Die pad saam met my vrou

Vroeg in 2008 het my vrou in ons huis ’n “bom laat bars” deur vir my te noem dat sy tot die oortuiging gekom het dat sy weer gedoop wil word.  Sy is as 7-jarige gedoop in die NG-kerk.  Sy het getrou katkisasie gedoen, belydenis van geloof afgelê en was nog altyd ‘n goeie Christen wat kerk toe gaan, lief is vir Jesus en Bybel lees.  Sy het egter sedert 2007 ‘n geestelike ontwaking gehad wat met tye groot konflik in ons huis veroorsaak het. 

Die doop was nog altyd een van die belangrikste dinge in my godsdienservaring en een van die min dinge waaroor ek al voorheen kwaad en hartseer geword het tydens gesprekke oor godsdiens.  Dit het my waarskynlik meer ontstel as iemand sou sê dat hy nie in die babadoop glo nie as wat hy my sou sê dat hy nie in Jesus glo nie.  Die dag toe my vrou dus vir my van haar behoefte vertel het dit my hele wêreld omgekeer.  Wat sê dit nou van my doop as baba, wat van my drie kinders wat gedoop is, wat van die kerk se lëer oor die doop, en nog baie vrae het my kop en dae gevul.

Ek het daar en dan besluit dat ek haar sal wys op haar dwaling en vir haar uit die Bybel sal wys dat dit verkeerd is.  Daar staan tog duidelik (so het ek gedink) dat die doop in die plek vandie besnydenis is en ‘n teken van God se verbond met ons.  Ek het gesoek na die teologiese basis vir ons tradisie om babas te doop.  Eers vind ek uit dat my eerste twee stellings nie in die Bybel staan nie.  Ek het toe elke vers wat gaan oor doop opgesoek in die Bybel en daardie gedeeltes gelees.  Ek het ook gesoek na dokumentasie van die NG-kerk, maar kon niks kry nie.  By CUM boeke – niks.  Ek het in die Hervormde kerk groot geword en ten minste kon ek hier ‘n baie goeie dokument kry wat die hele lëer verduidelik met Bybelse verwysings.  Ek kon dus ‘n redelike intellektuele argument bou rondom die verbondsdoop en dat baba’s wel gedoop kan word alhoewel daar vanuit die woord geen basis was om te glo dat die doop die besnydenis vervang het nie.  Baie van hierdie argumente was ook afhanlik van afleidings en veronderstellings.  Net die ding wat ‘n intellektuele ou soos ek van hou. 

Toe ek egter met predikante van die NG-kerk gesels, kom ek agter dat hulle self nie al hierdie afleidings en veronderstellings wat die leër oor die doop moet ondersteun aanvaar nie.  Daar teenoor was daar baie tekse wat letterlik dui op ‘n doop van belydenis en geloof in Christus.  Ek het dus in my eie gemoed vrede gemaak dat daar omstandighede is waar Christene “weer” gedoop moet word alhowel ek nie kon verduidelik waarom God dit van my vrou gevra het nie.  Ek het egter besluit dat ek haar sal ondersteun en haar hartsbegeerte was dat ek haar sou doop in Blouberg Strand se see.

Sy het vooraf met een van ons predikante oor haar besluit gaan praat en die Here het my teaterlys op daardie dag kort geknip sodat ek vroeg klaar was en saam met haar na die predikant kon gaan.  Duidelik kon hy nie aan haar toestemming gee nie maar het verstaan dat sy haar besluit klaar geneem het.  

Einde Oktober is twee van haar vriendinne (Iana en Sonja) gedoop by ‘n interkerklike selgroep geleentheid en sy het eintlik net gewag vir ‘n teken van God om haarself ook te laat doop.  Intussen het ek in my hart groot onrustigheid gehad dat sy deur een of ander vreemdeling gedoop sou word.  Ek het ook meer en meer gevoel dat as iemand haar sou doop, dan sal dit eerder ek wees.

Op 5 November het ons dus saam see toe gery, en nadat ons saam gebid het, het ek haar aan die Here opgedra en haar gedoop in die koue water van Bloubergstrand.  Later dieselfde dag is twee ander vriende ook gedoop by ‘n selgroepgeleentheid.

Dit was eintlik ‘n groot verligting vir my en dit het ons verhouding baie goed gedoen.  Lees gerus verder oor my pad…


One Response to “Die pad saam met my vrou”

  1. Hi Ettienne

    Ek lees van jou vrou se geestelik ontwaking in 2007 wat met tye groot konflik in julle huis veroorsaak het. En ek glimlag wrang. Want hoe goed identifiseer ek daarmee. My geestelike ontwaking in 2008 veroorsaak vandag nog by tyd groot konflik. En ja, ek het ook deur die doop worsteling gegaan totdat ek in Oktober 2008 gedoop is in ‘n “buur”kerk. Baie mense het vir my gesê een doop is genoeg en ek is mos as baba gedoop. Ons getroue Vader het een oggend tydens ‘n erediens begin antwoord op my worstelstryd toe ek besef het dat Paulus besny én gedoop is. En dis net deur Sy groot genade dat ek, te midde van baie konflik in ons huis, gehoorsaam kon wees om my te laat doop.

    Dankie vir jou getuienis. Ek glo dat dit tot versterking is van almal wat dit lees. Ek sal aanhou bid vir die dag dat ek en my man ook op dieselfde geestelike golflengte kan wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: