Carla se storie

Hierdie is ‘n opsomming van gebeure wat afgespeel het vanaf 13 tot 24 Desember 2009 en wat ek in my dag-tot-dag bydraes geskryf het;
Klein Carla is ‘n baba-dogtertjie van so 18-maande en voor 13 Desember het ek nie vir haar of haar ouers geken nie.  Ek weet net sy het siek geword, soos baie kindetjies maar doen, maar toe het dit al erger en erger begin gaan en binne enkele dae lê sy op ‘n ventilator (‘n masjien wat vir haar moet asemhaal) in die internsiewe sorg eenheid.  Hier het dit al slegter en slegter begin gaan en later was daar niks meer wat vir haar gedoen kan word nie.  Op daardie Sondagaand sit almal en wag vir die ergste om te gebeur en dit is waar my storie begin.

Hier is wat ek op 13 Desember skryf:

Ek sit vannaand hier en tik nota’s oor al die pasiënte wat ek die naweek opgeneem het.  Dit was ‘n redelike besige naweek.  Vrydagaand het ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd ‘n pasiënt in die ICU gehad, nie omdat hy so siek was nie, maar omdat die hoë-sorg eenheid vol was.  Toe ek die volgende oggend daar rondte gaan doen, sien ek ‘n baba, seker so 18-maande in die isolasiekamer lê op ‘n ventilator.  Ek wonder nog so by myself wat fout is, maar daar is baie pasiënte om te sien en ek stap aan.  Buite ICU sien ek die pediater praat met twee mense.  Die vrou lyk bekend maar ek kan haar nie plaas nie, maar later onthou ek sy is ‘n dokter want ek het haar al ‘n keer of wat in die teater gesien waar sy ander mense geassisteer het.

Nou, terwyl ek sit en verslae tik, bel ‘n vriendin my – die einste een wat drie weke terug gedoop is.  Sy het ‘n wonderlike bewustheid van die Here in haar lewe.  Sy vertel van ‘n familielid wat in Durbanville bly en wat ook die Blog/getuienis van Sanet de Villiers gelees het.  Sy weet dat ek haar dokter is.  Sy ken ook twee mense, beide dokters, wie se kind in ICU in Panorama lê.  Baie mense bid nou al ‘n hele tyd vir die kind.  Die Heilige Gees sê oor die naweek vir haar dat “Dr Ettienne” vir klein Carla moet gaan bid.  Sy het eers nie haar gevoel gedeel nie, maar toe die dokters nou vandag eintlik alle hoop laat vaar het, besluit sy om my te probeer opspoor.  Sy onthou van Sanet se getuienis oor haar blog en sit twee en twee bymekaar en bel vir Marietjie en die bel vir my.  Ek luister na die hele storie en besef dit is die baba en mense wat ek Saterdagoggend daar gesien het.

Ek is stilweg opgewonde en dink net hoe fantasties ons Here is dat Hy nou al die moeite doen om my te kontak.  Natuurlik spring ek daar weg en gaan bid in my kamer vir God om nou vir my presies te sê wat ek vir hulle moet sê, maar buiten die vreugde en opgewondenheid in my, hoor ek steeds niks nie.  Alles dwarrel net in my kop rond.  Ek vra die Here vir ‘n teks uit sy woord, maar ek kan aan niks dink nie.  Dit dwarrel steeds.  So besluit ek, “Nou,Ja, Hy stuur my nou.  Hier gaan ek.  Hy moet maar sê wat ek moet sê oppad of as ek daar kom”  Toe ek my selfoon optel is daar ‘n SMS: “Ek het Ps 91 as teks vir die mense”  Hoe wonderlik voorsien God nie!?  Ek sê ook vir God dat ek weet dat dit alles Sy wil is as die mense daar sit by ICU.

Nou ja, ek daar aangekom en jou wrintie waar, hier sit ma en pa voor ICU.  Ek stel myself voor en verduidelik dat God my na hulle gestuur het.  Ek deel ‘n ietsie van die wonderlike omgee wat ons Pappa vir ons voel en hoe Hy hulle graag wil omvou en hê dat hulle ook meer van Hom moet leer ervaar.  Ek lees Ps 91 en ons bid.  Daarna gaan ek in ICU in en vra die suster wat na Baba Carla kyk of ek maar kan bid.  Ons trek maskers en handskoene en jasse aan en daar langs haar bed, met haar klein opgeswelde lyfie hier voor my, bid ek God se genesing.  Ek sien hoe klein swart duiweltjies deur Sy lig verdryf word en voel hoe ons twee in die lug sweef.  Ek salf haar met Alkohol handesproei (want dis al wat daar was) en verklaar dat sy op hielige grond lê en dat Jesus geen teenstand in Sy Heiligdom sal verduur nie.

Ek stap uit, skoon aan die bewe.  Die duiwel probeer my met twyfel vul; “sê nou daar gebeur niks?”, maar ek weet, God sal my nie met al die moeite stuur sodat Hy Homself in die verleentheid kan stel nie.  Hierdie blog inskrywing is ook ‘n verklaring van God se intensie om ons gebede te verhoor, al weet ek nie wat die uitkoms gaan wees nie.

Op 15 Desember tik ek die volgende:

Toe ek Sondag hier weg is om vir Carla te gaan bid, het ek net geweet hier kom ‘n ding – ek moet eerlik wees, ek het ‘n wonderwerk net daar en dan verwag.  Maandag oggend word ek sommer vroeg oorval met werk.  Ek vind ook sommer uit dat nadat ek die hele naweek op roep was, ek nou Maandag ook nog op roep is en dit is een krisis op ‘n ander.  Ek het nie tyd om by Carla of haar ouers uit te kom nie.  Ek kry ‘n SMS van Marietjie wat sê dat dit baie sleg gaan met Carla en dat almal moet bid.  Ek bely voor God dat ek tog telleur gesteld is dat Hy nie sommer dadelik vir Carla gesond gemaak het nie.  Net daarna praat ek met die noodeenheid oor ‘n nuwe pasiënt en ek hoor dat Carla nou oppad na ‘n ander hospitaal is vir ECMO behandeling.  Ek bid vir God en vra…Vandag bel haar pappa my om vir my te vertel van die wonderwerk.  Die pediater wat Maandagoggend vir Carla kom sien het,  was baie pessimisties en voel dat hy niks verder kon doen nie.  Hulle moet dalk ECMO probeer en haar na Chris Barnard Hospitaal oorplaas.  Hy dink egter nie dat sy die ambulansrit sal oorleef nie aangesien sy net-net aan die lewe gehou word deur baie gespesialiseerde ventilators en gasse.  Haar ouma kry Nehemia 2:7 as bevestiging dat hulle moet gaan.  In die ambulans gaan dit egter baie goed.  By Chis Barnard Hospitaal wag twee spesialiste vir haar, reg om haar bloed uitwendig te sirkuleer en suurstof so in haar lyfie te kry.  Sy lyk egter soveel beter dat hulle nie dink dat ECMO die regte opsie is nie.  Na twee ure van evaluasie vind hulle dat die buisie in haar lugpyp half verstop is.  Dit word vervang met ‘n nuwe, ietwat groter een en vog word van haar longe en buik gedreineer en siedaar, klein Carla is op gewone ventilasie en buite gevaar.  Dalk is die engele wat ek van God gebid het nie heeltemal wat ek in gedagte gehad het nie.  Ek reël beslis ‘n braai tot eer van God sodra Carla uit die hospitaal kom!

Op 18 Desember SMS Carla se pappa vir my ‘n foto:

‘n Klein wonderwerkie in lewende lywe.  Baba Carla is vandag wawyd wakker.  Sy steek net armpies uit om opgetel te word en wys na prentjies teen muur.  Pappa sê sy speel met mamma se selfoon.  Ai, dit glimlag hier diep binne in my.  Ek weet nie of my hart ore het nie, maar dan seker van atrium tot atrium!  Nie net oor klein Carla nie, maar oor ons Groot God – Maandag oggend wil almal net huil en moed opgee en nou wag ons net dat sy huis toe gaan.  Die ou duiwel gooi seker nou al sy toys uit die kot uit.

Op 20 Desember die volgende:

Vanoggend is Carla geëkstubeer en die ventilator ontkoppel, kon sy weer self die vars God-gegewe lug in haarlongetjies insuig.  Hoe verskillend is hierdie Sondag middag nou?  Verligting, vreugde, dankbaarheid en ‘n nuwe besef van genade het al die kommer en hartseer vervang.  ‘n Dogtertjie wat nog ‘n bietjie moet sterk raak voor sy kan huis toe gaan, maar wat andersins heeltemal normaal is – of dalk nie?  Hoe normaal is enigeen as Die Heilige God jou self aangeraak het? Nee nooit weer sal sy normaal wees nie, sy is “Supernatural

Op 24 Desember word sy uit die hospitaal ontslaan en sk skryf op die 27ste:

Amper soos op Ou-Kersdag toe ek ‘n SMS van Carla se Pa kry dat hulle oppad huis toe is – met Carla agter in die kar.  Hoe fantasties was dit nie dat hierdie klein wonderwerkie weer huis-kind i.p.v. hospitaal-kind kan wees! Nog ‘n groot persent vir my, toegedraai tussen die SMS-letters. 

Kyk ook onder The God Network van hoe al die mesne inmekaar geskakel het om God se plan tot werking te bring.

Ek kan as dokter getuig dat klein Carla dit sekerlik nie sou oorleef as ons net ons menslike kennis gehad het om op te steun nie.


3 Responses to “Carla se storie”

  1. Hallelujah,dis so great om te weet dat Jahwe steeds groot wonderwerke verrig.Ettienne ,dankie vir die lekker fellowship Woensdagoggend by my vrou se bed in Panorama hospitaal.So lekker om as geneeshere in God se diens so openlik te kan gesels oor hoe groot ons God is.Sal graag meer betrokke wil raak by jou bediening.God le dit op my hart om ‘n netwerk te stig innie Kaap van dokters wat hul werksplek omskep in ‘n Kannaan,”n Jerusalem.Plek van wonderwerke. Ons moet saamstaan,die aanslag en strategie van satan in die mediese wereld is intens,as individu gaan ons pak slae kry.Ons moet ‘n weermag vorm,mekaar ondersteun en inspireer in gebed en getuienis.
    Gseende naweek.
    Shalom,Dante Wessels.

    • Dante, dankie vir jou bydra en dankie vir jou gehoorsaamheid. Ek het jou epos adres gesoek sodat ons ‘n geleetheid om bymekaar te kom kan reël. Ja, dit is heerlik om openlik met mede-Christene te praat en te hoor hoe God elkeen oprig. Ek kontak jou binnekort per epos. Ettienne

  2. […] die skakels in die netwerk van mense wat daartoe gelei het dat ek vir klein Carla gaan bid het.  (Lees die hele storie hier).  Tot nou toe het ek haar een keer ontmoet toe ons die dank en lofprys-aand gehou het na Carla se […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: