‘n Lewe van wonders

Ek sit nou al die afgelope 13 dae en wonder wat om te skryf.  Nie dat daar niks gebeur het nie, maar nadat ek weer vol in die werk ingespring het, rol die dae vinnig verby en het twee boeke oor my pad gekom wat die aande en vroeë oggendure beset het.  Ek brand al sedert die naweek om my gedagtes bymekaar te sit, maar vandag het die wonderwerke weer begin…

Kom ek vertel eers van die twee boeke wat ek lees:  Die eerste is “There is Dynamite in Praise”.  ‘n Klein boekie wat Adriana al ‘n jaar gelede gelees het en vir my klein stukkies van vertel het.  Dit handel oor die krag wat daar is in lofpysing en dankie sê aan God.  Die ander is Rebecca Brown se “Hy het gekom om die gevangenis te bevry”.  ‘n Boek deur ‘n mediese dokter wat in haar huisdoktersjaar by ‘n hospitaal in die midde van ‘n groot sataniste gemeenskap moes doen en hoe sy betrokke geraak het by ‘n vrou wat ‘n hoëpriesteres en bruid van satan self was.  Hoe ek by die boeke uitkom is vanself ‘n storie.

In Februarie 2008 is ek saam met ‘n klompie dokters Mosambiek toe om vis te vang.  Kort voor ek vertrek, vertel Adriana my van die boekie wat sy begin lees het.  Die eerste aand in Moz bel ek haar en sy vertel my van ‘n stukkie in die boekie waar ‘n vrou saam met haar man gaan visvang en waar sy dan sit en lofprys met die vistok (omdat sy nie van visvang hou nie en nou maar eerder iets anders wil doen).  Terwyl sy dit doen vang sy die een vis na die ander en haar man niks.  Ek besluit dit kan nie skade doen nie, en hou in elke geval van visvang.  Ek vind dit was my siel skoon so langs die water met my vistok in hand.  So vang ek vis en loof die Here – somer met enige Gesang of Psalm of Retief Burger lied wat ek in my kop kry.  Partykeer dink ek maar net bewustelik oor goed waaroor ek kan dankie sê.  In die week vang die meeste ouens maar sleg, maar ek vang ‘n lekker Cuta van die Jet Ski af en van die kant af vang ek 3 Koningvisse (so 3kg elk) en ‘n groot “spotted Snapper” van 11.5kg (die SA rekord in my boek staan op 9.5kg).  Met dit wen ek onverwags ook twee pryse vir die grootste totale gewig vis en ook die grootste individuele vis.  Prys die Here – ek en Adriana gaan in September vir 4aande na twee 5-ster wildsreservate toe!  Ek lees nooit self die boek nie maar ‘n vriendin besluit in Desember dat ek die boek moet lees en sy leen dit vir my.  Dit is interessant maar sonder dat ek dadelike aplikasie vind vir die inligting daarin.  Dit sou later kom…

Schalk is ‘n dokter wat saam met my gestudeer het, ons was saam huisdokters in Pietersburg gewees en nadat hy van Engeland af teruggekom het, het ons weer hier in die Kaap bymekaar gekom – ek wat spesialiseer en hy is ‘n GP.  In al die jare praat ons nie een woord oor Jesus met mekaar nie.  In November SMS hy my uit die bloute om te vra wie my gedoop het.  Ek bel hom en tot 1uur in die oggend gesels ons net oor God, Sy koningkryk en die doop.  Einde 2009 word hy gedoop en ervaar die Heilige Gees baie sterk in sy lewe.  Hy vertel my van ‘n man wat van Rusternburg af oorgeplaas is na hulle versorgingsafdeling.  Noem hom maar Jannie (skuilnaam).  Hy was in ‘n ongeluk en vir maande in Johannesburg in ‘n hospitaal.  Daarna na Rustenburg oorgeplaas in ‘n permanente vegitatiewe staat (hy reageer nie op enigiets, haal asem deur ‘n tracheostomie en word gevoed deur ‘n voedingsbuis en kan glad nie sluk nie). 

Net na Schalk van vakansie terugkom, kry hy vir Retha McPherson by die man se bed.  Haar seun was ook in ‘n ongeluk erg breinbeseer (lees die storie hier). Sy was besig om vir Jannie se vrou te wys hoe om hom te laat skryf.  Wat! Skryf in ‘n koma!  Hy reageer nie eens behoorlik op pyn nie!  Sy vat sy hand en sit ‘n pen daarin en … HY BEGIN SKRYF!  “Wys my vrou”, is wat hy eerste skryf.  Daar is al ander gevalle hiervan beskryf maar meeste dokters bly maar baie skepties – ek en Schalk ook.  Hy probeer dit egter een aand ook met Jannie en dit werk wraggies – dit gaan maar stadig maar letter vir letter en woord vir woord kommunikeer hy – en hy skryf toepaslike goed, kan sê watter kleur hemp die fisio aangehad het, ens.  Verlede naweek bel die suster vir Schalk – iets is groot fout!  Jannie se bloeddruk en pols het baie laag begin val en hy haal swak asem.  Schalk gaan kyk dadelik.  Hy kry niks regtig fout nie en met ‘n bietjie ondersteunende behandeling verbeter hy ‘n bietjie maar dit pla hom.  Hy het vir Retha op hoogte gehou oor sy toestand en hy laat haar weet.  Sy bid en laat weet terug dat Schalk ‘n “koma gees” moet gaan aanspreek.  Ook dat hy Rebecca Brown se boek moet lees.

Adriana het die boek van Rebecca Brown omtrent twee maande terug gekoop, maar het gevoel dat dit nie toe die tyd was om dit nie lees nie – so het dit op die boekrak beland.  Ek begin dit lees en daardie dag bel Schalk my om saam met hom te bid vir Jannie.  In haar boek beskryf sy presies dieselfde gebeure waar ‘n demoniese teenwoordigheid pasiënte se bloeddruk en pols laat daal en hulle laat ophou asemhaal en self laat sterf.  Ek kan die boek nie los nie en weet net, dit is wat ek nou moet weet.  Ek lees oor hoe sy hierdie vrou onder Jesus se leiding van al die demoniese kragte bevry.  Ek sal later meer hieroor vertel want ek verstaan ook nou baie ander dinge uit die woord beter.

Nou by die wonderwerk van vandag – nie dat die vooraf goeters nie wonders was nie.  Ek stap by die ICU in om ‘n pasiënt te gaan sien.  Ek hoor net alarms en ‘n geskarrel toe ek daar inkom.  In die een isolasiekamer is die gordyne toegetrek en ek sien so op ‘n skrefie dat die krisis daar binne aan die gang is, maar dat een van die kardioloë daar is en dus die resussitasie poging koördineer.  Ek vra een van die susters of daar hulp nodig is en sy sê ja.  Ek neem binne die hartmasering oor.  Terwyl ek ritmies op sy borskas druk hoor ek dat hulle eintlik op die punt is om op te gee.  Na meer as 20-minute is daar geen teken van lewe nie.  Geen pols, geen ritme op EKG, geen asemhalingpogings, niks.  Adrenalien stroom deur die drip in.  Almal se arms is al moeg gepomp.  Ek kyk na die blou-grys lewelose liggaam en weet ek moet bid.  Ek sê: “In die naam van Jesus Christus, bind ek hierdie demoon vas wat hierdie man probeer dood maak!”  Ek dank hom dat hy my help.  Die eerste ding wat ek sien is dat hy asemhalingspogings begin maak.  Kort daarna sien ek ‘n ritme op die EKG – eers net wye stadige komplekse.  Ek stop die die kompressies – ek voel vir ‘n pols.  Ek voel ‘n flou pulsasie in die nek.  Die bloeddruk monitor wys ‘n bloeddruk van 70mmHg.  Binne 5 minute vandat ek gebid het, is sy bloeddruk 120mmHg en het hy ‘n normale EKG ritme met ‘n sterk pols.  Die eerste ding wat die senior suster sê is, “hierdie is ‘n wonderwerk!”  Al wat ek kan sê is Dankie Here, Ek prys U grote naam .

In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof elke mag en gesag.”
“Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”
  Kol 2:9,10,15

~ deur Khosaan op Januarie 13, 2010.

5 Responses to “‘n Lewe van wonders”

  1. Wow! Ons God is so awesome!

  2. Goeie middag dokter. My naam is Liese Burger en ek het ook ‘n wonder werk beleef. My suster was in n kar ongeluk in 2008. Al 4 lobbe erg beseer, Diffuse aksonale breinbesering, Metaboliese asidose, Rotasie besering…diabetes insipidus, reageer op profofol soos een uit n miljoen doen met ARDS,etc…Sy was dood. Sy is uit die dood uit gebid na ons uit Jesaja 46 kry dat ‘n profeet uit die Ooste tot ons hulp sal kom. Hy het op 20ste dag in koma by ons uit gekom. Hy het Daniël 10 gekry en geweet daar is ‘n oorlog oor haar lewe en sy sal op 21ste dag wakker word. Sy het! Sy naam is pastoor Jaques van Straten….Dit was met die gawe van kragte en working of miracles. Dit was nie ‘n genesings wonder werk nie maar ‘n skeppingswonderwerk waar God nie genees nie maar die brein moes herskep. Hy het al menigte mense uit die dood uit so gebid en dit nog na hulle al die doods gorrel gee het. Ek het vir 2 jaar daarna nog vir hom geskakel en van hom geleer.
    Hy het heel aan die einde ook op Jeremia 33 v8 en verder vir Rico se wedergeboorte gebid en herskepping van sy brein. Hy het ook gesê die aanklagtes wat die vyand geregtelik op sy lewe gehad het is terug getrek. Ek bid ook vir siekes en het deur Marlene Kotze, Rico se sussie op dokter se blog afgekom. Ek wou graag hoor of ek en dokter by mekaar kan kom en bespreek dat ek ook deel word en so makliker by pasiënte kan uit kom as God wil genees. Ek is wel ‘n suster en my man ook n dokter by Paarl hospitaal. Hy doen sy zuma jare….ek wil net vra of dokter nie asseblief my sal toelaat om dokter te ontmoet nie. Ek werk tans nie maar gaan by Air Mercy services betrokke raak….as die deur oopgan vir my. Pastoor J van Straten het Arc ministries en ICU 9/11 gestig en bid vir siekes as geen medici meer iets kan doen nie.Jesus is die eerste en die laaste woord.sonder hom doen ek niks,ek bid n ie eers as hy nie so se nie.

    Alle eer aan Jesus! Ek is so opgewonde dat dokters nog glo in Goddelike geloof en wonders want meeste dokters dink hulle het die laaste sê en tree op as gode. Ek is so geïnspireer. Groete Liese Burger

  3. Hi Ettienne en Liese
    Arc ministries sover my kennis strek is in Durbanville Sondagaande 6pm bokant Shoprite/Checkers in Wellingtonweg. Dalk is dit moeite werd dat julle dit bywoon?

    Die boodskap op ons gesinskamp in Desember is so waar -God het ons almal met talente en gawes geskape-wanneer ons nog nie deel is van koninkrykswerk nie, gebruik ons hierdie talente op ‘n aardse manier ten bate van onsself. Wanneer ons uitverkoop is aan God, wend ons hierdie gawes aan soos God dit bedoel het- julle dokters het nog altyd die gawe/talent van “healing” gehad, wat jul op aardse wyse deur die medici beoefen het, nou egter begin jul “healing” beleef soos God jul wil gebruik!

  4. Hallo dokter, Ons seun Arjan getroud met Tanya ,2 kinders janriku 3 en Anri 1 het 29 Desember by Mabula nadat hy Anri se dummy ingesit het om 2h30 oppad na die toilet agteroor geval,bloed het uit sy oor geloop was nog by n uur later deurmekaar na Bela BELA BY ST vINCENTS NOODEENHEID gestabiliseer drip ,geintubeer,kateter. per ambulans na montana hospitaal diagnose skedelfraktuur,subduralebloeding neuroloog se is lewensbedreigend. 12h00 geopereer en nou is ons by 18 Jan ,Arjan nog steeds in koma. Dr nie baie optemisties het Difuse breinbesering regeer nie na wense . By ons maak hy oe oop druk jou hand kragtig. Het wel desebraat spasma regter arm. Se asb wat is die beste wat ons vir hom kan doen,klassifiseer waarskynlik nie vir rehab nou nie te laag op glasgow skaal. EEg vandag geneem dr nog nie met ons bespreek nie al wat ek kon sien difuse breinbesering geen tekens van epilepsie nie. Nou die vraag kan Arjan se brein herstel deur algehele breinherstel oor hom uittespreek ? Asb antw hierdie skeywe op

  5. […] heweige geestelike oorlog uitgebreek oor die liggaam van hierdie man. Lees dalk eers my stukkie oor ‘n Lewe van wonders. Ek haal so ‘n stukkie […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: