Anatomie van ‘n Goddelike skepsel

Ek het twee dae terug geskryf oor die twee boeke wat ek lees en ook die wonders wat Jesus gedoen het.  Intussen is daar egter ‘n klein dogtertjie dood van haar breinkanker en ‘n pasiënt van my is gediagnoseer met veelvuldige metastases van haar kanker (verspreiding na ander organe).  Ek vra al my hele loopbaan lank waarom God, wat Almagtig en Groot is, nie mense voor die voet genees as daar gebid word nie.  Een van die mees uitgesproke ateïste, Michael Shermer, gebruik juis die argument dat geen geamputeerde ledemaat weer aangegroei het weens gebed nie.   Ek weet nie heeltemal hiervan nie en ‘n soektog op Google, bring ‘n paar interressante getuienisse.  Die vraag het my eerder laat besluit dat die huidige teorië en leëringe oor Goddelike genesing baie beperk is, eerder as bewys dat God nie bestaan en werk nie.  Ek skryf my gedagtes so stuk-stuk neer.  Lees gerus elke paar dae:

As daar drie konsepte is wat ek al lank mee spook, dan is dit:

  1.  Hoe pas my liggaam, siel, gees, Heilige Gees en God se Gees wat in my woon alles bymekaar?
  2.  As Jesus dan die duiwel oorwin het, en ek my ligaam siel en gees vir Hom gee, hoe kan demone en goed nog ‘n effek op my hê.
  3.  Waar kom siektes vandaan?  Hoekom laat God dit toe en hoekom genees Hy nie Sy kinders nie?

Die twee boeke wat ek nou lees, het tot ‘n groot mate vir my insig gegee or hierdie kwessies en maak dan ook ‘n hele klomp verse in die Bybel vir my oop.  Dit alles draai om die oorlog tussen God en Satan. Ek moet bysê dat ek versigtig is om my nie ooit weer onder enigiemand of enige kerk se wettiese leëringe te bevind nie en oor die algemeen baie versigtig oor boeke wat ek lees.  Ek lees die Bybel as Woord van God en ek glo die Heilige Gees onderrig my, maar so nou en dan kom ‘n boek oor my pad (gestuur) en ek weet dan net dat ek dit nou moet lees.

In die boek van Rebecca Brown wat handel oor “Ek het gekom om die gevangenis te bevry” beskryf sy die kragte wat Elaine as ‘n satanis verkry het.  Sy verduidelik daarin hoe die liggaam, siel en gees in mekaar skakel en ek moet erken dat dit onmiddelik vir my baie sin gemaak het.  Ek probeer dit hier verduidelik.

Ek, as mens bestaan uit ‘n fisiese liggaam, ‘n siel (my gedagtes, bewustheid, verstand, emosies) en ‘n geestelike liggaam (1 Tes 5:23).  Toe God die mens geskape het, was die siel in beheer- en in kontak met beide die fisiese en geestelik liggaam.  Beide fisiese en geestelike wêrelde kon dus ervaar word en interaksie met beide was moontlik.  Dit is hoe Adam so gemaklik met God kon wandel en gesels.  Met die sondeval het God die siel se konneksie met die geesliggaam verbreek (Heb 4:12 sê hoe God se Woord/logos as twee snydende swaard indring tussen siel en gees) en kon ons nie meer die geestelike wêreld (en God) waarneem nie.  Ons gees was dood.  Hy moes dit doen om ons te beskerm van die reg wat Satan en sy demone nou in ons lewens verkry het.  As Hy dit nie gedoen het nie, sou ons die hele tyd bewus gewees het van die marteling en verwoesting wat die brullende leeu wat net steel en slag saai in die geestelike wêreld.

Wanneer ons Jesus aanneem, dan gee ons aan Heilige Gees die vermoë om hierdie konneksie weer te herstel onder God se beheer.  Dit laat ons weer toe om God se teenwoordigheid te ervaar en Sy stem te hoor.  Dit is God se wens dat ons, ons geesliggaam aan Hom gee (Jak 4:5).  Jesus sê in Joh 4:23-24 dat die tyd nou is wanneer die mense vir God (wat Gees is) in gees en waarheid sal aanbid. Deur ons geesliggaam, kan ons dus vir God bid deur Jesus se werk. 

Jy mag dalk vra: “Wat dan van die Heilige Gees wat in my woon?” Daar staan op vele plekke dat die Heilige Gees of God se Gees in ons woon en dat ons liggame Sy tempel is.  Beteken dit dan dat ons nie meer ‘n geesliggaam het nie en dat dit deur die Heilige Gees vervang is?  Dit is hoe ek dit lank vir myself probeer verduidelik het, maar nou wil ek tog glo dat die Gees van God wat in my woon juis ‘n nuwe konneksie skep tussen my geesliggaam en siel sodat ek weer met God kan praat en ook Sy stem kan hoor.  Jesus het egter beheer oor hierdie konneksie.  As iemand dus ‘n visioen kry bv, dan is dit omdat Heilige Gees die siel toelaat om die dinge wat die geesliggaam sien en waarneem te ervaar in die bewuste.  Dit is egter net moontlik as ons volle beheer van ons siel, liggaam en gees aan God gee en nie vootgaan in bewustelike sonde nie.

Satan probeer in alle opsigte ‘n vervalsing maak van God se werk.  So kan hy ook deur ‘n demoon in ons te plaas  die geesliggaam en siel weer konnekteer, maar dit is ‘n permanente skakel wat jou dan bewus maak van die intense oorlog wat op geestelike vlak aangaan.  Baie van die nuwerwetse gelowe en filosofië probeer juis dit aanmoedig om hierdie konneksie te herstel.  As Jesus nie gevra word om dit te doen nie, sal Satan maar te bly wees om jou wens waar te maak – tot sy eie diens!

Ek skryf later voort oor hoe hierdie skepsel van God gebruik word in die oorlog tussen God en Lucifer!

~ deur Khosaan op Januarie 17, 2010.

5 Responses to “Anatomie van ‘n Goddelike skepsel”

  1. Hi ettienne

    Ek volg jou blog al ‘n geruime tyd nadat my vrou dit aan my voorgestel het.

    Ek is so verbaas gewees oor die teenkanting wat jy gekry het oor die ” grootdoop”. Alle skriftuurlike bewys wys egter dat dit die enigste doop is en dat dit nie die besnydenis vervang het nie. Jesus het tog pertinent gesê bekeer en doop hulle. Dus doop is die volgende stap na ‘n bewustelike keuse (wedergeboorte) en daarom is doop ook ‘n keuse. Ek wens jou sterkte toe met die NG Kerk. Waar mense soos jy, wat werklik God soek, geskors word. Something is not right. Ek veroordeel nie die NG kerk nie, maar hulle sal retig hulleself moet gaan ondersoek.

    Dan sien ek jy het Rebecca Brown begin lees.My agtergrond is dan ook so dat ek met mense kan praat tov die okkult. Ek verkies egter om met mense te praat ook die geestelike sy van die mens. Mens is gees wat in ‘n fisiese liggaam woon. Alhoewel ek jou nie kan sê jy moet nie Brown se boeke lees nie, dink ek jy moet eers stil word en God se leiding in die verband vra.

    Dit is verstane dat jou gees honger is en dat jy graag die geestelike dimensie wil verstaan en jou kennis verbreed. Ek beveel eerder aan dat jy Frank Perreti se boeke lees, “This present darkness” en “piercing the darkness”. Perreti het ‘n Goddelike openbaring oor die geestelike realm en die sal jou denke bevry tov hoe die geestelike realm werk.

    Ek self sal vir jou ‘n skrywe aanstuur , van die grootse gebeurenis in die geestelike wereld.stuur asb vir my jou epos aan.

    Daar is geen twyfel dat God die wat hom in gees en waarheid soek sal beloon nie, my gebede vir jou is dat God jou sal vat en Sy wêreld vir jou sal oopbreek.

    Daar is NIKS wat God nie kan doen nie , en ek het al verskeie kere gesien wat gebeur as God in die fisiese wereld ingryp hetsy dit siekte, gevaar of wat ook is , niks kan voor Hom staan nie.

    Vrede vir jou

    Pieter

  2. Hi Ettienne,
    Ek het toevallig van jou blog gelees op Facebook in Desember 2009. Ek was so verbaas om te sien hoe die Here ‘n netwerk mense het om sy planne in vervulling te bring!

    Carla was hoog op ons gebedslys hier in Pretoria, want haar nefie en sy ouers is by ons in die kerk. Ek was soo uit die veld geslaan toe ek uit die bloute ‘n foto van haar sien op FB. Haar genesing was ‘n wonderwerk wat net God kon bewerk!

    Ek is ook ‘n GP, ook by Tuks geswot en was op Hoerskool Ermelo 1990. Die wereld is maar klein en as mens die Here dien, bind HY ons saam as Sy liggaam, en Hy is die hoof daarvan!

    Die boeke wat my die heel meeste geleer het van die geestelike realm was Final Quest van Rick Joyner. Uitstekend, veral om te verduidelik hoekom demone christene nog kan teiken. Dis nis fiksie nie, maar profeties. Eke het Rebecca Brown se boeke gelees en ook paar van Frank Piretti.

    Seen en vrede,
    Michelle

  3. Hi Ettienne
    Vanoggend in die kerk het ek geskreeu toe hulle vir my bid. Die pastoor se dis ‘n demoon. Wat ek nie verstaan is dat ek lees elke dag 10 hoofstukke in Vader se Woord ek trek elke oggend die wapenuitrusting aan ek bid en ek pleit die Bloed van Jesus oor my. Hoe is dit moontlik dat ‘n demoon in my liggaam inkom. Ek verstaan dat ‘n demoon bly in die liggaam en siel. terwyl die H/G in die gees van die mens bly. Ek was vanoggend so skaam gewees en die pastoor het gese ek moet ‘n bottel olyfolie bring sodat die ouderling dit kan salf en dan moet ek elke dag daarvan drink want die demone kom in die nag in terwyl ek slaap. Kan jy vir my miskien enige inligting gee oor hoe dit is dat daar ‘n demoon in my was.

    • Johanna, ek verstaan jou ontsteltenis. Lees gerus my nuutste stuk op die voorblad. Ek het hier ‘n kort oorsig probeer gee, maar daar is al boeke en boek geskryf oor die onderwerp. Ek weet nie in wat se kerk jy is nie en wil nie die pastoor se oordeel en advies in twyfel trek nie, maar bose geeste gaan nie uit met olie drink nie. Die Woord van God is die enigste bron van waarheid en daar is net een manier om verlos te word, en dit is deur die Naam van Jesus Christus. Gaan praat met iemand wat kennis en ervaring het van bevryding.

    • Johanna

      Ek het gereageer op jou vraag op my blog en sommer ‘n nuwe stuk geskryf – gaan loer gerus. As ek mag vra, in watter kerk is jy en waar in Suid-Afrika is jy vandaan. Ek dink dat jy met iemand moet gesels daaroor, iemand wat kundig is en volgens Die Woord handel en jou in Liefde kan help.

      Baie liefde en vrede vir jou. Jesus is getrou!

      Ettienne Myburgh

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: