Uit die perd se bek

So aan die einde van ‘n wonderlike naweek, sit ek en dink in dankbaarheid oor my lewe.  Ek weet my laaste inskrywing was ‘n bietjie negatief en ek hoop nie dat iemand die indruk kry dat ek mense verwens of verkwalik nie – ek vind dit nogaal moeilik om vir mense kwaad te word en nog minder kwaad te bly, want ek weet dat die dinge wat mense sê en doen net ‘n uitvloeisel van die gees wat in hulle woon.  Ek kan dus met ‘n geruste hart getuig dat ek bid vir God se seën vir al die mense wat meestal onwetend in die vyand se mag speel en mag ek byvoeg dat daar reeds positiewe uitvloeisels was in terme van beloftes dat die Emosionele ondersteuningsgroep by die skool sal voortgaan…

Ek wil eintlik ‘n storie vertel van genade en beskerming.  Verlede naweek het begin soos enige ander naweek vir meeste eerstejaar studente – met groot planne van sorgelose kuier en avontuur.  Charnè is amper 19 en tik opgewonde op haar Facebook wall dat sy saam met vriende plaas toe gaan, min wetende van die duiwel se planne vir haar lewe.  Saterdag gaan sy perdry saam met haar vriend en toe gebeur dit…  Terwyl sy versigtig onderdeur ‘n oorhangende draad ry, spring die perd oor iets en die draad vang haar oor haar nek.  In hierdie splitsekonde word haar hele lewe en voortbestaan verander, want sien, die draad ruk haar lugpyp los van haar larinks (waar die adamsappel sit).

Nou wanneer die lugpyp toegedruk of afgeruk word en ‘n persoon kan nie meer asemhaal nie, dan versmoor hy/sy gewoonlik binne ‘n paar minute en tensy kundige hulp dadelik naby is, sal so iemand doodgaan nog voor daar eers gedink kan word aan Ambulanse.  So gebeur wonderwerk nr 1; Charnè val van die perd af.  Daar is geen snye of wonde aan haar nie, maar sy is baie angstig en kan nie praat nie.  Die jong man by haar weet dadelik hier is moeilikheid en kry haar by die kar en jaag na die hospitaal.  Charnè bly angstig, maar byt vas.  Sy loop nog self by die noodeenheid in waar sy neersak op die vloer…

Die dokter aan diens is dadelik daar en besef dat sy nie kan asemhaal nie en probeer ‘n endotracheale buis (ET-buis, asemhalingsbuis) deur haar mond tot in die lugpyp sit en so word enige dokter se grootste vrees waar want sien die lugpyp is nou heeltemal gediskonnekteer van die keel en daar is geen manier dat iemand haar geïntubeer sal kry nie.  Hulle kry ook geen suurstof in haar longe in nie.  Dadelik word ‘n Oor- Neus en Keel spesialis ingeroep (wat lekker naby die hospitaal is).  Haar hart gaan staan en alles word probeer om dit weer aan die gang te kry.  Intussen word sy teater toe gestoot en daar probeer die ONK-dokter die situasie red.  Hy sny haar keel oop en soek die lugpyp – aanvanklik moeilik om te kry maar gelukkig (of is dit nou weer genade) kry hy dit beet waar dit afgetrek het tot in haar borskas.  Hy trek dit op en plaas ‘n asemhalingsbuis (ET-buis)  daarin.  Intussen het haar hart nou al twee  of drie keer gaan staan. 

Lewensnoodsaaklike suurstof word na haar longe gepomp en vir die eerste keer in wie-weet-hoe-lank, kom daar weer suurstof by haar brein uit, maar is dit te laat?!  Haar hart begin weer klop, haar bloeddruk en pols stabiliseer stadig en op ‘n ventilator bly haar suurstof voorsienning goed.  Die ET-buis word deur die sny in haar nek na buite gebring en vasgewerk sodat dit nie uitval nie.  Haar lewe is gered, maar die skade is nog alles daar en dalk nog meer vanwee die lang tyd sonder suurstof.

Die hartchirurg by Panorama word geskakel omdat hulle bang is dat die lugpyp nou in die borskas sit en dat daar waarskynlik ‘n stuk daarvan verwoes is deur die hou op haar keel.  Hy skakel vir my op my af naweek omdat ek al hierdie snaakse nek en skildklierkankers opereer.  Sy word oorgeplaas en ek reël ‘n skandering van haar nek om te sien wat nog alles beskakig is, goed soos slagare na die brein, nekwerwels en slukderm.  Gelukkig is haar nek nie gebreek nie en die slagare is normaal.  So word die operasie beplan om alles weer te probeer herstel.  Sy is aan die slaap gehou deur die hele tyd en weet genadiglik van niks. 

Haar ouers moes 8-ure lank deur jaag na hulle dogter wat, na alle aanduideing, dit dalk sou oorleef nie.  Ek kan my net die angs, hartseer en frustrasie voorstel wat hulle moes ervaar oppad Kaap toe.  In 1999 het my dogter in die swembad geval en basies verdrink.  Gelukkig was ek daar om haar te resussiteer en sy het oorleef.  Ek onthou nog goed die magtelose en vreesbevange gevoel van nie weet of sy gaan sterf of lewe nie.  Ek vertel dalk nog eendag die hele storie hier…  Charnè se ouers was daar Sondagoggend voor ek haar teater toe moes neem.  Ek kon mooi aan hulle verduidelik wat ek beplan en ook saam bid dat Jesus, wat haar reeds gered het uit die kake van die dood, haar volledig sal genees.

Tydens die drie-uur operasie sou ons vind dat die lugpyp nie vergruis was nie (Wonderwerk nr2).  Dit is van die adamsappel losgeruk.  Ek kon dit weer in posisie herstel en ‘n tracheostomie doen.  Al wat nie herstel kon word nie, was die senuwee wat aan beide kante van die lugpyp oploop en na die stembande gaan.  Beide van hulle was ook in die ongeluk afgeruk.  Dit sou beteken dat beide haar stembande verlam sou wees en dat sy gevolglik nie sal kan praat en waarskynlik normaal kan asemhaal nie.

Maandag het ons haar begin wakker maak.  Sy het vinnig wakker geword en het geen tekens van breinskake oorgehou nie (Wonderwerk nr3).  Teen Dinsdag kon ek vir haar verduidelik persies wat gebeur het en wat om te verwag.  Sy is so ‘n borrelende en vriendelike persoon.  Elke dag as ek in die ICU instap glimlag sy en groet entosiasties.  Tot vanoggend toe het die tracheostomie buis wat ek ingelaat het, nie toegelaat dat lug na bo, deur die stembande vloei nie.  Sy kon dus nie eens fluister nie en moes maar lippetaal praat en skryf.  Vanoggend het ek egter die ou buisie uitgehaal en een ingeplaas met ‘n opening na bo sodat lug deur die tracheostomie ingeasem kan word, maar na bo, deur die stembande uitgeasem kan word.  Die kyk op haar gesig toe sy besef dat die lug nou weer deur haar mond uitkom, en nog meer, die trane in haar oë toe sy fluister-sê: “Ek kan praat!” Ek kon nie help om haar styf vas te hou en met eie trane saam met haar te bid: “Dankie Liewe Jesus, vir hierdie pragtige kind en dat U haar so lief het!”  Dit maak my werk oor en oor die moeite werd!

Ek vra en glo dat Die Almagtige God wat hemel en aarde met die spreek van ‘n Woord gemaak het, vir haar ‘n nuwe stem sal gee.  Ek hoor dat Hy vir haar sê in Hooglied 2:13-14; ” Die voorvye kom al uit, die wingerde bot en versprei hulle geur. Staan op, my liefling, my mooiste, kom na my toe! My duif in die klipskeure, in die skuilplek teen die krans, wys my jou gesig, laat hoor my jou stem. Jou stem is strelend, jou gesig lieflik.’”

Dankie Here Jesus vir U genade en persoonlik liefde, vir elke kind wat U red.  Stuur haar nuwe stem uit die Hemel se stoorkamer!  Ek loof en prys U Naam!

~ deur Khosaan op Februarie 7, 2010.

10 Responses to “Uit die perd se bek”

  1. Ettienne – ek het jou blog gelees en kon nie help om ook trane af te vee nie, dis absoluut ongelooflik! prys die Here! Groete Tina Groenewald

  2. As vriende van die Snymans se ons dankie vir GOD vir n wonderlike dokter soos jy. Beste Seenwense en liefde.

  3. Ons is persoonlik bevriend met Charne en haar familie.Ons gesin se
    persoonlike verhouding met die Here het ook vir ons deur baie
    moeilike tye gedra.God is a constant,always!!Langs ons jongste se
    bed het ons ook verlede jaar gestaan waar niemand regtig geweet het wat aan gaan nie.MAAR die Here se vrede was in ons en binne dae was ons oppad huis toe met n kind wie se oe weer helder geword het.Ons prys die Here vir volkome herstel in Charne want Sy Woord se By His wounds you are healed.Satan is soos n brullende leeu.Hy wil verskeur,maar ons God is LEWE!!!

  4. Nykie is al vandat ek kan onthou my beste vriendin so toe ek hoor van die ongeluk wou ek natuurlik daar wees, maar dis bietjie moeilik, want ek swot in Australia. Ek gaan elke aand op my knee en dank die liewe Vader dat hy haar gespaar het, maar ek wil ook vir jou dankie se! Baie, baie, baie dankie dat jy haar so gehelp het en dat ek nog my vriendin hier het. God bless!

  5. As vriendin van Charne se ma, Louzelle, wil ek vir hulle baie sterkte toewens. ‘n Kind soos Charne is nie volop nie. Sy is ‘n ware sonskynkind, wat Jesus uitstraal! Mag die Heer se genade en liefde jou altyd omring, soos in die afgelope twee weke. Sterkte met die pad vorentoe. Jy is baie spesiaal!

  6. Dankie Ettienne dat die Here juis jou kon gebruik om by Charne uit te kom. Dit was vir ons almal hier in die gemeenskap van Cradock ‘n groot skok om die Sondagogggend in die kerk van haar ongeluk te hoor en dan ook die onseker en wonder van wat dan regtig gebeur het. Soos wat dit mos maar gaan het elkeeen ‘n ander weergawe gehad van wat regtig gebeur het. Die Here het nou vir jou gebruik om vir ons almal duidelikheid te gee en ook om vir ons weer te laat besef dat Hy Leef en dat wonderwerke nog steeds gebeur. Mag jy baie Seën op jou werk kry sodat jy nog baie Charne’s kan help waar dit andersins onmoontlik lyk.

  7. Ek ken nie vir Charne of haar familie maar het deur Sannie van haar gehoor – moes dadelik gaan lees van die wonderwerk want ek weet dit gebeur nog daagliks. Aan Charne en haar familie – baie sterkte maar ek het ‘n absolute rustigheid in my dat julle in die beste hande is en dat dit vorentoe net met Charne sal goed gaan. Ek dra jou in my gebede op – nou en altyd. Aan Ettienne – dis mense soos jy wat die mediese bedryf se naam hoog hou – deur jou geloof en met die Here aan jou sy – sal jy net van krag tot krag gaan…

  8. So het ek en Louzelle saam-saam ons kinders in die uithoeke van ons land gaan aflaai met die begin van dievolgende tree op hul lewenspaaie. En mekaar die Donderdag in SPAR moed ingepraat teen die verlange. Dankie, dr Ettienne, vir jou wonderlike toewyding. Dankie vir jou vertroue in God, en aandeel daarin dat Charne vandag op pad is huis toe! Ons Cradockers bid vir jou vir krag en sterkte. Jy stel ‘n voorbeeld wat wyd uitkring.

    Hanli

    • Aan almal wat kommentaar gelewer het op my Blog, baie dankie. Al wat ek is, is net genade en alles wat ek het is net geleen. Alle Lof en Eer kom My Vader toe. Hy maak my lewe ‘n avontuur!

      Ek bid dat elkeen van julle ook hierdie wonderlike Abba kan ken soos ek en soms op Sy skoot op Sy troon sit en gesels. Amen

  9. Ons is steeds so oorweldig oor ons wonderwerk-kind en het nog nie woorde ons dankbaarheid te beskryf nie! Ons het dr Ettiene al soveel kere bedank en elke keer was sy nederige en beskeie antw: ‘Dit was nie ek nie, dit was die Here!’ Nie net het hy ‘n suksesvolle operasie gedoen nie, hy was meer as net ‘n dokter! Baie dankie vir al die kere wat jy op haar bed kom sit en als met soveel deernis, vriendelikheid en simpatie verduidelik het. Die oggend voor die operasie toe jy saam met ons gebid het, het so groot kalmte oor ons gebring, baie dankie vir die besonderse uit die hart gebed, ons sal dit nooit vergeet! Dr Ettiene, jy is so ‘n besonderse mens-woorde sal altyd ontbreek om ons dankbaarheid te beskryf, mag die Here jou seën op jou pad vorentoe. Wat ‘n voorbeeld is jy nie vir ons nie, ‘n ongelooflike instrument van God! Ons sal jou nooit vergeet! Baie liefde Snyman gesin

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: