou as van my eie verjaarsdae?

Ons Ou Tradisies

Elke familie het mos maar tradisies – dinge wat so oor die jare ontwikkel het.  As kind het ek groot geword met Kersfees as ‘n groot familiefees.  My Ouma en Oupa Marais (my ma se ouers) was die sentrale bymekaarkom punt.  Al die ooms en tannies met al 12 niggies en nefies het elke jaar op ou-kersaand bymekaar gekom.  Ek weet nou dat daar maar ook baie onsmaaklikhede tussens die grootmense was, maar wat ons kinders betref het, was dit die wonderlikste tyd op aarde.  Die lekker speel saam met al die maats, die spekulasie oor wanneer kersvader nou eintlik sal kom en wat hy nou eintlik gaan bring.  My ouma het ‘n groot kersboom in haar sitkamer gehad met horing oue liggies daarin.  Hier teen 3-uur die middag word al wat ‘n kind is so stuk-stuk deur die bad te jaag om al die vuil te probeer afskrop.  Dan word netjiese skoon klere aangestrek en ons begin reg maak vir aandete en die groot gebeurtenis.  Ek onthou een jaar wat ons almal in Ouma se kombuis gesit het, almal se ore gespits vir kersvader se slee om op die dak te land… Toe ons die harde BOEM op die dak hoor, borrel dit oor van opgewondenheid en nadat een van die ouer mense eers gaan loer het of kersvader al weg is, is ons toegelaat om deur te stap na die sitkamer.  Ek sal die gevoel van opgewonde verwondering nooit vergeet nie.  Daar was ‘n berg persente onder die boom, die melk en koekies was opgedrink en daar was geen teken van kersvader nie.  Dit was MAGIC! 

Toe ek eers groter word en begin besef daar is nie regtig ‘n kersvader is nie, was dit nie die ding wat kersfees minder spesiaal gemaak het nie, maar die afwesigheid van al hoe meer familielede en na my Oupa en Ouma se dood, die totale afwesigheid van die groter familie.  Daar was altyd vriende en ons gesin, maar daar was die jare wat Kersfees amper gedwonge gedoen is maar nie regtig gevier is nie.  Ek en van my niggies het probeer om weer ‘n groot familiekersfees te hou, maar te vergeefs…

Die nuwe  tradisies

Toe ons  kinders kry, het Kersfees weer lekker begin word, want toe word dit weer ‘n saak van groot opgewondenheid.  Die ou Marais tradisies kon weer begin herleef.  Toe my ouers so vier jaar terug Kranspoort toe trek, is ons weer daar bymekaar vir kersfees. Dit was 3 generasies van Myburghs en Saaimans (my sussie se man se familie) bymekaar en ‘n menigte kinders.  Dit het vir die eerste keer weer gevoel soos Kersfees met ‘n hoofletter “K”.  Ons braai by Oom Bart en kersvader moet land op ons dak.  Met teerpale en allerhande stutte, strategies op die dak, vislyn wat vir 3 m deur die vlei gespan word om die “kontrepsie” te aktiveer en ‘n ongetoetsde sisteem van sleelanding sit ons die aand en braai.  Elke kind borrel oor van opgewondenheid.  Daar is een of twee ouer seuns wat baie skepties is oor die kersvader saak.  Ek trek my tou – jy kan nie glo hoe ver ‘n stuk vislyn kan rek nie – en uiteindelik hoor jy net ‘n gerommel op die sink dak soos ou rooies kom land.  Elke kind spring uit sy vel en ons moet hulle probeer beteuel soos in die onluste dae van ouds.  Hulle hardloop deur die veld, bo-oor slange en klippe na ons huis toe.  Kersvader het al die persente daar op die stoep onder die boom uitgegooi en wat ‘n gesig.  Dit voel of ek weer 5-jaar oud is…  Life is good!

Verlede jaar besluit ons om op die nippertjie tog maar na my ouers te gaan vir Kersfees.  Vliegtuigkaartjies word teen vrek goedkoop aangebied en ek gryp dit aan.  Ek bel my tannie in George en sy besluit ook om te kom.  ‘n Plan begin hier in my kop broei – Familiekersfees met ‘n dubbel hoofletter “F”.  So begin ek al die neefs en niggies, ooms en tannies, broers en susters en al wat ‘n kleinkind en agter kleinkind is bymekaar kry.  Almal is entoesiasties.  Op 24 Desember 2008, na 13-jaar, is almal daar met die uitsondersing van een nefie en een niggie.  Ons hou weer Kersfees, dit borrel oor van opgewondendenheid, kinders gil en speel en swem.  Ek ontwerp die “slee lander 2008” – ‘n spesiale kontrêpsie met rekkies en goedjies wat ‘n kort teerpaal in posisie hou en met ‘n stuk vislyn geaktiveer word.  Al moet ek self sê, die beste model nog in 38-jaar.  Kersvader land sonder enige probleme, almal is uitbundig opgewonde…

Ek hoop dat elkeen hierdie jaar ‘n baie spesiale Kersfees sal hê.  Ek wil nie my kop-kiekies van al die lekker kersfeeste wat ek as kind gehad het ruil vir enigiets ter wêreld nie.

~ deur Khosaan op Desember 24, 2009.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: