Charnè se storie

Charnè se storie het my net weer laat besef hoe maklik die vyand ons wil-  en kan besteel maar hoe God se Engele reg staan om te help en ons te beskerm.  Ek het op 7 Februarie die eerste keer oor dit geskryf onder “Uit die perd se bek”  ek haal dit grootliks hier aan:

Verlede naweek het begin soos enige ander naweek vir meeste eerstejaar studente – met groot planne van sorgelose kuier en avontuur.  Charnè is amper 19 en tik opgewonde op haar Facebook wall dat sy saam met vriende plaas toe gaan, min wetende van die duiwel se planne vir haar lewe.  Saterdag gaan sy perdry saam met haar vriend en toe gebeur dit…  Terwyl sy versigtig onderdeur ‘n oorhangende draad ry, spring die perd oor iets en die draad vang haar oor haar nek.  In hierdie splitsekonde word haar hele lewe en voortbestaan verander, want sien, die draad ruk haar lugpyp los van haar larinks (waar die adamsappel sit).

Nou wanneer die lugpyp toegedruk of afgeruk word en ‘n persoon kan nie meer asemhaal nie, dan versmoor hy/sy gewoonlik binne ‘n paar minute en tensy kundige hulp dadelik naby is, sal so iemand doodgaan nog voor daar eers gedink kan word aan Ambulanse.  So gebeur wonderwerk nr 1; Charnè val van die perd af.  Daar is geen snye of wonde aan haar nie, maar sy is baie angstig en kan nie praat nie.  Haar tekkie sit nog in die perd se stibeul vas maar genadiglik het haar voet uit die tekkie geglip en is sy nie agterna gesleep nie.  Die jong man by haar weet dadelik hier is moeilikheid en dra haar tot by sy kar en jaag na die hospitaal ongeveer 7km verder in Paarl.  Charnè bly angstig, maar byt vas.  Sy loop nog self by die noodeenheid in waar sy neersak op die vloer…

Die dokter aan diens is dadelik daar en besef dat sy nie kan asemhaal nie en probeer ‘n endotracheale buis (ET-buis, asemhalingsbuis) deur haar mond tot in die lugpyp sit en so word enige dokter se grootste vrees waar want sien die lugpyp is nou heeltemal gediskonnekteer van die keel en daar is geen manier dat iemand haar geïntubeer sal kry nie.  Hulle kry ook geen suurstof in haar longe in nie.  Dadelik word ‘n Oor- Neus en Keel spesialis ingeroep (wat lekker naby die hospitaal is).  Haar hart gaan staan en alles word probeer om dit weer aan die gang te kry.  Intussen word sy teater toe gestoot en daar probeer die ONK-dokter die situasie red.  Hy sny haar keel oop en soek die lugpyp – aanvanklik moeilik om te kry maar gelukkig (of is dit nou weer genade) kry hy dit beet waar dit afgetrek het tot in haar borskas.  Hy trek dit op en plaas ‘n asemhalingsbuis (ET-buis)  daarin.  Intussen het haar hart nou al twee  of drie keer gaan staan. 

Lewensnoodsaaklike suurstof word na haar longe gepomp en vir die eerste keer in wie-weet-hoe-lank, kom daar weer suurstof by haar brein uit, maar is dit te laat?!  Haar hart begin weer klop, haar bloeddruk en pols stabiliseer stadig en op ‘n ventilator bly haar suurstof voorsienning goed.  Die ET-buis word deur die sny in haar nek na buite gebring en vasgewerk sodat dit nie uitval nie.  Haar lewe is gered, maar die skade is nog alles daar en dalk nog meer vanwee die lang tyd sonder suurstof.

Die hartchirurg by Panorama word geskakel omdat hulle bang is dat die lugpyp nou in die borskas sit en dat daar waarskynlik ‘n stuk daarvan verwoes is deur die hou op haar keel.  Hy skakel vir my op my af naweek omdat ek al hierdie snaakse nek en skildklierkankers opereer.  Sy word oorgeplaas en ek reël ‘n skandering van haar nek om te sien wat nog alles beskakig is, goed soos slagare na die brein, nekwerwels en slukderm.  Gelukkig is haar nek nie gebreek nie en die slagare is normaal.  So word die operasie beplan om alles weer te probeer herstel.  Sy is aan die slaap gehou deur die hele tyd en weet genadiglik van niks. 

Haar ouers moes 8-ure lank deur jaag na hulle dogter wat, na alle aanduideing, dit dalk sou oorleef nie.  Ek kan my net die angs, hartseer en frustrasie voorstel wat hulle moes ervaar oppad Kaap toe.  In 1999 het my dogter in die swembad geval en basies verdrink.  Gelukkig was ek daar om haar te resussiteer en sy het oorleef.  Ek onthou nog goed die magtelose en vreesbevange gevoel van nie weet of sy gaan sterf of lewe nie.  Ek vertel dalk nog eendag die hele storie hier…  Charnè se ouers was daar Sondagoggend voor ek haar teater toe moes neem.  Ek kon mooi aan hulle verduidelik wat ek beplan en ook saam bid dat Jesus, wat haar reeds gered het uit die kake van die dood, haar volledig sal genees.

Tydens die drie-uur operasie sou ons vind dat die lugpyp nie vergruis was nie (Wonderwerk nr2).  Dit is van die adamsappel losgeruk.  Ek kon dit weer in posisie herstel en ‘n tracheostomie doen.  Al wat nie herstel kon word nie, was die senuwee wat aan beide kante van die lugpyp oploop en na die stembande gaan.  Beide van hulle was ook in die ongeluk afgeruk.  Dit sou beteken dat beide haar stembande verlam sou wees en dat sy gevolglik nie sal kan praat en waarskynlik normaal kan asemhaal nie.

Maandag het ons haar begin wakker maak.  Sy het vinnig wakker geword en het geen tekens van breinskake oorgehou nie (Wonderwerk nr3).  Teen Dinsdag kon ek vir haar verduidelik persies wat gebeur het en wat om te verwag.  Sy is so ‘n borrelende en vriendelike persoon.  Elke dag as ek in die ICU instap glimlag sy en groet entosiasties.  Tot vanoggend toe het die tracheostomie buis wat ek ingelaat het, nie toegelaat dat lug na bo, deur die stembande vloei nie.  Sy kon dus nie eens fluister nie en moes maar lippetaal praat en skryf.  Vanoggend het ek egter die ou buisie uitgehaal en een ingeplaas met ‘n opening na bo sodat lug deur die tracheostomie ingeasem kan word, maar na bo, deur die stembande uitgeasem kan word.  Die kyk op haar gesig toe sy besef dat die lug nou weer deur haar mond uitkom, en nog meer, die trane in haar oë toe sy fluister-sê: “Ek kan praat!” Ek kon nie help om haar styf vas te hou en met eie trane saam met haar te bid: “Dankie Liewe Jesus, vir hierdie pragtige kind en dat U haar so lief het!”  Dit maak my werk oor en oor die moeite werd!

Ek vra en glo dat Die Almagtige God wat hemel en aarde met die spreek van ‘n Woord gemaak het, vir haar ‘n nuwe stem sal gee.  Ek hoor dat Hy vir haar sê in Hooglied 2:13-14; ” Die voorvye kom al uit, die wingerde bot en versprei hulle geur. Staan op, my liefling, my mooiste, kom na my toe! My duif in die klipskeure, in die skuilplek teen die krans, wys my jou gesig, laat hoor my jou stem. Jou stem is strelend, jou gesig lieflik.’”

Op 10 Februarie skryf ek weer:

Net ‘n kort opvolg oor Charnè waaroor ek ‘n paar dae terug geskryf het onder Uit die perd se bek;  Ek het Sondag haar tracheostomie buisie vervang met ‘n spraakbuisie sodat sy kon begin praat.  Ek het ook vertel van haar eerste fluister woorde in ‘n week.  Nou is dit 3 dae later…

Maandag oggend toe ek by haar is, kom daar so dan en wan ‘n stemmetjie deur die fluister en teen Dinsdag is daar nie meer enige fluisterstem oor nie maar net ‘n Engelstemmetjie.  Wel ‘n bietjie hees (die Engelse sal praat van Husky) maar dan is daar nog ‘n klomp irritasie en goed in haar lugpyp.  Dit wil selfs vir my voorkom asof ons dalk die Tracheostomie buisie sal kan uithaal en haar daarsonder huistoe stuur.  Wat ‘n wonderlike getuienis sal dit wees en van ‘n mediese perspektief, ‘n Wonderwerk!

Op die 17de skryf ek, 

Ek het voorheen vertel hoedat Charnè haar eerste woorde gespreek het en dat sy selfs ‘n stem het.  Teen die Woensdag besluit ek om te toets of sy sonder haar trachi-buis kan asemhaal.  Nou moet ek dalk eers iets verduidelik;

As beide stembande verlam is, dan gaan lê hulle naby mekaar, tot so ‘n mate dat daar min lug tussen hulle kan deurbeweeg.  As daar dan nog ‘n klein hoeveelheid swelling bykom, is hulle sommer gou heetemal toe.  So ‘n pasiënt is gewoonlik baie angstig en haal hygend asem.  Met die uitasem is daar ‘n positiewe druk vanuit die borskas was die lug verby forseer maar met die inasem in daar ‘n negatiewe druk wat die lug dan deur die stembande moet insuig en dit is juis hier dat die pasiënte ‘n groot probleem het – lug wil nie in nie.

Ek verduidelik alles aan haar en druk die buis se opening toe.  Bo alle verwagting, vloei lug redelik maklik deur die stembande na binne.  Dit was ‘n wonderlike verligting.  Dit sou ‘n massiewe verskil maak as sy sonder hierdie buis kon huis toe gaan.  Ons besluit  Donderdag oggend vroeg om die buisie uit te haal en die opening in haar nek toe te plak.  Sy lyk ‘n bietjie bekommerd oor die gedagte maar byt vas.  Alles lyk goed.  Na ‘n uur sê sy dat sy ‘n bietjie benoud voel as sy stap maar sal nog uithou en kyk.  Teendie middag gaan loer ek met ‘n kamera na haar stembande en ook na die lugpyp van binne.  Daar is nog heelwat kneusing van die stembande en keel en die area waar die lugpyp herstel is, is ook nog 30% vernou weens swelling maar sy haal asem en praat met ‘n stem en sy voel al minder angstig.

So word ons wondermeisie Donderdag laat-middag ontslaan saam met haar ma.  Oor die naweek loop sy die winkels plat en kuier saam met haar ma oral roend.  Maandag sien ek haar en haar glimlag helder sommer my dag op.  As ek net ‘n bietjie van daardie borrelende vriendelikheid kan opvang en bottel, sal ek darem ‘n klomp dikbek tieners kan gesond maak!  Die opening in haar nek is amper toe, se praat en haal asem en spring amper uit haar vel toe ek sê sy kan maar ‘n bietjie plaas toe gaan.

Intussen was sy ses weke op die plaas en dit het baie goed gegaan met haar.  Aanvanklik het ek verwag dat sy vir die volgende ses maande ‘n tracheostomie sal benodig, met ‘n hees fluisterstem praat en waarskynlik haar studies moet opgee.  Sy raak nou wel uit-asem as sy ‘n bietjie te woelig raak maar praat gemaklik en kan vir eers nou weer aangaan met haar studies.  Sy word steeds opgevolg en daar sal nog besluit moet word oor die moontlikheid van verdere prosedures, maar die feit dat sy vandag hier met ons is getuig van God se voorsiennendheid onder omstandighede waar dit medies onmoontlik was vir enigiemand om te oorleef. 

Ek Loof Sy Heilige Naam – Dankie Jesus!  Amen


5 Responses to “Charnè se storie”

  1. wow ettiene ek het sopas die storie van
    charne se wonderwerk gelees.
    Ek weet jy het hordes meer.
    Ek sal graag honderde Christene se stories wil versamel en moontlik ‘n boek publiseer om vir mense te wys dat God vandag steeds wonders doen.

    Tonne blessings
    Erich Posthumus
    (Norman & Professor vd Klomp van Radio Kansel).
    Tel 0834196262

    • Erich,
      Ek kry net nie tyd om al die stories hier op te sit nie. Die Here is wonderlik en dit wil my voorkom asof Hy al hoe meer sigbaar word. Alle seën vir jou.

  2. die here is so groot!!! dank hom nogsteeds elke dag wat ek gespaar is. ek is n wonderwerk wat getuig!

    • Charne, jy sal altyd ‘n spesiale pasiënt bly! Dit is die God wat ek dien wat so werk, wat so lief is vir mense, vir jou! Wees dan soos die verstandige man, wat Jesus na Jesus se woorde luister, en dit doen en so sy huis op ‘n Rots bou! Wees ‘n lewende, heilige offer vir Hom. Baie liefde vir jou hele familie

  3. MET TRANE IN MY OE PRYS EK DIE HERE VIR SY WONDER DADE. GOD IS NET GOED ! MY WOORDESKAT IS TE KLEIN OM HOM TE PRYS !! EK DANK DIE HERE VIR GELOWIGE DOKTERS > OM AL DIE LOF EN EER AAN ONS KONING EN GENEESHEER TE GEE. MAG DIE HERE U RYKLIK SEEN IN U WERK. !! EK VERTROU EN WAG OP DIE HERE VIR N VOLMAAKTE GENESING, VIR MY STEMBANDE. NA N NEKOPERASIE , DIT IS NOU SEWE WEKE IS MY STEM NOG HEES EN WORD EK SOMS BENOUD ASOF MY KEEL TOETREK . EK IS SO BLY EK HET OP HIERDIE GETUIENIS AFGEKOM, SPESIAAL VIR MY OM TE LEES EN MOED TE SKEP EN AAN TE HOU VERTROU. JESUS SE TYD . NIE MYNE NIE!! N NUWE STEM SE HOOGLIED 2: 13,14 EK SAL WAG !!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: