Gehoorsaamheid, Die wedloop en Geloof

Ek wonder weer vannaand hier by myself hoekom ons mense wat onsself Christene noem dan so neidig teenoor mekaar is.  Ek is seker as ek die vraag vra: “Glo jy in Jesus Christus?” dan moet elke Christen se antwoord wees “Ja”.  En dan moet ek vra of jy glo dat Jesus Christus God se Seun is wat vlees geword het en gesterf het as perfekte versoeningsoffer vir ons almal se sonde?  Weereens moet enige Christen sê “Ja” en dan of jy glo dat Hy deur God, die Vader uit die dood opgewek is, en dat Hy opgevaar het na die hemel waar Hy nou sit op die troon tot Hy weer sal kom?   

Nou sal ek ‘n dom vraag vra.  Dink jy dat dit belangrik is om aan God gehoorsaam te wees?  Ek vra dit maar net, want dit wil my soms voorkom dat ons een ding met ons mond bely maar ‘n ander ding leef.  Ons kan baie eenvoudige voorbeelde opnoem.  Staan daar nie duidelik in God se woord dat jy nie mag leuens vertel nie en tog praat vele Christene daagliks halwe waarhede of praat sommer blatante leuens.  Nou kan ons ‘n lang lys van goed opnoem wat in die Nuwe Testament genoem word wat nie tuis hoort by ‘n christen nie soos vuil taal, losbandigheid, geldgierigheid, afgodsdiens en nog baie meer.  Die meeste Christene leef nie asof hulle hierdie goed belangrik ag nie, hulle vergewe mekaar nie, bid nie vir hulle vyande nie en verkondig nie die evangelie nie.  Om die waarheid te sê, is daar baie mense wat rondloop en hulle lewe getuig van niks meer as ‘n wêreldse bestaan nie, hulle inspireer niemand om hulle om ook hierdie Jesus aan te neem nie.  

Nou is daar diegene wat wel ernstig soek na God se wil, wat glo dat as hulle Jesus die beginner en voleinder van hul geloof wil maak, wat wil streef om meer en meer soos Hy te word.  Hulle maak hulle harte oop vir hierdie Lewende God wat met hulle praat, nie net deur Sy Woord nie maar ook deur persoonlike oortuiging.  Hulle besef dat hulle te veel vloek en daarmee ophou, hulle gooi die pornografie in die asblik, hulle vergewe die ou skoolhoof vir daardie pak slae in standerd sewe en bid ‘n seëning oor hom en sy familie.  Dit is ‘n moeilike pad want baie dinge moet voor God bely word en daar moet vir baie mense  jammer gesê word.  Soms vat dit dae se moed bymekaar skraap, soms moet bespotting en neerhalende opmerkings getrotseer word.  Maar tog glo hulle dat God ‘n beloner is van die wat Hom soek.   

Die ding wat ek sukkel om te verstaan is dat die mense wat met hulle monde bely dat Jesus die Here is maar met hulle lewe geen getuienis lewer nie, juis die wat Jesus met hulle hele lewe wil dien, probeer keer.  Dit maak nie sin nie, want albei glo inherent aan dieselfde God en dit impliseer dat albei groepe wil doen wat vir Hom aanneemlik is?  Wat beteken dit immers om ‘n God te dien maar geen behae het om Hom te gehoorsaam nie?   Ek onthou toe my vrou die eerste dag vir my gesê het dat sy graag gedoop wil word – boeta, die aarde het geskud.  Ek was kwaad, hartseer, telleurgesteld en sommer net ontstig tot in my diepste wese.  My eerste reaksie was om haar te keer en gelukkig het sy my verdra, maar net omdat ek toe besluit het om uit die Woord van God vir haar te oortuig van haar dwaling.  Die onderwerp het my gedagtes nooit verlaat nie – ek het elke geleentheid gebruik om tekse op te soek.  Ek prys Die Here daarvoor want dit het my gedwing om weer Sy Woord te lees na omtrent 10-jaar van lou en ongeïnspireerde Christenskap.  Hoe meer ek gelees het, hoe meer het ek waarhede uit die Woord begin ondek.  Nie net oor die doop nie, maar ook oor ander dinge.  Dit het ‘n lewe van stelselmatige heiligmaking tot gevolg gehad.  Toe ek tot die gevolg kom dat ek verkeerd was in my sterk opinies, moes ek haar om verskoning vra en kon ek haar doop.  Dit het my nog etlike maande geneem om self die belangrikheid van gehoorsaamheid te besef.  Die punt is, ek wou haar in my onkunde met alle geweld weerhou daarvan om die regte ding te doen tot eer van die God waarvoor ek reeds toe baie lief was.  

Daar is egter sommige mense wat geen belang daarby het om self die waarheid te ondersoek nie en net daarop uit is om hulle broeders en susters in Christus teë  hou.  Paulus praat van die wedloop waarin ons almal is en in my geestesoog sien ek die lot daar langs die pad.  Hulle staan daar met hulle ontwerpersklere en Nike skoene en voel dit hulle plig om die ouens wat verby kom te pootjie .  As jy hulle vra, dan sê hulle dat hulle ook aan die wedloop deelneem, maar hulle lyk nie of hulle enige behoefte het om te hardloop of eens te loop nie.  Hulle is mos nou ingeskryf vir die resies, nou kan hulle ontspan.  Is ons dan nie almal in dieselfde span, oppad na dieselfde doel toe nie?  Is ons nie almal veronderstel om die padkaart te bestudeer, mekaar te help en te luister na ons Aanmoediger (Heilige Gees) nie?  As dit vir my lyk of iemand op die verkeerde plek afdraai, dan moet ek hom probeer reghelp, ja, maar dan eers nadat ek self die padkaart goed bestudeer het.  As ek dit nie doen nie en ek hou hulle terug, wie sal dan verantwoording doen daarvoor op die ou einde?  

As ek sien hoe Die Here Sy hand na mense toe uitsteek en ek sien hoeveel mense geïnspireer word om hulle lewe na die wil van ‘n Heilige God te skik en hoe vinnig dit gebeur, dan weet ek, die einde is naby.  As ek vir jou vandag sou sê dat die Here Jesusop 23 Augustus kom om sy bruid te haal, hoe sou jy voel oor jou saak met Hom.  Sal jy opvaar in die lug, Hom tegemoet?  As Hy jou vra oor jou gehoorsaamheid aan Hom en Sy opdragte, wat sal jy sê.  As Hy die mense wat jy gepootjie en teruggehou het oor jou lewe voor jou bring en verantwoording vra vir elkeen, wat sal jy antwoord?  Kan jy opreg sê dat jy Sy aangesig gesoek het en jy in opregtheid tot aan die einde die wedloop voltooi het?

Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.   1Kor 3:11-15

Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom. Mat 18:7

~ deur Khosaan op Mei 26, 2010.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: