‘n Ekstra-dimensionele God

Dit is altyd vir my interresant dat mense wat nie in God glo nie, dikwels hulself as intelligent beskou, dat hulle neerkyk op ons arme dom drommels wat kan glo in ‘n Almagtige God wat die heelal gemaak het deur net ‘n woord te spreek.  Ons mense van laer intellek wat glo in goed soos die duiwel en sy bose geeste en argaïese tekste soos Die Bybel.  Ek het onlangs in die ongelukkig posisie beland om ‘n bietjie met die mense te redeneer oor God en Sy werke op aarde en as daar vir my ooit ‘n bewys was dat ateïsme satanies van oorsprong is, dan is dit die manier hoe hierdie mense se hele houding die lig en vreugde uit enige gesprek kan suig – amper soos ‘n donker skaduwee wat elke straaltjie lig uit die omgewing probeer absorbeer en waarvan daar niks reflekteer nie.  Net soos satan homself die môrester noem, wil hierdie mense hulself ook dikwels sien as ligdraers – die ware verligtes -amper soos die ou Babiloniërs.

Nou dink ek by myself – in 1884 sit Edwin Abott ‘n boek en skryf – hy noem dit Flatland: A Romance of Many Dimensions.  Dit handel oor ‘n land wat net uit twee dimensies bestaan.  Een keer elke duisend jaar besoek ‘n kubus hierdie wêreld in ‘n poging om die “Platlanders” se insig op te hef tot die verstaan van ‘n derde dimensie.  Nou kan ek rustig hierdie senario sit en bedink want sien, dit  voel dan nou juis vir my dat ateïste dalk net ly aan die “Platland”-sindroom.

Stel jou voor daar is hierdie wêreld wat plat is.  Die mense daar is gretig om te leer en net soos ons beoefen hulle wetenskap en probeer dit wat hulle sien verklaar op ‘n manier wat vir hulle sin maak.  Op ‘n dag besluit ek om ‘n bal deur hulle wêreld te laat val.  Nou Piet en Jan wat in Piet se kantoor regs bo sit en praat sien die ding gebeur.  Natuurlik sien hulle nie die bal nie want die bal is drie-dimensioneel maar hulle wêreld het nie ‘n op en af nie. 

Wat hulle dus sien lyk iets soos dit – eers is daar ‘n klein kolletjie wat al groter en groter word en dan weer al kleiner en kleiner tot dit verdwyn.  Piet (links) vra: “Het jy dit gesien?”  Jan (regs) sê: ” Ja, dit was ‘n kolletjie wat al groter geword het en toe weer al kleiner en toe verdwyn het”  Piet sê: “Ja, ek wonder of dit nie dalk ‘n bal was nie”  Jan sê onmiddeleik dat dit onmoontlik is – Niemand het dan nog ooit ‘n bal gesien nie.  Nou mag Jan dalk selfs Piet se intelligensie begin bevraagteken want die wetenskap het tog al duidelik bewys dat hierdie kolle wat al groter en dan weer kleiner word tog statisties nou en dan voorkom, maar nog nooit kan daar bewys word dat daar goed soos balle bestaan nie. 

As ek nou my vinger so 1mm van Piet en Jan af hou, dan voel Piets iets ongewoon, ‘n soort nabyheid, die teenwoordigheid en warmte van “ETTIENNE”  Hy vra versigtig of Jan dit ook ervaar, maar Jan sê: “Nee”.  Piet deel versigtig sy gevoel dat hy dink “ETTIENNE is naby”  Maar Jan sê net: “Is jy nou mal man, kan jy hom sien?  Het jy al ooit vir Ettienne gesien?  Nee, jy verbeel jouself net!”  Tog hou ek my vinger net 1mm van hulle af weg en omdat hulle net in hierdie twee dimensionele wêreld bly, kan hulle my nie sien of ten volle ervaar nie.  Piet gebruik woorde soos: “Ek glo” en “Ek voel”  of  “Ek ervaar die teenwoordigheid van Ettienne”.  Jan benader alles wat hy nie kan klasifiseer volgens sy twee dimensionele denke as logies en eenvoudig.  Tog is Piet heeltemal reg in sy ervaring van my en Jan mis uit op ‘n hele ander nuwe dimensie.  Piet begin meer en meer met my gesels en al kan hy my nie hoor nie, begin hy leer hoe om my nabyheid en leiding te ervaar en besef dat dit hom baie rustigheid gee.  Hy kom agter dat ek baie verder in hulle wêreld kan sien, gevaar kan sien aankom en ook hom kan bewus maak van ander platlanders wat dalk sy hulp nodig het. 

Nou wonder ek of ateïste dan ook soos ou Jan dink, dat alles wat ons nie binne hierdie drie dimensionele wêreld kan sien of verklaar nie, nie bestaan nie.  Dink hulle dat ‘n God wat buite ons dimensies staan en dus baie meer kan sien en weet, wat self die begin en einde van my lewe in een oogopslag kan beskou net bewys kan word as ons Hom volgens ons huidige kennis kan verklaar.  Dalk wil hierdie God juis vir ons leer en voorberei op ‘n bestaan buite die beperkings van hierdie drie dimensies en prograde tyd wat teen ‘n konstante tempo aanstap. 

Hoe minder ek my denke beperk deur die dinge wat ons nou as wysheid en grootse kennis beskou, hoe meer ervaar ek hierdie Ekstra-Dimensionele God wat niemand dwing om enigiets te doen nie, en Homself onlosmaakbaar aan ons wil verbind het maar wat smagtend wag dat ons na Hom roep. 

Nou sal ek iets sê wat, in die woorde van my geliefde teatersuster, nog meer “Freaky” mag klink, maar die rede dat Jan juis so eng dink oor sy wêreld en hy nie die teenwoordigheid van God kan voel nie, juis is omdat hy aan die satan en sy gewillige demone toestemming gegee het om sy verstand te beheer en te blokkeer.  Hy mag dalk selfs laat in die aand hier diep in sy hart wonder oor die bestaan van hierdie God waaroor ander so opgewonde kan raak. Hy vind egter dat hy net nie hardop oor dit kan praat nie en dat daar ‘n onnatuurlike opstandigheid en selfs ‘n innerlike woede in hom onstaan as hy na ander luister wat oor God praat.  Hy ervaar nie dieselfde gevoelens wanneer hulle stry oor die bestaan van UFO’s of die soeke na intelligente lewe daar buite in die ruimte nie.  Wat hierdie verlore siele egter nie besef nie, is wat Paulus in Effesiërs 4:27 van praat as hy sê ” Moenie die duiwel vatkans gee nie”  In vers 17 – 26 vertel hy van dinge wat ons as wedergebore mense nie moet doen nie en dit kom tot ‘n klimaks in vers 27.  Die implikasie is dat ons die satan regmatige blyplek of demoniese beheer te gee deur willens en wetens voort te gaan met sonde.  Later kry hy soveel beheer dat hy ons verstand kan verhoed om sekere dinge te doen of sê.

Ek bid dat die Heilige Gees van God elkeen wat hier lees se verstand sal open om iets van die Grootheid en Teenwoordigheid van my Almagtige God te ervaar, dat die houvas wat die satan op ons lewens verkry het, in die Naam van Jesus Christus gebreek sal word, sodat ons kan kies om te dink ver buite die beperkinge van hierdie wêreld.  Amen.

~ deur Khosaan op Maart 17, 2010.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: