Een Gees

Die afgelope paar weke het ek net weer ervaar hoe Ons Here Sy hand uitryk na mense toe.  Mense vol vrae en vertwyfeling.  My vrou doen “Touching Hearts”, ‘n kursus om die ou wonde en gebreke in jou lewe te herstel en af te reken met die laaste houvas wat die ou slang nog op ons lewens kan hê.  Alhoewel ek nie regtig dink dat sy iets nuuts daar hoor nie, het sy tog baie baat gevind by die bedienning en ek sien die veranderinge wat in haar plaasvind.  Sy het ook ‘n klompie vroue ontmoet wat nou een keer per week onder Adriana se leiding saam die Here aanbid, intree vir hul manne en luister na die Woord.  Deel van die kursus behels ‘n kamp naweek wat oor die huwelik handel en waarop die mans en vroue van die kursusgangers saamgenooi word.  Ek moet erken ek was nie baie lus daarvoor nie maar het tog gevoel dat ek moet gaan – deels uit ondersteuning vir my vrou en ook deels omdat ek gevoel het dat Die Here my daar wil hê.  So word ons genooi deur een van die dames, Monika, wat saam met Adriana die kursus doen om sommer by hulle in ‘n strandhuis op Sandbaai (net voor Hermanus) te kom bly.  Monika is een van die skakels in die netwerk van mense wat daartoe gelei het dat ek vir klein Carla gaan bid het.  (Lees die hele storie hier).  Tot nou toe het ek haar een keer ontmoet toe ons die dank en lofprys-aand gehou het na Carla se genesing.

Monika se man, soek ook na ‘n dieper verhouding met God en het ook maar sy deel van seer beleef.  Hy het baie vrae oor goed soos doop, geeste, God en nog baie meer.  Ons het toe geleentheid om lekker te gesels.  Op die Touching Hearts kamp word daar baie (geestelike) oorlog gemaak en demoniese vestings word aangespreek.  Die mense wat die hele kursus bywoon het natuurlik stelselmatig meer en meer van die goed geleer en vind dit minder vreemd (alhoewel somming steeds baie ontsteld daar weg is) maar die wederhelftes is kop eerste ingegooi en gekonfronteer met goed wat in baie kerke totaal ontken word.  Op die Sondag was daar twee dames wat behoorlik gemanifesteer het met gillende, brollende, grommende geeste wat met alle geweld wil bly klou terwyl Jesus hulle uitskop uit hulle ou tuiste.  Die Vrydag- en Saterdagaand het ons egter tot in die vroeë oggendure om die kombuistafel gekuier en gesels oor die hele evangelie en nog wat, insluitend bose geeste en hulle interaksie met ons as christene.  Dit is vir my opvallend hoe verkeie mans dieselfde wroegings ervaar en baie dieselfde respons daarop het.  Elke keer waar ek in die laaste twee maande by sulke gesprekke betrokke was, kon ek myself  van twee jaar gelede amper woordeliks hoor praat.  Dit is ook vir my wonderlik om die waarhede  en antwoorde wat Die Here vir my na baie smekinge en trane oor tyd  gegee het, te kan deel met ander mans.  Die kursus self se lesings wat heeltemal te lang vir enigeen om te kan konsentreer en ek kan nie getuig dat ek daar groot deurbrake gemaak het nie, maar daardie laataand gesprekke was goud werk, vir my en hopelik vir hulle.  Monika en haar man was steeds ‘n bietjie onkant gevang deur die hele bevrysingsbesigheid op die Sondag, maar dit het tog die realiteit van ons gesprek tuis gebring.  Al was dit die enigstge rede dat ek moes saamgaan, was dit die moeite werd.

In die afgelope week het ons ook met twee mense ontmoet wat graag gedoop wil word.  ‘n Egpaar wat ook deur Die Here gedra is in moeilike tye en nou ‘n nuwe nader pad met Hom stap.  Die gesprek oor die doop en ander geestelike dinge was so lekker en regtig tot opbou van myself net soveel as vir hulle.  Vandag was die groot dag, op sy verjaarsdag.  Ek vra nogaal vir Jesus vir ‘n teks vir hulle en kry Deut 8:1-10.  Ek kies ‘n paar liedere om te sing en sit die boekmerkies reg in my bybel. 

Toe die deurklokkie lui, staan hulle twee daar met hulle twee kinders en drie Braziliane.  Hulle huisves die drie mense van Brazilië wat as deel van ‘n sportbedienning kom evangelisasie werk doen onder die toeskouers by die sokker wêreldbeker.  Hulle praat beswaarlik Engels en my Portugees bestaan uit “Hoe gaan dit” en “Dankie”.  Ek het altyd gedog hulle praat Spaans daar, maar dit blyk hulle tweede taal te wees en hulle praat eintlik Portugees.  Die klein verrassing bring toe nou ‘n paar nuwe uitdagings na vore.  Ek moet skielik Engels gooi en baie, baie stadiger praat.  Gelukkig het die een pastoor uit Rio De Janeiro, ‘n Bybel wat Enges en Portugees in parallel het en ek kon toe daaruit voorlees en hulle kon in hulle eie taal saam lees.  Ek het meestel in Engels gebid, maar het met tye maar na Afrikaans oorgeslaan.  Toe doop ons en voel net hoe Jesus self die dopelinge ontvang en daarna sing ons ‘n klompie lofliedere.  Ek kies toe gou ‘n paar ander Engelse liedere wat ek hoop hulle dalk ook sal ken.

Nou kom ons by die “Een Gees” ding.  1Kor 12:4 en 5 praat van verskillende gawes, maar net een Gees en verskillende bedieninge maar net een Here en vandag het ek dit beleef.  Daar was van die eerste gebed af  ‘n broederskap, ‘n eenheid, ‘n onvoorwaardelike liefde wat net van God af kon kom.  Of ek nou Engels,  Afrikaans of in ‘n taal bid, dieselfde Gees was deurgans daar.  Toe ons sing, begin ek eers met goed soos “Awesome God” maar toe ek “Shout to the Lord” sing en hulle val in volle bors in Portugees weg en ek hoor die lofsange wat in verskillende tale na God opstyg toe weet ek wat Ps 133 beteken.  Ek trek toe sommer O Heer my God nader, want dit is ook tog sererlik in omtrent elke taal vertaal, dog ek, en jou waarlik, weer meng die Afrikaanse woorde met die Suid-Amerikaans klanke tot ‘n geuring lofoffer vir God.  Die lekker in my hart kan ek nie beskryf nie.  Nadat ons klaar nagmaal saam gebruik het en elkeen vir Jesus in sy eie taal dank vir Sy liggaam en bloed wat Hy vir ons gegee het, drink ons koffie en spontaan gryp hulle die kitaar en begin van hulle lofliedere sing.  Later val ek weer in met ‘n paar van ons goed.  Ons luister na een van hulle se getuienis wat met groot moeite in beperkte woordeskat vertaal word sodat ons iets kan verstaan van God wat iemand uit die kloue van drank, dwelms en geweld kom bevry deur ‘n mede sokkerspeler wat vir hom sê: “Jy het Jesus nodig in jou lewe”  Nou behoort hy en sy hele lewe aan Jesus ek hy gaan oor die wêreld rond om onder die Sport-vaandel die evangelie te verkondig.

Hoe wonderlik was dit nie om ‘n middag van geestelike eenheid te spandeer met familie in Christus en iets te beleef van Die Een Gees wat in ons almal woon.  Hulle maak nogaal die opmerking dat hulle hier in Suid-Afrika sit, vêr van die huis, maar voel asof hulle by familie kuier.  Net deur Jesus se bloed is dit moontlik!

Psa 133

‘n Bedevaartslied. Van Dawid. Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! (2) Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere. (3) Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid!

~ deur Khosaan op Mei 16, 2010.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: