Oorlog is oorlog

Ek het altyd ‘n baie sterk opinie gehad dat geen duiwelse krag enige invloed op my as Christen kan hê  nie, nie omdat ek nie in demone en goed geglo het nie, maar grootliks omdat ek net nie kon glo dat Jesus dit sou toelaat in sy kinders nie.  Siektes, behalwe dalk vir seker psigiatriese toestande, kon ek nie toeskryf aan demoniese werk nie. 

So ‘n lewenssienning het egter ‘n hele klomp vrae in my kop gelaat, vrae soos: “Hoe kan ‘n goeie God dan slegte goed toelaat?” Ek het geweet dat Hy net goed is en dat Hy alles ten goede laat meewerk maar tog sien ek elke dag sulke hartseer goed by sulke liewe kinders van Hom, dat ek dit alles moeilik bymekaar kon bring.  Verlede jaar het ek “The Shack” gelees (ook ‘n boek wat ek vir Adriana katagories gesê het sommer nonsens is, maar toe heel onverwags oor my pad gekom het) en hier het hierdie vraag ook opgekom van hoe ‘n Goeie God slegte dinge kan toelaat.  In hierdie boek gee dit nie regtig ‘n antwoord hierop nie maar dit was duidelik dat Mack nooit werklik ‘n verhouding met Die Vader kon hê solank hy nie diep in sy hart geweet het dat Abba NET GOED is nie. 

In Desember skryf Whoshallifear op haar blog: “…dat God sekere tragedies oor mense se pad stuur om hulle iets daaruit te leer – of selfs te straf. En net daarna, op ander plekke, lees ek weer dat hierdie dinge NIE van Hom af kom nie. Hoe dan nou?! As jy al langer as ek met hierdie vraagstuk worstel en ‘n aanvaarbare antwoord vir jouself geformuleer het, skryf dit tog asseblief as ‘n “comment” op die blog! ”  Ek klik sommer dadelik om kommentaar te lewer, maar skielik klink al die redes en argumente daaroor so afgesaag en vlak – en sal ek byvoeg “sonder Heilige Gees inspirasie”  Ek maak maar weer die kommentaar blokkie toe maar besluit om tog ‘n antwoord te vra by Die Here.

Nou het Hy my ‘n bietjie meer insig gegee en alhoewel ek dalk steeds net ten dele ken, gee dit vir die eerste keer vir my rustigheid in my hart.  Dit alles kom neer op Oorlog! 

Die mens is anders geskape as enigiets anders in hemel of op aarde.  Ons is beide materie en gees, ons is geskape sodat God met ons ‘n liefdesverhouding kan hê, een van geselsies en stap in die tuin.  Ons is geskape met ‘n wil, nie ‘n slaaf van God nie, maar ons eie wil om te besluit.  Selfs die engele is net aan God onderdanig en kan nie anders nie.  Self demone wat in rebellie teen God saam met Satan uit die hemel gegooi is, kan nie anders as om Hom te gehoorsaam nie. 

Satan haat God en Sy Seun Jesus Christus meer as enigiets anders.  Hy sal alles in sy vermoë doen om God se Vaderhart te breek.  Hy probeer dit regkry deur God se gunsteling skepsel op allerhande maniere seer te maak maar meer as dit, deur ons te dryf tot die punt dat God se lieflingskind vir Hom sê: “Ek haat jou, Pa.  Ek wil nie meer jou kind wees nie!”  Enige ouer weet hoe seer dit maak.

Meeste van ons sal dit nooit blatant doen nie, maar tog doen ons elke dag goed wat teen God se wil is.  Sodra die duiwel se magte daarvan hoor of dit sien, hardloop hy na God se troon om ons aan te kla (Luk 22:31-32). “Ek sien U kind het al weer op http://www.lelikeprentjies.com gaan loer na die kaal meisies.  Sê U nie dan dat U ‘n regverdige God is wat sonde straf nie?”  Ek hoor God sê dat sy kind skoon gewas is in Jesus se bloed.  Nou vra die duiwel: “Nou laat ek hom dan toets.  U sal sien as hy siek word, dan sal hy U nie meer dien nie.” (Lees Job 1:6-12)  Die Regverdige God, wat geen sonde voor Sy oë ongestraf laat bly nie, kan dan nie anders as om te sê “Ja” nie.  Dit gebeur waarskynlik honderde kere per dag en meeste van die tyd sal God sy engele stuur om jou te beskerm, maar wanneer Hy sien dat hierdie aanval van die duiwel op jou, Sy koningkryk gaan uitbou en jou daarop ook nog in ‘n dieper verhouding met Hom bring, dan laat Hy dit toe, maar sorg dat jy die krag en ondersteuning het om die toets te deurstaan.

Soms vra ons sommer blatant vir satan om iets vir ons te doen: “Daai %&@* ou by die werk was al weer nie betyds op sy pos nie! Ek wens hy kom iets oor!”  of  “ek onthou nog goed die dag toe die hoof my onregverdiglik geslaan het.  Ek sal hom nooit vergewe nie!”  Ai! as ons die bose magte van hierdie wêreld dan so mooi vra, en toestemming gee, hoekom sal hy nie graag help nie.  Nou kan hy jou gaan aankla voor God se troon en sommer jou verwensde slagoffer aanval want jy as God se prins op aarde, het hom dan persoonlik toestemming gegee.  Ek verstaan nou ‘n bietjie meer van Mat 18:32-35

Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het.  Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’   Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.  So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Daarom waarsku Paulus so vuurig teen die tong.  Die duiwel en sy bose magte kan nie ons gedagtes lees nie, is nie alomteenwoordig nie en is nie tydloos soos God en en ken dus nie die toekoms nie.  Hulle maak ook maar inligting bymekaar, soos spioene, uit wat hulle kan hoor en sien gebeur en spekuleer maar oor die toekomstige effekte van hulle aanvalle. Eintlik sê Spreuke 18:21 dit so mooi:  “Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.”

Hoe keer ons hierdie aanvalle van Satan op on lewens en die van ons geliefdes?

  1. Trek Jesus se wapenrusting elke dag aan (Ef 6).  Dit pas perfek op daai geesliggaam waaroor ek vroeër geskryf het en beskerm teen die brandpyle –  Gedagtes van selfverwyd, wraak, haat, ontug en wat nog anders wat die duiwel in jou plant.
  2. Sit ‘n wag voor jou mond!  Lees maar wees Spreuke 18:21
  3. Spreek almal wat jy verwyt of haat vry.  Hulle weet lankal nie meer wat hulle aan jou gedoen het nie maar jy word aan die martelaars omdat jy nie jou broer kan vergewe nie.
  4. Tree in vir jou familie.  As jy teenoor Satan voor die troon kom, sal God eerder na jou luister as Lucifer.
  5. Belei jou sondes!  Vra Heilige Gees om dit aan jou oop te maak en vra vergifnis maar meer as dit vra dat Jesus met Sy bloed daardie deur na jou lewe vir altyd sal sluit vir Satan.  Daarna, sien punt 1.
  6. Belei die sondes van jou voorvaders.  Onthou dat God ons die sondes van ons voorvaders moet toereken as Satan daarop aanspraak maak tot 3 of 4 geslagte vêr.  Waak teen trots wat Satan in jou sit sodat jy dink dit is nie nodig nie. Hy wil graag daardie deur oophou.
  7. Leer Sy Woord ken.  Dit is die swaard waarmee jy kan aanval en jouself verdedig.  Om Jona se storie uit die sondagskool klassie te onthou is nie om die Bybel te ken nie.  Het jy die storie al ooit self gelees?
  8. Wy jou lewe, jou huis en al jou besittings aan God.  Moet niks besit, dra of glo wat nie van God kom nie.  Onthou, as jy nie vir Hom is nie, is jy teen Hom.
  9. Wanneer die aanvalle kom, voor die tyd en na die tyd, loof en prys God se naam.  Gee dank en lof aan Hom in (nie vir nie) alle omstandighede.  Dit is ‘n kragtige wapen.  Dit verheerlik God en laat die heerlikheid van Sy lig op jou skyn.  Die bose magte kan nie in Sy lig standhou nie.  Jy sal vinnig sien hoe jy ook verander.

As jy nog het om te sê oor ‘n God wat nèt goed is, los gerus kommentaar.  Ek skryf later meer…

~ deur Khosaan op Januarie 20, 2010.

2 Responses to “Oorlog is oorlog”

  1. Hi Etienne – ek is Anel se sussie en lees gretig dit wat Pappa Vader met jou deel. Sooo opgewonde dat hy so kragtig werk in julle beroep en dat die wêreld kan sien wie is in beheer. Mag Hy jou toerus met soveel meer as wat jy bid of dink.

  2. Ettienne

    As ons praat van pyn en lyding as God se kinders dan fokus ons glad nie op die pyn en swaarkry ie maar altyd net op Hoe goed God is. Daarom is ek so lief vir die boek Job vir my gee dit baie antwoorde maar op die ou einde het Job die geloof behou tenspyte van al die rampe en swaarkry want hy het God liefgehad en Hom vertrou. Jesus het nooit gese ons pad gaan met rose besaai wees nie nee Hy het ons gewaarsku dat ons in hierdie wereld verdrukking gaan he so laat ons volhard en aan die einde van ons lewe kan se : “Ek het die wedloop voltooi deur die genade van Jesus Christus.” Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. In engels klink dit so mooi: “He is the supreme power above, over and in everything.”

    Jy en ek moet die pad loop wat Hy vir ons gele het en nie n ander pad volg nie. Hy is altyd voor en ons volg.

    Sluit af met n ou kinderliedjie:

    Al my twyfel bring ek Jesus
    Hy sal sy belofte hou
    Nimmer sal Hy my beskaam nie
    Op sy woord kan ek vertou.

    Liefde in Jesus
    Magda

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: